Sakeplan kan spoorvrag in Overberg laat herleef

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Plan van die Wes-Kaapse regering kan nuwe lewe blaas in 'n onderbenutte takspoorlyn van Transnet wat van Kaapstad tot in Bredasdorp in die Overberg loop.

'n Sake- en inwerkingstellingsplan vir die Overberg-spoorvragprojek is verlede week deur Isaac Sileku, Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, in Bredasdorp bekend gestel.

Die inisiatief is gesamentlik deur die Overbergse landboubedryf, vrageienaars, logistieke operateurs, beleggers en regeringsvennote ontwerp, lui 'n mediaverklaring van Sileku se kantoor.

Die doelwit is om die spoorlyn, wat tans onderbenut word, weer in bedryf te kry om meer vrag van die N2 na die spoorlyn te dryf, en die gebied met die Belcon- binnelandse vrageindpunt ('n vraghouer-eindpunt in Bellville-Suid) en die Kaapse hawe te verbind.

Tans word jaarliks 8,9 miljoen ton in dié vragkorridor vervoer, maar 99,8% is per vragmotor langs die N2 en slegs 0,2% word per spoor vervoer.

Volgens Sileku is die sakeplan van die projek daarop toegespits om spoorvrag weer op dreef te kry en 'n kommersieel lewensvatbare, datagedrewe vragstelsel te skep wat logistieke koste verlaag en die opeenhopings op die N2 verminder.

Uitvoere verdriedubbel

Dit kan ook die Wes-Kaap posisioneer om sy uitvoerwaarde teen 2035 te verdriedubbel.

Sakkie Franken, burgemeester van die Overberg-distriksmunisipaliteit, sê in die verklaring die projek verteenwoordig 'n ommekeer vir die streek. Deur die spoorvervoerpotensiaal te ontsluit kan belegging gelok en werk geskep word. Die Overberg kan weer 'n florerende sentrum vir handel word tot voordeel van die boere en breë gemeenskap.

Die uitdagings vir die projek is die toestand van die spoorlyn.

'n Satellietbeeld van die draaipunt van die bestaande Transnet-takspoorlyn wat van Kaapstad tot by Protem in die Overberg loop. Foto: Google Maps
'n Satellietbeeld van die draaipunt van die bestaande Transnet-takspoorlyn wat van Kaapstad tot by Protem in die Overberg loop. Foto: Google Maps

Die projek is in pas met Transnet se poging om van sy takspoorlyne deur private operateurs te laat bedryf of op die grondslag van openbare-private vennootskappe te laat herleef.

Die huidige fase van die projek waarin die sakeplan verder uitgebou en getoets gaan word, sal tot Junie volgende jaar duur. Dit sal fokus op die bevestiging van hoeveel vragvolumes daar langs die korridor vervoer word, wat die infrastruktuurkapasiteit is, en om vrageienaars te werf om deel te word van die inisiatief.

As die loodsprojek dit as lewensvatbaar bewys, kan bouwerk en ingefaseerde bedrywighede teen laat volgende jaar begin, met die bekendstelling van die nuwe vragtreindiens teen 2028, volgens die Wes-Kaapse regering.

Aanvanklike doelwitte van die loodsprojek:

• Skuif minstens 10% van die vrag (sowat 900 000 ton per jaar) van pad na spoor wat sowat 40 000 minder vragmotorritte jaarliks op die N2 kan beteken;

• Verminder uitvoerders se logistieke koste met tot 30% vir langafstandvervoer, wat die mededingendheid van die produkte en goedere uit die Overberg kan verhoog;

• Verlaag die vragverwante kweekhuisgasvrystellings met tot 70% per ton;

• Lok openbare-private vennootskappe om die treindiens te finansier en te bedryf, onder meer deur betroubare tweerigting-vragvloei in te stel, byvoorbeeld met uitvoergoedere in die rigting na Kaapstad en insette soos verpakking en kunsmis in die rigting na die Overberg.

Die projek sal ook ondersoek of dit die moeite werd kan wees om die spoorlyn te verleng van Protem tot Swellendam. Dit is 'n afstand van sowat 60 km. Dit kan die opvanggebied uitbrei en die netwerk doeltreffender maak.

Die verwaarloosde stasiegebou in Swellendam, gebou in die art deco-styl. As die Wes-Kaapse regering se sakeplan slaag om spoorvrag op die takspoorlyn tussen Kaapstad en Bredasdorp te laat herleef, kan dit in die toekoms moontlik daarop uitloop dat die lyn tot by die spoorlyn by Swellendam verleng word. Foto: Francois Williams
Die verwaarloosde stasiegebou in Swellendam, gebou in die art deco-styl. As die Wes-Kaapse regering se sakeplan slaag om spoorvrag op die takspoorlyn tussen Kaapstad en Bredasdorp te laat herleef, kan dit in die toekoms moontlik daarop uitloop dat die lyn tot by die spoorlyn by Swellendam verleng word. Foto: Francois Williams

Swellendam is op die takspoorlyn wat van Worcester tot in Mosselbaai loop, maar ook dié spoorlyn is onderbenut.

Geskiedenis

In die 1800's is die Overberg per skip met Kaapstad verbind, met Barry & Nephews wat 'n vragskip tot by Malgas op die Breederivier bedryf het waarmee goedere via Port Beaufort by Witsand tussen die Overberg en Kaapstad verskeep is.

Teen die einde van die 1800's is met die spoorlyn begin. Dit is teen 1915 tot by Protem uitgebrei. Daar was toe al planne om die spoorlyn dalk êrens in die toekoms tot by Swellendam te verleng, waar dit sou kon aansluit by die destydse New Cape Central Railway wat teen 1906 tot by Mosselbaai voltooi is.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA