Harde werk en aanpasbaarheid help

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto’s: VERSKAF
Foto’s: VERSKAF

As jy tyd in Francois Rossouw se geselskap deurbring, is dit duidelik waarom dié boer met sy kennis van en liefde vir die bedryf vanjaar se Jongboer van die Jaar-titel opgeraap het. Suzaan Potgieter het met hom gesels oor die boerdery en die wonderlike wêreld van tafeldruiwe. Op Mooigezicht word daar 18 verskillende pitlose-tafeldruif-kultivars verbou.

As die vierde generasie Rossouw op die Mooigezicht-landgoed in De Doorns in die Hexriviervallei dra Francois Rossouw (30) meer as een hoed as dit kom by sy daaglikse take op die plaas.

Dit is egter sy diepgewortelde toewyding aan volhoubare produksie, mense-ontwikkeling, en tegnologie-gedrewe bestuur wat volgens Agri Wes-Kaap hom onlangs die titel van Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2025 besorg het.

Op die plaas boer hulle op 400 ha met tafeldruiwe, verpak dit vir uitvoer en bemark selfs van die druiwe self. Dit is juis dié waardeketting wat die plaas so suksesvol maak en boonop 'n hele rits mense in diens neem.

"My oupagrootjie het in 1928 op die plaas begin boer. Daar was teen daardie tyd tafeldruiwe in die vallei, maar my oupa het meer aangeplant op die plaas en dit die primêre vertakking van die boerdery gemaak.

"Sy sukses strek terug na die tydperk toe die sanksies in plek was wat Suid-Afrika verhoed het om produkte uit te voer. Hy het in daai jare baie werk gedoen, gereis na Afrikalande soos die Demokratiese Republiek die Kongo, om konneksies op te bou en seker gemaak sy tafeldruiwe kry 'n mark. Hy was een van die grootste tafeldruifboere van sy tyd, maar het hard gewerk vir sy sukses," sê Rossouw.

Francois Rossouw en sy pa, Francois sr., op een van die boerdery se plase in die Hexriviervallei.
Francois Rossouw en sy pa, Francois sr., op een van die boerdery se plase in die Hexriviervallei.

Verpakking kardinaal in besigheid

Mooigezicht bestaan uit 10 plaaseenhede en Rossouw vertel dat elkeen sy eie pakstoor het. "In seisoentyd het ons 12 pakstore in totaal."

Met dié dat hulle self die druiwe vir uitvoer verpak, is daar baie werk wat gedoen moet word om die regte verpakking vir elke mark te hê.

"Ons het onder meer 112 verskillende pakmateriaal-items en 32 verskillende bokse, want ons wil waarde toevoeg deur middel van ons verpakking. Deur dit alles te hê, voldoen ons aan elke kliënt se behoeftes," sê hy.

Hul tafeldruiwe word uitgevoer na onder meer Europa, die Verenigde Koninkryk, Kanada, Noord-Amerika, die Verre Ooste en Suidoos-Asië.

Rossouw sê dat die pakmateriaal vir tafeldruiwe van die duurste en 'n groot uitgawe is, want hulle moet voldoen aan die streng vereistes vir supermarkte en die ope mark.

Span hou pot aan die kook

Rossouw het verskillende rolle op die plaas en as produksiebestuurder hanteer hy die dag-tot-dag van sowat die helfte van die produksie.

"Dit sluit in alles van besproeiing, monitering, spuitprogramme vir peste en siektes, grondontledings, grondgesondheid verseker, en natuurlik om nuwe kultivars te identifiseer en proewe te doen daarmee," sê hy.

Benewens Rossouw is daar ander lede van die familie wat werksaam is op die plaas. Sy pa, Francois, is die besturende direkteur en dan vervul twee van sy ooms en 'n tannie verskeie rolle in die bestuurspan.

Daar word met 18 pitlose-tafeldruif-kultivars op Mooigezicht geboer.
Daar word met 18 pitlose-tafeldruif-kultivars op Mooigezicht geboer.

Volgens hom het hulle 'n sterk direksie wat elkeen hul eie spesifieke rolle vervul en ook 'n baie ervare voorsitter wat 'n groot rol in die besigheid speel.

Rossouw se vrou, Jean-Mari, wat 'n arbeidsterapeut is, is ook by die plaas betrokke aan die maatskaplike kant.

Sy werk by van die crèches tot die kinderklubs, biblioteke en meer. Sy werk met die tieners en ouers en reël ook sportdae en oesaf-geleenthede. Dit is egter nie net die familie wat die plaas se wiele aan die rol hou nie, want hy vertel dat hulle ook 340 heeltydse werkers het wat volgens hom sleutelrolspelers is.

"Die getal is egter baie hoër wanneer dit seisoentyd is, want tydens die piektye het ons ongeveer 2 000 werkers nodig om die druiwe te pluk en die produksie glad te laat verloop.

"Arbeid alleen is sowat 40% van ons uitgawes, maar ons kan nie sonder dit nie."

