Geldsake

Hoër BTW: Hoe seer sal dit jou maak?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Inkopies sal outomaties duurder word as BTW verhoog word. Menings verskil in watter mate dit die ekonomie gaan knou, maar die tesourie se syfers wys dat dit in een jaar R60 miljard uit verbruikers se sakke kan neem. Foto: Unsplash
Inkopies sal outomaties duurder word as BTW verhoog word. Menings verskil in watter mate dit die ekonomie gaan knou, maar die tesourie se syfers wys dat dit in een jaar R60 miljard uit verbruikers se sakke kan neem. Foto: Unsplash

"Dis net R2 meer vir elke R100 wat jy bestee, waaroor die bohaai?"

Dalk is daar êrens in Tamboerskloof of Waterkloof iemand wat so lakonies gereageer het op die voorstel dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) van 15% tot 17% verhoog word.

Vir die meeste salaristrekkers vloei daar egter te veel maande meer geld uit as in. Die tesourie se voorstel - wat nou vir eers op ys is - was daarom 'n groot skok.

Die regering van nasionale eenheid beding nou oor die begroting wat Woensdag ter elfder ure geskrap is, en Suid-Afrikaners sal op 12 Maart hoor of BTW wel verhoog gaan word.

LEES OOK | 10 maniere hoe die begroting jou sak sóú geraak het

Hoe sou die BTW-verhoging jou sak raak?

'n Rand of twee hier, nog R10 daar, en siedaar! Jy is sommer vinnig armer:

• As jou gesin se basiese kosrekening op die oomblik R10 000 is, en die helfte daarvan is produkte waarop geen BTW betaal word nie (soos groente, vrugte, brood en eiers), sal jou kosrekening verhoog tot R10 087, vir dieselfde hoeveelheid produkte.

• As munisipale dienste soos water, riolering en vullisverwydering op die oomblik R800 is, verhoog dit tot R814.

• As jy betaaldag pizzas vir die gesin bestel het wat nou sowat R300 kos, gaan jy R306 daarvoor opdok.

• 'n Nuwe uitrusting van R500 gaan oornag tot R509 styg.

• Toiletware van R400 sal skielik R407 kos.

• Iemand wat vandag 'n nuwe Volkswagen Polo Vivo-intreemodel koop, sal R271 900 daarvoor betaal. Indien BTW verhoog word, skiet dit met R4 729 tot R276 629 op, vir 'n kontantkopie. Indien jy die motor oor ses jaar teen 'n rentekoers van 10% finansier, betaal jy altesame R6 307 meer daarvoor weens die hoër BTW.

Die totale bedrag wat huishoudings meer opdok, sal dalk teengewerk word deur 'n rentekoersverlaging van 25 basispunte in hul huis- of motorverband. Ekonome vrees egter dat die hoër BTW juis inflasie gaan aanwakker en kan meebring dat rentekoersverlagings vir eers van die baan is, of dat die rentekoers selfs verhoog sal moet word.

Wat verdien die regering uit BTW?

Die regering het in die 2024-boekjaar (tot einde Maart 2024) byna R448 miljard uit BTW verdien en voorsien die bedrag vir die jaar tot einde Maart 2025 gaan byna R460 miljard wees.

BTW is die belasting wat die tweede meeste inkomste vir die staat inbring. Dit verteenwoordig byna 25% van die totale belastinginkomste uit alle bronne. Persoonlike inkomstebelasting verteenwoordig 40%, oftewel meer as R734 miljard vir die boekjaar wat einde Maart eindig.

Hoeveel meer KAN verdien word met die hoër BTW?

Die styging in BTW, tesame met die verwagte groei in verbruikersbesteding, sou meebring dat BTW in die 2026-boekjaar met 12,7% opskiet tot R579 miljard.

Volgens die tesourie is R60 miljard van dié styging van sowat R85 miljard toeskryfbaar aan die verhoging in BTW; die res is net normale groei in besteding en dus in BTW.

Wat wou die regering met die hoër BTW finansier?

In sy begrotingsrede sou Enoch Godongwana, minister van finansies, gesê het BTW word verhoog om die volgende te finansier:

• die 5,5%-verhoging van staatsamptenare se salarisse;

• die uitbreiding van programme vir vroeëkindontwikkeling;

• "om die onderwysers, dokters en noodsaaklike voorsteliniewerkers te behou wat ons gemeenskappe dien";

• om die passasierspoorstelsel op te knap "om werkersklasgesinne beter te bedien"; en

• om staatstoelaes met meer as die inflasiekoers te verhoog.

Wie tref die BTW-verhoging die swaarste?

BTW raak almal. Hoe meer geld mense het om te bestee, hoe meer BTW betaal hulle, wat beteken in rand en sent betaal welvarende Suid-Afrikaners baie meer BTW.

Altesame 76,5% van BTW word ingevorder deur die besteding van die middel- en hoërinkomstegroepe, met die hoogste inkomstegroep op Statistieke Suid-Afrika se skaal wat 39,8% bydra.

Omdat rykes egter meer finansiële dienste soos aftreeprodukte, mediese fondse en ander duur uitgawes het waarop geen BTW gehef word nie, is die persentasie van hul inkomste wat aan BTW bestee word, bes moontlik laer.

Die begroting wou die impak van hoër BTW op arm gesinne versag deur toelaes met meer as inflasie te verhoog, inkomstebelastingverligting vir mense op die laagste belastingkerwe te gee, en meer kosprodukte van BTW vry te stel.

In die begrotingsoorsig spreek die tesourie die mening uit - waarmee sommige ekonome verskil - dat BTW 'n kleiner impak op ekonomiese groei en werkskepping sal hê as om ander belastings te verhoog.

"Om persoonlike inkomstebelasting te verhoog, gaan waarskynlik ondoeltreffend wees omdat belastingbetalers aanpassings doen om hul belastingaanspreeklikheid te verhoog. Dit sal ook die aansporing om te werk en te spaar verminder, met potensieel groter negatiewe uitwerkings op die ekonomie."

Verhogings in maatskappybelasting sal mededingendheid inperk en ook nie so baie inkomste as hoër BTW invorder nie, sê die tesourie. Suid-Afrika het reeds die 13de hoogste maatskappybelasting as persentasie van bruto binnelandse produk van 123 lande. Maatskappybelasting is boonop meer wisselvallig.

BTW is die moeilikste om te ontduik. Dis moontlik 'n groot voordeel van die BTW-verhoging. Eienaars van ondernemings wat kontant ontvang en dalk nie alle inkomste aan Jan Taks verklaar nie, moet nietemin steeds kos en klere koop en betaal dus darem BTW. Dis terloops ook 'n goeie motivering vir 'n hoër brandstofheffing, wat nié in die verwerpte begroting ingesluit is nie.

Waarop betaal jy BTW?

Die meeste goedere en dienste is onderhewig aan BTW by die betaalpunt.

Waarop betaal jy nié BTW nie?

Tegnies word onderskei tussen produkte en dienste waarop geen BTW gehef word nie en dié wat 'n BTW-koers van 0% het. Die effek vir verbruikers is dieselfde, maar daar word steeds BTW in die produksieproses gehef op die 0%-tarief-items.

BTW word onder meer nie gehef op die volgende dienste nie:

• Skool- en klasgeld;

• Bankkoste, versekering, rente op lenings en sekere ander finansiële dienste. BTW is wel betaalbaar op finansiële dienste wat teen 'n tarief of vir 'n kommissie verskaf word;

• Huur; en

• Openbare vervoer (treine en busse).

BTW van 0% by die verkoopspunt word op die volgende produkte gehef:

• Paraffien, petrol en diesel;

• Plaasinsetkoste soos dierevoer, dieremedisyne, plaagdoder, kunsmis, plante en sade;

• Sekere basiese medisyne en mediese voorraad;

• Bruinbrood;

• Mieliemeel;

• Koek- en broodmeel;

• Stampmielies;

• Rys;

• Mielierys;

• Droë bone;

• Droë mielies;

• Lensies en ander peule;

• Groente (maar nie opgesnyde produkte nie);

• Vrugte (ook nie opgesnyde produkte nie);

• Geblikte sardyne;

• Melk;

• Aangesuurde melk;

• Melkpoeier en suiwelpoeiermengsels;

• Kookolie;

• Eiers; en

• Sanitêre doekies.

Baie kosprodukte, soos melk, eiers, groente, vrugte, meel en bone, word reeds teen 0% BTW belas. Daar word gehoop dat dit na vleis ook uitgebrei sal word. Grafika: iStock
Baie kosprodukte, soos melk, eiers, groente, vrugte, meel en bone, word reeds teen 0% BTW belas. Daar word gehoop dat dit na vleis ook uitgebrei sal word. Grafika: iStock

Hoe sou die lys BTW-vrye produkte uitgebrei word?

Die begrotingsoorsig verwys daarna dat sekere produkte wat veral armes koop, bygevoeg sal word by die lys produkte waarop 0% BTW gehef word. Dit sluit in:

• Afval van skaap, hoender, bokke, varke en hoefdiere;

• Spesifieke snitte vleis, soos koppe, pote, bene en tong;

• Suiwelvloeistofmengsels; en

• Geblikte en gebottelde groente.

Daar word geraam dat die regering R2 000 miljard BTW sal prysgee as die bykomende produkte op 0% belas word.

Kenners meen die kans bestaan dat dié vrystellings steeds ingestel sal word.

Daar is alom gehoop dat hoender van BTW vrygestel sou word, maar omdat alle inkomstegroepe hoender eet, sou dit nie 'n verligting net vir arm gesinne wees nie.

Is BTW-vrystellings doeltreffend?

In die begrotingsoorsig sê die tesourie om produkte vry te stel, is 'n "stomp stuk gereedskap om laerinkomste-huishoudings by te staan aangesien daar geen waarborg is dat pryse sal daal nie".

Prof. Julian May, hoof van die sentrum vir uitnemendheid in voedselsekerheid aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wys daarop dat die hoër BTW-koers alle kosprodukte raak, selfs dié waarop verbruikers nie BTW betaal nie. Dis omdat BTW ook op die vlak van produksie, vervoer en groothandel bygevoeg word.

Hy sê BTW wat op 'n glyskaal toegepas word, sal meer billik wees as 'n algemene BTW-verhoging. Luukse goedere en nienoodsaaklike goedere kan byvoorbeeld teen 'n hoër koers belas word.

Wat is die BTW of algemene verkoopsbelasting in ander lande?

Die laagste BTW-koers ter wêreld is in Andorra, op 4,5% en die hoogste in Hongarye op 27%.

Europese lande het redelik hoë koerse, met Kroasië, Denemarke en Swede byvoorbeeld almal op 25% en Brittanje op 20%, luidens die organisasie Tax Foundation.

In Afrika hef Marokko en Madagaskar die hoogste BTW op goedere teen 20%.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM