Kleinsake

Sonkrag vir kleinsake: Wat jy moet weet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kleinsakeondernemings moet die somme maak om te besluit of hulle ’n sonkragstelsel moet huur of koop, maar dit raak ononderhandelbaar om in alternatiewe energie te belê, sê Business Partners.
Kleinsakeondernemings moet die somme maak om te besluit of hulle ’n sonkragstelsel moet huur of koop, maar dit raak ononderhandelbaar om in alternatiewe energie te belê, sê Business Partners.

Beurtkrag lyk asof dit vir 'n slag effe wegbly, maar die sakefinansieringsfirma Business Partners waarsku kleinsakeondernemings moenie té gerus raak nie.

Skielike kouer weer kan die kragnetwerk weer onder druk plaas namate mense en ondernemings meer krag gebruik.

René Botha, streekbeleggingsbestuurder by Business Partners, sê dit het ononderhandelbaar geword vir kleinsakeondernemings om in rugsteunkrag of enige ander alternatiewe kragbron soos sonkrag te belê.

In baie gevalle is sonkrag die mees lewensvatbare opsie vir kleinsake, sê Botha.

Al is die regering se belastingaansporing vir sonkrag nie meer beskikbaar nie, is die vooruitsig om meer krag-onafhanklik te word een van die grootste voordele van sonkrag, sê sy.

Met minder afhanklikheid van die nasionale kragnetwerk is kleinsakeondernemings meer in beheer van hul energievoorraad. Dit verminder hul kwesbaarheid vir wisselvallighede op die netwerk en lewer op die lange duur finansiële voordeel.

Om meer onafhanklik te word wat kragvoorsiening betref, maak kleinsakeondernemings meer bestand en veerkragtig teen die impak van klimaatsverandering. Die gebruik van sonkrag help ondernemings boonop om hul koolstofvoetspoor te verklein en om tot die omgewingsvolhoubaarheid van hul bedrywighede by te dra.

Botha beveel aan dat ondernemings eers 'n deeglike raming van hul energiebehoeftes doen voordat hulle sonkrag aanskaf, soos hoeveel elektrisiteit hulle werklik nodig het om bedrywighede optimaal te bedryf, asook watter tye van die dag hul kragvraag die hoogste is.

Gekwalifiseerde installeerder

Daarna moet ondernemings seker maak die installeerder waarop hulle besluit, is gekwalifiseerd en in staat om die sonkragtegnologie by hul bestaande infrastruktuur te integreer sonder te veel ontwrigting.

Dis nie aan te beveel om 'n goedkoper diensverskaffer te kry wat kortpaaie vat nie. 'n Sonkragtegnikus wat behoorlik gekwalifiseer is en wat betroubaar bewys is, kan die risiko verlaag dat foutiewe sonpanele geïnstalleer word en sal verseker dat die installasie aan al die relevante regulatoriese en tegniese standaarde voldoen.

Versekering

Ondernemings moet ook by hul versekeraar uitvind hoe die installering van 'n sonkragstelsel hul versekeringspremie kan raak, en wat hul verantwoordelikhede is om die stelsel te monitor en in stand te hou om onnodige verliese en eise te voorkom.

Koop of huur

Die keuse tussen om 'n sonkragstelsel te huur of te koop hang af van hoeveel kapitaal beskikbaar is en hoe eienaarskap kontantvloei kan raak. Die voor- en nadele moet versigtig opgeweeg word deur die korttermyn- en langtermyn-aspekte in ag te neem.

Die huur van 'n stelsel kan groot kapitaalbesteding vermy en kostebesparings kan onmiddellik geniet word. Dit behels vaste maandelikse betalings wat begrotingsprosesse en finansiële beplanning kan vergemaklik. Dit is dan 'n voorspelbare uitgawe wat jou energiekoste kan help stabiliseer en onaangename verrassings van wisselvallige kragrekeninge kan help vermy.

Botha wys daarop dat die huur van 'n stelsel ook beteken die kleinsake-eienaar hoef nie sy kop te breek oor instandhouding, herstelwerk of die versekeringskoste van die stelsel nie. In die meeste gevalle sal die sonkragverhuurder verantwoordelikheid neem vir die prestasie van die stelsel en instandhouding, wat die administratiewe las verminder.

Om die sonkragstelsel te besit lewer egter oor die leeftyd van die stelsel wel 'n stewige opbrengs. Die besparing op kragrekeninge en die potensiële inkomste uit die verkoop van oortollige elektrisiteit aan die netwerk waar dit moontlik is, kan help om die aanvanklike kapitaalkoste te verhaal en bykomende inkomste vir die onderneming te genereer, sê Botha.

CTA