Salarisse hou doodeenvoudig nie op die oomblik tred met die wegholinflasiekoers nie.
As jy nou meer as R24 578 per maand voor aftrekkings verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris, blyk uit Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) vir die tweede kwartaal van 2022. Dit sluit bonusse en oortydbetalings in.
Die bedrag, vir Mei 2022, is net 4% meer as in Mei 2021, terwyl inflasie in Mei 6,5% beloop het en daarna tot selfs 7,8% in Julie opgeskiet het. Dit beteken die deursnee-salaristrekker se koopkrag was in Mei eintlik rofweg bereken 2,5% minder as 'n jaar gelede.
Die totale bedrag wat mediumgroot tot groot ondernemings in die formele sektor in Junie aan salarisse en lone betaal het, het met 4,5% of R474 miljoen gestyg vergeleke met die tweede kwartaal van 2021. Die bruto vergoeding van die 9 948 000 mense in dié sektor beloop nou R787 miljard.
Dis soos volg saamgestel:
- Basiese salarisse het met altesame 3,8% tot R717 miljard gestyg;
- Bonusse het met 14,3% tot R47 miljard gestyg; en
- Oortydbetalings het met 7,1% tot R23 miljard gestyg.
Die grootste styging in die totale vergoeding was in die handel, waar die bruto vergoeding aan alle werknemers, bonusse en oortyd ingesluit, met 7,6% gestyg het. Dié bedryf het 16 000 meer mense in die jaar in diens geneem.
Bruto vergoeding het net in een bedryf, nutsdienste, gedaal, met 1,2%, al het dié bedryf se aantal poste onveranderd gebly.


















