Die kommissaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is terug in sy pos.
Teboho Maruping is in 2020 geskors nadat die ouditeur-generaal (OG) onreëlmatighede in die uitbetaling van die tydelike werknemerverligtingsvoordele uit die Covid-19-hulpfonds (Ters) gevind het.
Maar ná uitgebreide ondersoeke deur die regering se spesiale ondersoekeenheid (SOE) is bevind dat Maruping nie op enige bedrieglike of korrupte manier voordeel uit die Ters getrek het nie, het Thobile Lamati, direkteur-generaal van arbeid, die naweek bekend gemaak.

Gevolglik sal hy toegelaat word om sy pligte as WVF-kommissaris op 1 Februarie te hervat, het Lamati aangekondig.
Lamati het wel toegegee dat Maruping in 'n tugverhoor skuldig bevind is daaraan dat onreëlmatige tenderprosedures gevolg is met die aanstelling van mediamaatskappye om die Ters te bemark. Hiervoor is hy op die vingers getik.
Lamati wei egter nie in sy verklaring uit oor wat die presiese gevolgebestuur teen Maruping was nie.
Die departement van arbeid het die aanbevelings van die OG en die SOE tot in die kleinste besonderhede uitgevoer nadat hy sy ondersoeke na die Ters-skema afgehandel het, het Lamati verseker.
Adv. Mzie Yawa, Marsha Bronkhorst en Teboho Thejane het tydens Maruping se skorsing as kommissarisse van die WVF waargeneem. Maruping se terugkeer bring nodige leierskapstabiliteit na die fonds, het Lamati gesê.
Die WVF het bykans R1 miljard se Ters-voordele aan mense uitbetaal wat nie daarop geregtig was nie, het die OG in September 2020 bevind. Dit sluit dooies, minderjariges en mense in die tronk in, asook mense wat reeds ander toelaes van die staat ontvang. Miljoene rande aan Ters-voordele is ook aan sowat 6 000 staatsamptenare betaal. Dít terwyl die voordele bedoel was vir mense in die private sektor wat hul werk verloor het, of geen of verlaagde salarisse ontvang het.


















