Tegnuus

Kan ’n KI-agent jou help kraam?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Google se Gemini-KI-program word ingespan by baie van die inisiatiewe wat Kabelo Makwane, direkteur van Google in Suid-Afrika, uitgelig het.  Foto: Getty Images
Google se Gemini-KI-program word ingespan by baie van die inisiatiewe wat Kabelo Makwane, direkteur van Google in Suid-Afrika, uitgelig het. Foto: Getty Images

Kunsmatige intelligensie (KI) bied aan Afrika die geleentheid om teen 2030 sy ekonomie met sowat $30 miljard (sowat R532 miljard) te laat groei.

Vir Suid-Afrika is die KI-bedryf reeds meer as $3 miljard (sowat R53,2 miljard) werd en kenners meen dit kan in die volgende vyf jaar tot meer as $9 miljard (sowat R159,7 miljard) verhoog.

So het Kabelo Makwane, direkteur van Google in Suid-Afrika, Donderdag gesê by die opening van die eerste AI Empowered-konferensie in Kaapstad.

Dié geleentheid word in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gehou met die oog daarop om te besin oor hoe KI gebruik kan word om sowel wêreldwyd mee te ding as om plaaslike probleme op te los.

Luidens 'n verklaring van die konferensie word dit gehou teen die agtergrond van die ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika en die potensiaal van KI om 'n "ware katalisator vir inklusiewe ekonomiese groei, werkskepping en langtermyn-veerkragtigheid te word".

Makwane het verwys na die krag van die KI waaraan hulle tans by Google werk, veral Google se Gemini-KI, en verskeie voorbeelde gegee van hoe dit ook in Afrika en Suid-Afrika ingespan word om probleme intyds op te los.

Van die inisiatiewe wat hy uitgelig het, sluit in Project Astra, wat KI sal gebruik om tegnologie meer toeganklik te maak.

"Baie mense het steeds nie toegang tot tegnologie nie weens die beperkings wat intree wanneer mense moet leer om dit te gebruik. Jy moet byvoorbeeld leer hoe om 'n Qwerty-sleutelbord te gebruik. Dis op sigself 'n hindernis vir mense met verskillende gestremdhede," sê hy.

Kabelo Makwane, Suid-Afrikaanse direkteur van Google, open Donderdag die eerste AI Empowered-konferensie in Kaapstad. Foto: Karla van der Merwe
Kabelo Makwane, Suid-Afrikaanse direkteur van Google, open Donderdag die eerste AI Empowered-konferensie in Kaapstad. Foto: Karla van der Merwe

Van vertaling tot raad met kraam

"Met Project Astra het ons KI-enjins in staat gestel om te kan waarneem en interpreteer. Stel jou voor jy het 'n virtuele vergadering waar jy in Afrikaans of in Tswana praat met iemand wat in Frankryk sit. KI doen die vertaling na albei kante.

"En ons het nie daar opgehou nie. Om 'n stap verder te gaan, kan jy selfs met gebaretaal intydse vertalings hê na die persoon aan die ander kant."

Soortgelyke vertaalvermoë word ook moontlik gemaak deur Google se NotebookLM, 'n KI-platform wat met navorsing en opsommings help. Dié platform sal nou ook in Zoeloe en Afrikaans beskikbaar wees, het Makwane aangekondig.

Nog 'n voorbeeld wat hy uitgelig het, is die MomConnect-platform, wat Google saam met van sy vennote help skep het waar vroue met kinders vrae kan stuur en antwoorde kan kry oor enige gesondheidsprobleem.

"Ons kry daagliks tussen 40 000 en 60 000 navrae op dié platform. Mense in landelike en buitestedelike gebiede het nie noodwendig toegang tot gesondheidsorgdienste nie en ons kan dit aan hulle deur dié platform bied," sê hy.

"Hulle kan toegang tot gesondheidsorgdienste kry deur 'n agent op hul foon wat vrae kan beantwoord wat hulle van byvoorbeeld kritieke gevalle en risiko's deur hul kraamproses kan help."

Kabelo Makwane, direkteur van Google in Suid-Afrika. Foto: Linkedin/Kabelo Makwane
Kabelo Makwane, direkteur van Google in Suid-Afrika. Foto: Linkedin/Kabelo Makwane

Daarbenewens, sê Makwane, word baie geld belê om onderwysers en leerlinge op te lei om KI te gebruik om onderskeidelik hul onderrig- en leerervarings aan te vul en sodoende gereed te wees vir 'n KI-gedrewe toekoms.

"Ons bestuur ook 'n akademie vir die GovTech-program, wat basies beginnerondernemings ondersteun wat spesifiek fokus op die oplossing van probleme met dienslewering en die regering - soos om die regmaak van slaggate te outomatiseer," voeg hy by.

"Ons bemagtig ook klein en middelgroot ondernemings deur ons Hustle Academy en KI-opleidingskampe. Sedert 2022 werk ons saam met die regering om 'n nuwe program vir KI-opleiding te ontwikkel en ons het byna 18 000 klein en middelgroot ondernemings gegradueer. Tot 4 600 van hulle is in Suid-Afrika en daardeur het ons hulle in staat gestel om meer produktief te wees, te innoveer en te groei."

- karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM