Sosialemediaplatforms is die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners (77%) se hoofbron van nuus.
Dít blyk uit 'n verbruikerspeiling deur die Mededingingskommissie.
Daarvolgens gebruik 84% Facebook as 'n hoofnuusbron, gevolg deur TikTok (47%), WhatsApp (46%), YouTube (45%) en X (30%).

Altesaam 1 305 respondente wat nasionaal verteenwoordigend is, het aan die peiling deelgeneem wat gedoen is as deel van die Mededingingskommissie se markondersoek na media en digitale platforms.
Die ondersoek hou verband met die verspreiding van media-inhoud op digitale platforms in Suid-Afrika en deur advertensietegnologie-diensverskaffers. Verskeie mediahuise het vroeër vanjaar tydens openbare sittings getuig oor die oorheersing van Google en Meta in die digitale-advertensie-inkomsteruimte wat mediamaatskappye in 'n wurggreep het.
LEES OOK | Joernalistiek onder beleg van Google, Meta: ‘Ons stemme word stil gemaak'
Diegene wat nie sosialemediaplatforms as 'n hoofnuusbron gebruik nie, se twee hoofredes was omdat hulle steeds tradisionele platforms (soos TV, radio en koerante) verkies of omdat hulle direk na nuuswebwerwe gaan.
Altesaam 18% van die respondente het die gebruik van soekenjins (soos Google en Bing) aangedui as hul hoofplatform vir nuus, terwyl 'n verdere 4% die soekenjins se persoonlike nuuskuratorskap (soos Google Discover, Google News en Microsoft Start) gebruik.
Die meeste respondente (60-70%) gebruik nuus oor alle digitale platforms heen minstens een keer per dag, met baie (28%-38%) wat aktief teruggaan na die platforms om vir nuus te soek.

Brekende nuus dryf die respondente om hul voorkeurplatforms meer gereeld te gebruik, meer tyd daarop deur te bring en om dit met 'n spesifieke voorneme vir nuus te besoek.
Ander bevindinge uit die peiling sluit in:
• As nuus nie meer beskikbaar is op die platform nie, sal rofweg 70% van respondente minder tyd aan hul voorkeurplatform bestee, met sowat 10% wat aangedui het hulle sal die platform geheel en al nie sonder nuus gebruik nie;
• Respondente lees oor alle platforms heen meer gereeld hooftrekke en brokkies van 'n nuusberig as om net die opskrif te lees. Rofweg die helfte van die respondente het aangedui die rede waarom hulle nie deurklik na die berig op die nuuswebwerf nie is omdat die opskrif en die brokkie genoegsame inligting bevat. Ander redes wat aangevoer is dat hulle nie belanggestel het in die berig nie (rofweg 50%) of dat hulle nie die tyd het om die volle artikel te lees nie (rofweg 20%). Altesame 31% het aangedui dat hulle nie deurklik nie as die opskrif lyk na klikaas.
• Benewens dat dit genoegsame inligting bevat, het baie respondente aangedui dat opskrifte en brokkies 'n gerieflike manier is om nuus te kry (rofweg 45%), dat dit tydsgewys doeltreffend is (rofweg 38%) en dat dit beteken hulle kan dit vermy om vir nuus te betaal (rofweg 20%);
• Diegene wat deurklik na die nuusberig het dit meer gereeld gedoen as hulle die opskrif en die brokkie gelees het.
LEES OOK | Só maak Google geld uit SA nuus
Wat gemeenskapsnuus of nuus in plaaslike tale betref, het 45% van die respondente aangedui hulle bestee meer tyd op die platform wanneer gemeenskapsnuus beskikbaar is. Rofweg 20% bestee meer tyd op die platform wanneer nuus in plaaslike tale beskikbaar is.
Oor die impak wat kunsmatige intelligensie (KI) waarskynlik op die gebruik van nuus het, het 'n kwart van die respondente aangedui hulle gebruik reeds gereeld kletsbotte vir nuus. Altesame 57% het aangedui hulle sal waarskynlik generatiewe KI-platforms gebruik om in die toekoms toegang te kry tot nuus.
Luidens die verklaring beklemtoon die peiling verder die groeiende bewustheid onder Suid-Afrikaners oor die belangrikheid van akkurate en betroubare nuus in die hedendaagse digitale omgewing.
"Die meeste respondente oor alle platforms heen het aangedui dat hulle die platform meer vertrou wanneer daar geloofwaardige nuus beskikbaar is. Die meerderheid het saamgestem dat die teenwoordigheid van geloofwaardige nuus van gesaghebbende nuusdienste help om die verspreiding van vals nuus te verminder."






















