Finansiering om wynbedryf te help gou beskikbaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Europese Unie se Wyn-en-spiritualieëfonds gaan die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n hupstoot gee met finansiering van sowat R300 miljoen.

South Africa Wine verwelkom hierdie aankondiging in 'n verklaring.

Die organisasie sê "die finansiering van €15 miljoen sal help om inklusiewe groei te bevorder, nuwe sakegeleenthede te ontsluit en die ontwikkeling van swart-besit-handelsmerke, plase, onderrig en ondernemings oor die wyn-en-spiritualieë (druif-gebaseerd, soos brandewyn)-waardeketting heen te steun".

Volgens hulle sal die geld gebruik word om billike toegang tot grond en voldoende infrastruktuur in die wyn-en-spiritualieë-sektor te bevorder; vir onderrig, opleiding en kapasiteitsontwikkeling van plaaswerkers, swart boere, swart-besit-handelsmerke en ander begunstigdes in die sektor soos vroue en jeugdiges; om sosio-ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede in die wynbedryf soos werkerswelstand, behuising, en geslagsdoelwitte te hanteer; en vir beter voldoening aan maatskaplike volhoubaarheidstandaarde.

Hierdie skenking sal bestuur word deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in vennootskap met die Landbank (€10 miljoen) en die Nasionale Landboubemarkingsraad (NAMC).

Die Landbank sal verantwoordelik wees om oor ondernemingsontwikkelingsverwante finansiering toesig te hou, met NAMC wat die bemarking, vaardigheidsontwikkeling en etiese ondersteuning sal bestuur.

Meer inligting oor aansoeke vir finansiering sal luidens die verklaring binnekort beskikbaar wees.

SPELETJIES VANDAG

CTA