Só word klimaat bestuur

Nes die meeste varsprodukte is die groei en sukses daarvan afhanklik van wat moeder natuur doen. Volgens Rossouw moes hulle op Mooigezicht baie verandering aanbring om aan te pas by die veranderende klimaat.

"Ons moes gou leer om ons hulpbronne optimaal te benut.

"Om ons opbrengste te beskerm, moes ons oesbeskermingstrategieë in plek stel en aanpassings maak. Van dit sluit in plaagbeheer met chemiese spuitprogramme met proewe wat ons gedoen het."

Rossouw is van mening dat groter volumes tafeldruiwe nie die antwoord is vir 'n meer suksesvolle bedryf nie. Hy reken dat gehalteprodukte sal sorg dat Suid-Afrika sy plek in bestaande markte behou en nuwe markte kan betree.
Rossouw is van mening dat groter volumes tafeldruiwe nie die antwoord is vir 'n meer suksesvolle bedryf nie. Hy reken dat gehalteprodukte sal sorg dat Suid-Afrika sy plek in bestaande markte behou en nuwe markte kan betree.

Hy sê 'n besigheid se bemarker speel ook 'n groot rol in hierdie verband, want as daar slegte weer is en die druiwe nie betyds gereed is vir 'n sekere mark nie, moet die bemarker plan maak om dit elders te lewer.

"Dit is belangrik om die vrugte aan die regte mark te lewer. As jy dink jy gaan met die program wat jy voor die tyd vasgemaak het 'n swakker produk lewer en dink hulle gaan dit nie raaksien nie, maak jy 'n fout. Dit is 'n belangrike element om winsgewendheid te verseker."

Laastens is daar praktiese oesbeskermingstrategieë wat hulle volg soos om plastiek op te sit en elke tros met 'n bruin sakkie toe te maak. "Dit is ongelooflik arbeidsintensief, maar dit is deel van hoe ons die oes beskerm en bestuur."

Sukses lê in aksies

Rossouw is al amper sewe jaar op die plaas, maar as iemand wat in die bedryf grootgeword het, was hy gereed vir die uitdagings toe hy plaas toe is.

Vra jy hom wat die sleutel tot sy en die plaas se sukses is, is die antwoord eenvoudig: "Jy moet hardwerkend wees. Dit is hoe ek gemaak is. Boerdery is nie 'n werk nie, dit is 'n leefwyse - goed of sleg. Jy moet self be Vervolg op bl. 6) Vervolg van bl. 5trokke wees by elke aspek, besluit en afdeling om seker te maak dit werk en nie net delegeer nie."

Nog iets wat vir hom belangrik is, is dat boere aanpasbaar moet wees vir elke ding wat oor hul pad kom. Rossouw vertel dit is iets wat veral die afgelope twee seisoene in die boerdery vanweë die weer getoets en toegepas is.

Hy meen die feit dat hulle aanpasbaar was, het hulle die afgelope paar jaar baie ver gebring.

"Jy moet die vermoë hê om probleme te kan oplos. In 'n boerdery moet jy vinnig 'n oplossing kan vind, want daar is nie tyd om te dink en tob oor iets nie."

Natuurlik is passie ook belangrik, want hoe kan jy 'n sukses maak van iets as dit nie vir jou belangrik is nie?

"Boerdery sal beslis ook nooit 'n sukses wees sonder 'n baie sterk span wat deel vorm van die maatskappy nie.

"Ons probeer insette gee in ons span en elke Vrydagoggend het ons 'n biduur om nie net terug te sit in mekaar nie, maar ook ons geloof te versterk en ons geloof in goeie en moeilike tye op die regte plek te hou.

"Oor ons so baie mense het, het ons 'n sterk bestuurspan.

"Ons sterk en streng finansiële bestuur het ons ook deur die afgelope paar jaar gedra."

Die plaas het oor die jare baie aanpassings gemaak en verder uitgebrei, maar hulle is beslis nog nie klaar nie. Rossouw vertel dat hulle besig is met 'n groot sonkragprojek wat uiteindelik vyf van die plaaseenhede ten volle van krag gaan voorsien. "Nie net is dit 'n manier om kostes te bespaar nie, maar ook om hul koolstofvoetspoor te verminder."

Francois Rossouw se vrou, Jean-Mari, is ook betrokke by die boerdery; veral by maatskaplike ontwikkeling.
Francois Rossouw se vrou, Jean-Mari, is ook betrokke by die boerdery; veral by maatskaplike ontwikkeling.

Gehalte is die toekoms van die bedryf

Rossouw, wat ook op die Hexvallei Tafeldruifvereniging dien, sê as daar na die afgelope paar jaar se groeiende syfers vir die bedryf gekyk word, lyk tafeldruiwe se toekoms blink.

Verlede jaar was daar 'n baie groot tafeldruifoes en dit is hierdie jaar opgevolg met 'n rekordgetal tafeldruiwe wat verpak is.

