Botsing ontwrig weer steenkooluitvoer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Treinwaens van Transnet vol steenkool bestem vir die uitvoermark. Foto: Beeld
Treinwaens van Transnet vol steenkool bestem vir die uitvoermark. Foto: Beeld

Asof verkeers- en haweprobleme nie genoeg is nie, het 'n ontsporing op Transnet Freight Rail (TFR) se steenkoolspoorlyn weer die lewe van steenkooluitvoerders ontwrig.

TFR het Maandag in 'n verklaring gesê daar was Sondag in die vroeë oggendure 'n botsing tussen twee treine op die spoorlyn by Elubana buite Richardsbaai aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

News24 berig die ongeluk het gebeur weens swak kommunikasie tussen operateurs tydens 'n skofruiling nadat een van die treine glo weens 'n kragonderbreking by Richardsbaai op die spoorlyn gaan staan het.

TFR het niks hieroor in sy verklaring gemeld nie en bloot gesê 'n ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is aan die gang.

Volgens TFR is opruimingspanne onmiddellik na die toneel gestuur en is herstelwerk dadelik begin.

Geen ernstige beserings is aangemeld nie en die werknemers wat by die botsing betrokke was, is vir mediese waarneming gestuur.

Volgens TFR is omgewingspanne op die toneel om seker te maak die opruimingswerk van die twee treine en waens vol steenkool word reg gedoen.

'n TFR-woordvoerder het Dinsdag gesê die opruimingswerk duur voort en TFR kan nog nie sê wanneer die spoorlyn weer in gebruik sal wees nie.

Die genoteerde steenkoolgroep Thungela het in Desember gekla hy moes weens Transnet se probleme sy produksie afskaal en sou vir 2023 slegs 12,1 miljoen ton kon produseer, wat 7,6% minder is as die 13,1 miljoen ton in 2022.

Benewens kabeldiefstal wat ontwrigting op die steenkoollyn veroorsaak, het TFR nie genoeg lokomotiewe nie omdat die Chinese vervaardiger CRRC nie belangrike onderdele en komponente vir instandhouding wil lewer nie.

Weens die twee lokomotiewe wat in Sondag se botsing beskadig is, is die tekort aan werkende lokomotiewe nou nog groter.

Met die swak spoordiens het uitvoerders hulle tot die duurder maar buigsamer opsie van padvervoer gewend, wat egter tot erge verkeersknope in Richardsbaai gelei het. Die uitvoerhawe is ook nooit ontwerp om vragmotors vol steenkool te kan hanteer nie.

Transnet Port Terminals se grootmaatvrageindpunt in Richardsbaai het boonop verlede jaar 'n brand by drie vervoerbande gehad, met slegs een wat al herstel is.

SPELETJIES VANDAG

CTA