Die sportkommentator en nou ook sakeman Jody Hendricks onthou hoe 'n gawe toesighouer haar twee dekades gelede oor hom ontferm het toe hy by 'n groot kettingwinkel se bakkery begin werk het.
Die salaris van R7,20 per uur was maar skraps, maar dit het hom waardevolle lesse geleer. Dieselfde geld sy suster Nina, wat in haar eerste werk as 'n rakpakker begin het.
As Jody terugdink aan auntie Sophie, wat hom destyds geleer het om die bakkery behoorlik skoon te maak, deeg te knie en altyd betyds te wees vir werk, besef hy hoe belangrik dit is om jong mense sonder werkondervinding touwys te maak oor selfs die mees basiese dinge.
Dít is presies wat hy en Nina doen in hul winkels. Die sibbe het die laaste paar jaar reeds vyf winkels geopen, waaronder die geriefswinkel Studio Market in Johannesburg en Smoker's Market in die Strand.
Studio Market, oorkant 44 on Stanley in Johannesburg, het in 2021 geopen. Dis ideaal geleë vir studente van Wits, die Universiteit van Johannesburg en Afda wat voorheen 'n paar straatblokke ver moes loop om by 'n supermark te kom. Jody het in die omgewing gebly en wou nie elke keer laat in die aand ver stap vir brood of melk nie. Toe een van die ruimtes in die sentrum oopgaan, het hy en Nina die geriefswinkel geopen.
Die winkel is daagliks van 08:00 tot 21:00 oop en neem jong mense in diens wat skofte werk soos dit hulle pas. Nina, met 'n kwalifikasie in besigheidstudies en 15 jaar ondervinding in die kleinhandelsektor, is die bedryfsbestuurder. Sy sê van die werkers moet leer vloere was en om die winkels skoon en netjies te hou.
"Jy wil nie iets in 'n vuil of deurmekaar winkel koop nie, so ons klante wil ook nie," sê sy.
Volgens Jody moes hy een van die jong werkers selfs leer om 'n mop vas te hou. Die werkers leer ook hoe belangrik dit is om netjies te lyk en daarom dra almal dieselfde T-hemde met hul naam daarop.
"Jy kan mos nie by die werk opdaag en klante bedien as jou broek op jou knieë hang nie," sê Jody.
Van die jongelinge is so onervare dat hulle eers 10:00 laat weet het hulle is siek en nie kan werk nie.

Nina leer die werkers ook om die rakke te pak, watter produkte waar kom, hoe om te weet wanneer om die produkte te bestel en om die kasregister te werk.
Zachary Vywers (26), oorspronklik van die Strand, het tydens Covid-19 sy werk verloor. Hy het in Studio Market begin help en leer elke dag meer oor die kleinhandelsektor.
"Ek geniet my werk, die interaksie met mense is lekker en ek leer van voorraadbeheer en om die kasregister te balanseer aan die einde van die dag.
"Jy weet sommer uit die manier waarop mense inloop of hulle moeilik of gelukkige klante gaan wees. Ek is altyd vriendelik en groet."
Vywers sê hy weet nou die winkel raak besig van die 15de van die maand, hy weet ook dat hulle maklik 70 brode per dag verkoop, watter aartappelskyfies die vinnigste verkoop en dat Red Bull blykbaar onontbeerlik is vir studente. Met 'n gimnasium in die gebou is dit ook saans baie besig as mense klaar geoefen het en dan moet die rakke nie leeg wees nie.
Ons het 'n maatskaplike plig in die land.
Dit is lekker om te sien 'n student wat nog altyd afhanklik was van sy enkel-ma se klein verdienste kan nou met sy eie geld vir sy ma 'n geskenk vir Kersfees en Moedersdag koop, sê Jody.
Nina sê soms voel sy soos 'n polisieman, 'n onderwyser en 'n sielkundige.
"Maar ons wil jong mense se kennis oor die werkplek en -etiek en selfvertroue opbou.
"Kleinhandel is nie maklik nie, maar dis vir enigeen wat bereid is om te leer."
Jody beaam dit. "Soms is dit stresvol om met mense te werk wat geen werkondervinding het nie. Maar ons wil 'n paar kinders help as ons kan.
"Ons het 'n maatskaplike plig in die land en weet hoe baie dit vir ons beteken het dat iemand ons gehelp het."
Suid-Afrika se werkloosheidskoers staan op 32,9% en van die meer as 10 miljoen mense tussen 15 en 24 jaar is meer as 35% nie op skool, in opleiding of in die werkplek nie.





















