'n Groot mylpaal is onlangs bereik toe daar vir die eerste keer meer as 1 miljoen kartonhouers Flash Gala-appels in een seisoen uitgevoer is - slegs ses jaar nadat dié appel die internasionale mark betree het.
Luidens 'n verklaring van Tru-Cape is dit 'n merkwaardige hoogtepunt vir Flash Gala en sement dit die land se posisie as leier in appeluitvoer in die Suidelike Halfrond.
"Ons hanteer die grootste Flash Gala-oes in die geskiedenis, en dis ook die seisoen met die minste gehalteprobleme. Ons maak ongetwyfeld groot vordering met dié variëteit," sê Calla du Toit, verkrygingsbestuurder by Tru-Cape Fruit Marketing en voorsitter van die BigBucks-kwekersvereniging.
Só het die appel ontstaan
In 2011 het die tuinboukundige Buks Nel 'n belowende appelmutasie in die Corder Gala-boord by Oak Valley in die Elgin-vallei ontdek - die einste mutasie wat vandag as Flash Gala bekend staan.
"Ek het BigBucks Gala - Flash Gala se variëteitsnaam - op 18 Januarie 2011 gevind, om presies te wees. Die appel het reeds 'n helderrooi kleur gehad, al word Galas tipies in Februarie geoes," sê Nel.
"Destyds was daar 'n gaping in die mark vir volrooi Galas, en BigBucks Gala het dit perfek gevul."
Nel sê dat hy nog Hennie Venter (wat die taak gehad het om die variëteit vir planttelersregte te beskryf) se woorde aan hom onthou toe hy die appels sien: "Buks, ek dink jy het iets groots raakgeloop."
"Ek is nogal tevrede, om die minste te sê," sê Nel.
In 2017 is kommersiële boorde geplant en in 2019 het uitvoerproewe begin. Teen 2020 is aansienlike volumes na die buiteland verskeep.
"Suid-Afrikaanse appels trek voordeel uit ons sonnige klimaat, wat lei tot hoër suikervlakke en uitstekende geur.
"Flash Gala is 'n voorbeeld hiervan - briljante kleur en superieure eetgehalte," sê Du Toit.
Waarom is dit so gewild?
Louis du Toit, bemarkingsbestuurder van Dutoit Agri, glo Flash Gala se kleur sit hom in 'n ander klas en laat dit uitstaan - veral as dit in 'n kartonhouer pronk met die mooi rooi kleur.
JJ van der Spuy, kommersiële bestuurder van vrugte-uitvoer by Core Fruit, stem saam en sê ook dat die krakerigheid, raklewe en konsekwentheid van die appel dit ook laat uitstaan.
Tru-Cape se bemarking- en ontwikkelingsfondse is gebruik om in markontwikkeling te belê, veral in die Midde-Ooste, Viëtnam en Indië.
Dit het gehelp dat markte wat oor die appel getwyfel het ook ingekoop het.
"Chinese verbruikers verkies oor die algemeen gestreepte Gala-appels, maar met geteikende promosies het ons Yonghui Superstores oortuig om Flash Gala aan te bied. Dit was 'n deurbraak in die Chinese kleinhandelmark. Ons lok verbruikers met ons promosiebaniere en moedig hulle aan om 'n aptyt vir pragtige rooi appels te ontwikkel. Deur hulle 'n goeie ervaring te gee, sal hulle terugkeer vir meer," sê Van der Spuy.
Flash Gala is ook onlangs vir die eerste keer na Thailand uitgevoer en die bedryf glo daar is potensiaal vir groei in dié mark.
Tru-Cape sê dat daar ook belangstelling groei in die kweek van BigBucks Gala in lande soos Amerika, Australië en Indië.
