"Die bedryf groei jaarliks, maar nie net in syfers nie - dit groei deur die regte produkte in die regte markte te plaas," sê hy.

Dit is egter nie nou tyd vir die bedryf om op sy louere te rus nie. "Lande soos Peru en China brei al hoe meer uit.

"China voer meer en meer tafeldruiwe uit en selfs Indië blaas in ons nek.

"Suid-Afrika moet egter minder bekommerd wees oor volume en meer fokus op gehalte en om die markte tevrede te hou."

Volgens Rossouw hou die supermarkte daarvan om verskillende lande se produkte met mekaar te vergelyk en daarom moet rakspasie oorsee beskerm word.

"Daar is meer as genoeg tafeldruiwe om aan die markte en selfs nog meer te lewer - ons kort nóg marktoegang om onsself beter te vestig.

"Ons moet ook die regte kultivars aanplant om seker te maak ons tafeldruiwe is geskik vir die verskillende markte se behoeftes," sê hy.

Daar word nie net tafeldruiwe op Mooigezicht verbou nie; hulle doen ook hul eie verpakking en bemark self die meerderheid van hul druiwe vir uitvoer.
Daar word nie net tafeldruiwe op Mooigezicht verbou nie; hulle doen ook hul eie verpakking en bemark self die meerderheid van hul druiwe vir uitvoer.

Blik op die plaas

Van die 400 ha se tafeldruiwe bemark hulle as 'n plaas self 70%.

"Die Hexriviervallei het een van die langste tafeldruifseisoene. Ons begin al in week 50 van die jaar en dit strek tot week 16 of 17.

"Hierdie langer seisoen is veral voordelig vir ons as jy in ag neem dat die pryse en markte baie tydens hierdie tydperk wissel," sê Rossouw.

Op die plaas volg hulle 'n volhoubare benadering tot boerdery. Dit beteken dat hul boerderypraktyke van so 'n aard is dat dit nie 'n blywende impak op die omgewing het nie.

Om die omgewing te beskerm, gebruik hulle nie harde en vernietigende chemikalieë nie, hulle laat nie jag of die pluk van blomme toe op hul grond nie en hul onderskei die natuurlike habitat van die boerdery om die natuurlike fauna en flora te beskerm.

Verder maak hulle dit ook hul werk om hul arbeiders, hul families en kinders te onderrig oor omgewingsbewustheid en die stappe wat hulle doen en hoe om dit te beskerm.

Daar is 'n natuurlike fynboshabitat wat verskeie inheemse plante en diere huisves.

Rossouw se prys is nie Mooigezicht se eerste erkenning nie.

In 2014 is die boerdery aangewys as die Wes-Kaapse Landbouskrywersvereniging se Boer van die Jaar.

Daar is vir dié erkenning veral melding gemaak van die boerdery se aanpasbaarheid en dat hulle deurgaans in hul verbruikers se behoeftes voorsien.

Hul uitstaande druiwe is in tafeldruif-blokkompetisies vereer en die boerdery het in die kykNET-program Megaboere verskyn.

Plaaslewe met 'n verskil

Rossouw vertel dat dit vir hulle as 'n familie baie belangrik is om seker te maak hul werkers se omstandighede op die plaas is van die hoogste gehalte.

"Ons arbeiders is ons waardevolste hulpbron. Elkeen het 'n huis vir hul familie en ons het 'n heeltydse kliniek met 'n suster wat basiese dienste verskaf.

"Vir hul kinders het ons 'n crèche op die plaas en verskeie kinderklubs ná skool. Daar is tienerklubs, 'n koffiekroeg en selfs leesgroepe waar enigeen kan leer om te lees."

Daar is ook 'n biblioteek en sport- en ontspanningsfasiliteite waartoe almal toegang het.

"Van my oupa se tyd al is maatskaplike ontwikkeling 'n baie belangrike deel van ons boerdery en vandag is dit iets waaroor ons almal baie passievol is.

"Ons het nog baie drome oor hoe om dit selfs beter te maak; een daarvan is 'n volledige nasorg vir die kinders," sê hy.

Vir die plaas se werkers bied hulle ook opleiding om hul vaardighede verder te ontwikkel en verskerp.

Hierdie opleiding is nie net tot die boerdery se voordeel nie, maar gee ook die span meer kennis en vaardighede om hulself verder te kan bemagtig.

"Alles wat ons doen, is oor dit op die direksie en bestuur se harte lê om werklik 'n verskil te maak met die kinders, tieners en arbeiders se lewens," sê hy.

Buiten vir die bedrywighede op die plaas is Mooigezicht nou betrokke by die gemeenskap.

Van hul projekte sluit in sopkombuise tydens die wintermaande, 'n klerebank wat beskikbaar is vir lede van die gemeenskap wat klere benodig wanneer hulle 'n krisis beleef, en 'n uitreikprogram.

SPELETJIES VANDAG

CTA