Die groot finansiële-tegnologie-maatskappy Optasia wil op die JSE noteer te midde van hernude belangstelling van beleggers in dié ondernemings die laaste paar maande.
Die maatskappy wil R1,3 miljard insamel deur aandele uit te reik en bestaande aandeelhouers wil hul belange vir minstens R5 miljard verkoop.
Onder die bestaande aandeelhouers is die beleggingsmaatskappy Chronos Capital van Michael Jordaan, ’n voormalige uitvoerende hoof van FNB. Jordaan is ook bekend as die medestigter van Bank Zero, wat onlangs teen R1 miljard aan Lesaka Technologies verkoop is.
Die aanvanklike aanbod van die aandele in Optasia gaan aan gekwalifiseerde beleggers gedoen word.
Bloomberg berig dit sal die grootste notering op die JSE in ’n jaar wees. Pick n Pay se Boxer, wat verlede jaar R8 miljard ingesamel het, was die grootste sedert 2017.
Optasia beoog om terselfdertyd gewone aandele op die JSE te noteer.
Channel VAS (wat as Optasia handel dryf) is in 2012 deur Bassim Haidar gestig, wat in Nigerië gebore is, maar ’n Libanese burger is, berig The Guardian.
Hy het volgens The Guardian gekla oor ’n nuwe belasting wat Brittanje wil instel op inkomste wat in die buiteland verdien word, en gesê hy gaan dadelik die land verlaat en ook nie meer die beoogde notering van Optasia daar doen nie.
Optasia is sowat R17 miljard werd
Hy het toe aangevoer Optasia is $1 miljard (sowat R17 miljard in vandag se wisselkoers) werd. In die halfjaar tot einde Junie vanjaar het die wins van die maatskappy $23,2 miljoen (R397,9 miljoen) beloop.
In die dokument oor die voorneme om te noteer, word Optasia beskryf as een van die grootste en snelgroeiendste finteg-platforms wat deur kunsmatige intelligensie (KI) aangedryf word en wat toegang tot finansiële produkte in 38 lande moontlik maak.
Optasia bied sy platform en tegnologie aan banke en selfoonnetwerkoperateurs om mikrolenings asook krediet vir lugtyd en data aan mense te verskaf wat nie toegang tot gewone bankdienste het nie.
Die platform, wat Optasia self gebou het, gebruik KI om kliënte se data te ontleed ten einde kredietbesluite te kan neem.
Optasia verwerk 32 miljoen leningstransaksies per dag teen ’n gemiddelde waarde van R222 miljoen, en het toegang tot meer as 860 selfoonnetwerk-intekenare.
Dié klein lenings maak nou 62% van sy inkomste uit teenoor 1% in 2019.
Die maatskappy word betaal vir elke transaksie wat deur die platform gaan.
Salvador Anglada, uitvoerende hoof van Optasia, sê hulle is ’n winsgewende maatskappy wat nog verder uitgebrei kan word.
Beleggers gaan egter nie ’n dividend in die komende ses maande of vir die volle boekjaar kry nie. Eers in 2027 kan ’n dividend verwag word.
Jordaan is in April vanjaar as onafhanklike voorsitter van Optasia aangestel. Hy is ’n stigtersvennoot van Chronos Capital, saam met Nic Kohler, Willem Roos en Roger Grobler.
Roos is bekend as ’n medestigter van OUTsurance.
Grobler is van 2022 ’n direkteur, en was die stigter en voormalige uitvoerende hoof van Real Insurance in Australië en Quantium India, wat albei groot bydraes tot die versekerings- en data-ontledingsektor gemaak het.
In 2017 het Waha Capital, ’n beleggingsmaatskappy van Abu Dhabi, in Channel VAS belê, en in 2018 in Suid-Afrika se Ethos Capital.
Die naam Optasia is vanaf 2022 begin gebruik in dieselfde jaar as wat Chronos Capital belê het.













