Transnet se spoorprobleme knou uitvoer van steenkool

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Treinwaens vol steenkool by ’n rangeerwerf.Foto: GAGU MACH
Treinwaens vol steenkool by ’n rangeerwerf.Foto: GAGU MACH

Transnet se swak spoorvervoer het een van die land se grootste steenkoolprodusente se produksie vir die uitvoermark geknou.

Thungela Resources sê hy moes weens spoorprobleme produksie afskaal en gaan vir die volle 2023 produksie van 12,1 miljoen ton haal, 7,6% minder as die 13,1 miljoen ton in 2022.

Dit word deels veroorsaak deur 'n daling in die vraag na krag in Europa, China en die meeste van die res van Asië vanweë 'n matiger winter in die Noordelike Halfrond. Die laer vraag na steenkool is boonop vererger deur 'n hoë voorraad opgehoopte steenkool en gas by invoerhawens.

Die prys van steenkool het vanjaar aansienlik gedaal. Die prys ná afslag wat Thungela in die 11 maande tot einde November vir sy steenkool kon behaal wat uit die Richardsbaai-steenkooleindpunt verkoop is, was $104,85 per ton, 54% minder as vir die volle 2022.

Die "inkonsekwente en swak" prestasie van Transnet se spoorlyne is 'n teer punt.

Die tempo waarteen steenkool per spoor van myne na die Richardsbaai-eindpunt vervoer is, het van 50,3 miljoen ton in 2022 tot 47 miljoen ton gedaal. Dinge het in die tweede helfte van die jaar verswak.

Dit word toegeskryf aan 'n toename in kabeldiefstal en lokomotiewe wat die gees gegee het.

"Die steenkoolbedryf hou aan om nou met Transnet saam te werk om die sekerheidsituasie te verbeter, en ondersteun Transnet sedert November met bykomende sekerheidsdekking," sê Deon Smith, finansiële hoof.

Smith sê 'n volhoubare oplossing hang steeds af van die verkryging van onderdele vir lokomotiewe wat deur die Chinese firma CRRC verskaf is, hetsy van CRRC self of van alternatiewe verskaffers.

Die bedryf en Transnet het bestellings by ander onderdelevervaardigers geplaas.

Produksie by drie ondergrondse seksies van Thungela se myne is ingeperk weens die spoorkrisis sodat steenkool nie ophoop nie.

Thungela het die Ensham-steenkoolmyn in Queensland, Australië, vanjaar bekom en sê die transaksie is op 31 Augustus suksesvol voltrek teen R3,2 miljard, wat R800 miljoen minder is as wat aanvanklik voorsien is weens die manier waarop die transaksie gestruktureer is.

Ensham sal dus vir vier maande van die boekjaar deel uitmaak van Thungela se syfers.

Die myn gaan na verwagting vanjaar 2,9 miljoen ton steenkool produseer, meer as die 2,7 miljoen ton wat in Augustus geraam is.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

CTA