Landbou

Rietvallei: Stories van grondgedrewe groei

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Al die geslagte Burgers wat oor die jare op die Rietvallei-landgoed gewerk het, het sedert die plaas se ontstaan in 1864 bygedra tot die suksesverhaal waarmee vandag se geslag kan spog. Cassie du Plessis deel meer oor die landgoed se geskiedenis.

Die Rietvallei-landgoed buite Robertson lewer ongeveer 1 500 ton wyndruiwe van 110 ha se wingerd - wat alles vir die landgoed se wynreekse gebruik word. Foto's: VERSKAF
Die Rietvallei-landgoed buite Robertson lewer ongeveer 1 500 ton wyndruiwe van 110 ha se wingerd - wat alles vir die landgoed se wynreekse gebruik word. Foto's: VERSKAF

Agter daardie kleurvolle, karakter­volle storie - of liewer velerlei vervlegte stories - oor die Rietvallei-landgoed se 160-jarige bestaan is daar 'n goue draad van familie-doelgerigtheid, deursettingsvermoë en deurbrake gebind aan die grond en die wingerdstok.

Op die plaas, 8 km anderkant Robertson langs die R60, vind jy dus die verhale van ses geslagte van Burger in hierdie familieboerdery waarin elke rolspeler baanbrekerswerk gedoen het.

Sodoende is omgeskakel van 'n koöp­gefokusde druiweprodusent in die middel-1900's na 'n privaat landgoed wat sy eie wyn produseer en bemark nadat sy eerste wyn onder die Rietvallei-handelsmerk in 1975 uitgereik is - die Rietvallei Rooi Muskadel 1975.

Daardie kopergoue 1908 Muskadel 2021 in sy stylvolle klein botteltjie - wat sy oorsprong in die landgoed se unieke 116-jarige bosstok Muscat de Frontignan-wingerd het - het onlangs 'n simboliese ereplek saam met sy stalmaat Rietvallei Muskadel 2019 by die onvergeetlike naweek se 160-jaar-vieringe beklee.

Dít langs veelbekroonde nuwegeslag-skeppings soos Rietvallei Sauvignon Blanc 2024, Chardonnay 2023, Calcrete Chardonnay 2024, The Estate 2016, Estéanna 2009 en JMB Cabernet Franc 2016 is voorgesit saam met keurgeregte vir 80 eregaste, benewens meer as 200 dagbesoekers.

Kobus Burger, die sesde-geslag-Burger op die Rietvallei-landgoed, is nie net die plaas se eienaar nie, maar ook die wynmaker.
Kobus Burger, die sesde-geslag-Burger op die Rietvallei-landgoed, is nie net die plaas se eienaar nie, maar ook die wynmaker.

Wingerd- en wynverskeidenheid

Rietvallei, met wynmaker-eienaar Kobus Burger aan die spits, spog vandag met 'n uiteenlopende portefeulje van wynstyle, wingerde en kultivars wat sy spesiale terroir-karaktertrekke, tesame met 'n gees van vernuwing langs familiewaardes weerspieël. G'n wonder nie dat hierdie landgoed in die jongste jare 'n gesogte bestemming geword het vir wynliefhebbers wat die beste van die Robertson-wynvallei se skatte wil ervaar.

Daarom het alle paaie onlangs as't ware oor 'n spesiale naweek vir vele wynliefhebbers, -kenners en -bedryfsrolspelers hierheen gelei om dié mylpaal soos 'n groot familie te vier.

Eerste aan die woord om die rykdom van Rietvallei-verhale oor te dra by die eksklusiewe tuingeleentheid was verskeie familielede uit die jongste geslagte, met tannie Marietjie Botha - wyle pa Johnny se suster van Stellenbosch. Sy het pittig maar met 'n nostalgiese traan in die oog vertel van die tyd toe die oorspronk­like Rietvallei van de Klaasvoogdsrivier Wagendrift in 1864 deur die eerste Burger - Alewyn Petrus Burger van Montagu - gekoop is vir sy 26-jarige seun, Jacobus Francois, oftewel Koos.

"Die oorspronklike opstal op die plaas, uit die vroeë 1800's het uit die woonhuis, wynkelder en stal bestaan," sê sy.

Teen 1908 het oupa Koos die wynkelder verander en vergroot. Sy jongste seuns, Paul en John, het aanvanklik saam geboer en wyn gemaak in die ou oorspronklike wynkelder; basies gefortifiseerde wyne en rabat. Hulle was van die eerste wynmakers in die land wat egte flor-sjerrie gemaak het in pas met die aanvanklike klem op gefortifiseerde wyne of soetwyne in Robertson se beginjare.

Die plaas is later tussen hulle verdeel en oupa John het in 1940 sy eie kelder gebou.

"Sy motto was deur al die jare dat geen tros druiwe van Rietvallei verkoop sou word nie," sê tannie Marietjie.

Hy sou bly wees om te weet dat die plaas vandag ongeveer 1 500 ton wyndruiwe van 110 ha lewer wat hul weg na 'n voortreflike portefeulje van eie handelsmerke vind. En wat toenemend gesogte pryse by plaaslike wynkompetisies verower.

Johnny se wingerdvisie en -leiding

Vandag se sesde-geslag-Burger, Kobus, wat die leisels in die wingerd én kelder hou, het by die genoemde geleentheid met eerbetoon aan sy pa vertel hoe hy in 2002 by die familie-onderneming aangesluit het ná drie jaar as meganiese ingenieur en studie aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT).

In 2003 het Kobus sy eerste pars in die kelder saam met sy pa, Johnny, gedoen en van 2004 het Johnny op die wingerdbou gekonsentreer terwyl Kobus die wynmaak hanteer het. Hy het egter altyd die muskadelmakery vir sy pa gelos om 'n hand in die kelder te behou - die enigste wynmaakresep wat oor die jare só gebly het.

Volgens Kobus was die ongekunstelde Johnny die een wat die grootste bydrae gelewer en invloed gehad het om ons te bring tot waar ons vandag is.

"Hy het die weg gebaan en fondament gelê waarop ek net kon voortbou. Hierdie fondament is die produksie van gehaltewyn gemaak van edelkultivars."

Koue gisting vir die maak van gehaltewyn is danksy die nuwe kelder se gevorderde geriewe van 1981 af toegepas wat Rietvallei op 'n nuwe trajek van gehaltewyn en primahandelsmerk-ontwikkeling geplaas het.

"My pa het my vertel my oupa se droom was om 2 000 ton te pars. Ek is nie seker watter oesjaar dit was nie, maar daardie jaar nadat die laaste druiwe gelewer is en die skaalkaarte opgetel is, het hy na sy pa in die huis gestap en hom vertel hulle het 1 998 ton by die kelder gelewer.

"My oupa het sy sakdoek uitgehaal om die trane van blydskap af te vee en sê toe: ‘You can call me a liar for two tons.' "

Chardonnay-baanbreker

"My pa het ook 'n groot rol gespeel in die uitbou van Robertson as 'n gehalte-chardonnay-streek. Hy het van die eerste chardonnay-stokke in 1984 in die vallei gevestig en in 1987 ons eerste landgoed-chardonnay bekend gestel - die landgoed se eerste houtverouderde wyn.

"Saam met die rooi muskadel was die chardonnay byna 15 jaar lank die enigste gebottelde wynprodukte onder die Rietvallei-handelsmerk," sê Kobus. 'n Sauvignon blanc en cabernet sauvignon is in 2002 bygevoeg.

Veral betekenisvol is die Calcrete Chardonnay, wat verlede jaar uitgereik is en in ooreenstemming is met 'n sterk beweging van Robertson se voorste kelders om die vallei se ideale kalkryke grond vir hierdie Boer­gon­die­se kultivar in die wynkarakter te weerspieël.

Dit is 'n fris en vars ongehoute-styl-chardonnay wat dié gebied se unieke terroir tot sy volle reg uitbring.

Rietvallei se chardonnay-aanplantings behels 'n 1,2 ha-blok van 2004 en 3,6 ha aangeplant op 'n noordwestelike helling in 2013, albei­ uiteraard in daardie tipies kalkryke Karoo-grond wat kenmerkende, vars mineraliteit op­lewer. 'n Verdere 3 ha is ook vanjaar aangeplant.

Nalatenskap in 'n bottel

Die Estéanna- rooi versnit is in 2007 uitgereik en die naam is afgelei van Kobus en Elizabeth se dogters, Esté en Annie.

Dit is saamgestel uit Bordeaux-kultivars wat begin het as cabernet sauvignon, cabernet franc en petit verdot, maar die jongste oesjaar, die 2021, wat binnekort uitgereik word, sluit vir die eerste keer merlot in.

In 2014, die jaar ná Johnny se dood, het Kobus die eerste cabernet franc uitgereik en besluit om hom as mentor te vereer deur die vestiging van die JMB-etiket daar­voor - wat afgekort is van Johnny se volle naam, Johannes Marthinus Burger.

Kobus het in 2016 met die sewe kultivars op die plaas geëksperimenteer en 'n versnit van cabernet sauvignon, shiraz, petit verdot, tinta barocca, cinsaut, roobernet en cabernet franc geskep, vandag onder 'n sorgvuldig opgedateerde etiket as The Estate 2016.

Al sewe kultivars se druiwe is op dieselfde dag geoes in volumeverhouding van die aangeplante hektare, natuurlik op 'n baie klein skaal van 6 ton in totaal.

Dit het saam in een tenk gefermenteer en is toe drie jaar lank in 300-liter-vate van Franse eikehout verouder, waarna dit nog vir nog 'n jaar in die bottel was voor bekendstelling. Dit vorm vandag deel van die vier wyne in die beperkte-volume-Rietvallei Heritage Collection-wyne: die 1908 Muskadel, Rietvallei Estate 2016, JMB Cabernet Franc en Estéanna Caber­net Sauvignon/Cabernet Franc.

Spesialisasie en spanwerk

'n Belangrike deel van die geheim om konsekwent die beste te haal uit die terroir waarmee Rietvallei ge­seënd is, volgens Kobus, is spanwerk en sinergie van spesialiste.

Aan die wingerdkant beskik Rietvallei al oor 'n periode van sewe jaar oor die dienste van Hannes Nel as wingerdproduksiebestuurder.

Boonop is daar die spesialis­insette van 'n plantvoedingspesialis, Pieter Beyers van Atlantic Fertilisers, en chemiese deskundige, Arno Matthyser van Nulandis, vir plaag- en onkruidbeheer.

Hoewel gereeld op die landgoed met hierdie kundiges vergader word om gefokusde programme voor en ná die seisoen op te stel, monitor Matthyser en Nel die wingerde ook weekliks vir enige probleme wat mag opduik.

"Ons probeer om sover moontlik groen te boer, maar 'n mate van chemiese inmenging is ongelukkig nodig om sekere plae en onkruide te beheer.

"Ja, die dae is lank verby toe een man alleen aan die roer van sake die uitdagings van 'n moderne, veelsydige landgoed met sy moderne uitdagings en die natuur se wisselinge kon hanteer en ten volle ontgin," sê Kobus.

Vele wenners uit terroir met verskeidenheid

Die kelder se wynportefeulje van 21 produkte sluit ook die Classic Collection-, John-B- en Stonedale-handelsmerke in.

Die stand van die wingerde is vandag 65% wit en 35% rooi en benewens die tradisionele rooi muskadel is daar ook die klassieke edel­kultivars sauvignon blanc, chardonnay, chenin blanc, cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, petit verdot en shiraz.

Die totale spektrum bestaan uit altesaam 15kultivars wat as boustene gebruik word vir 'n magdom opsies vir style, skeppende ver­sny­ding en bestendigheid. Alle wingerd op die plaas is onder drupbesproeiing en opgelei, behalwe die geskiedkundige rooi muskadel van 0,37ha wat 'n bosstok-wingerd is.

Die formidabele lys van pryse wat hieruit spruit, sluit onder meer die SA Terroir-pryse in, waar die Rietvallei JMB Cabernet Franc ses keer sedert 2015 (die 2019-oesjaar twee keer in 'n ry in 2023 en 2024) aangewys is as die nasionale wenner en die Rietvallei Wyn­land­goed drie jaar agtereenvolgens in 2021, 2022 en 2023 as top-terroirlandgoed en top­produ­sent in 2021 en 2023. Die jongste erkenning is die veelgeroemde JMB Cabernet Franc 2019 se gesogte goue medalje by die Veritas-wynpryse.

Cassie du Plessis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM