Meer as 'n jaar nadat Canal+ aangekondig het hy wil MultiChoice uitkoop, het die twee mediafirmas 'n plan bekend gemaak wat hulle glo reguleerders se goedkeuring sal kry.
Dit sluit in 'n uitgebreide bemagtigingstransaksie wat die firmas insluit van Sipho Maseko, 'n voormalige uitvoerende hoof van Telkom, en Sonja de Bruyn, 'n direkteur en voormalige direkteur van tientalle genoteerde firmas, waaronder Remgro, RMB, Discovery, Anglo American en Mr Price.
Maseko se Afrifund Investments is 'n konsultasiefirma oor beleggings en De Bruyn se Identity Partners is 'n beleggingsbeheerfirma.
Die plan is min of meer wat ontleders voorspel het gaan gebeur, naamlik dat die maatskappye wat MultiChoice se uitsaailisensie in Suid-Afrika besit, van die res van die groep geskei word.
Canal+ se langtermynplan
Canal+ het die afgelope jare geleidelik sy belang in MultiChoice verhoog. Toe dit in Februarie verlede jaar tot meer as 35% styg, was Canal+ wetlik verplig om 'n aanbod aan alle ander aandeelhouers te doen.
Die aanbod, van R125 per aandeel, is in Junie verlede jaar gedoen.
Daarna het Canal+ voortgegaan om sy belang te verhoog en dit beloop nou meer as 45%.
Wet op Elektroniese Kommunikasie
Intussen het onderhandelinge met die Mededingingskommissie en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika begin oor hoe om die MultiChoice-groep te herstruktureer.
Buitelanders mag ingevolge die Wet op Elektroniese Kommunikasie nie meer as 20% beheer van 'n maatskappy wat plaaslike uitsaailisensies hou nie, terwyl die Mededingingskommissie besorg is oor die behoud van werk en van swart ekonomiese bemagtiging.
Luidens 'n gesamentlike verklaring deur MultiChoice en Canal+ is die voorstel dat die MultiChoice-groep só herstruktureer word dat MultiChoice Edms. Bpk. geskei word van die groep en 'n heeltemal onafhanklike entiteit word.
MultiChoice Edms. Bpk. is die entiteit wat die uitsaailisensie besit (die lisensiehouer) en sal dus kan voortgaan om dit te hou.
Histories benadeelde mense sal die meerderheidsbelang van die lisensiehouer wees. Die bemagtigingskema Phuthuma Nathi se ekonomiese belang sal 27% wees, en belange sal ook besit word deur twee "gevestigde swartbeheerde maatskappye", Identity Partners Itai en Afrifund Consortium, en 'n werknemerstrust.
Die MultiChoice-groep se belang in die lisensiemaatskappy sal 49% wees, maar sy stemreg net 20%.
Die MultiChoice-groep sal sy 75%-belang in MultiChoice Suid-Afrika behou, wat ná die herstrukturering nie meer die lisensiemaatskappy sal insluit nie. Phuthuma Nathi sal ook sy 25%-belang in MultiChoice Suid-Afrika behou.
Die MultiChoice-groep sal sekere dienste aan die lisensiemaatskappy lewer.
Gesprekke word nog gevoer met die direksie van Phuthuma Nathi, maar die transaksie is in beginsel goedgekeur. 'n Onafhanklike direksie sal nou saamgestel word om die aanbod te hersien en formeel goedkeuring te gee ingevolge relevante regulasies.
Geen ontwrigting vir kykers
Die transaksie sal geen ontwrigting vir Suid-Afrikaanse kykers meebring nie, belowe die maatskappye. "Mettertyd sal dié intekenare voordeel trek uit die bykomende inhoud en tegnologiebeleggings wat die MultiChoice-groep voorsien in sy kapasiteit as verskaffer aan die lisensiemaatskappy."

Canal+ en MultiChoice sê hulle is vol vertroue dat die voorgestelde struktuur aan alle wetgewing voldoen.
Die voorstel is reeds einde September aan die Mededingingskommissie voorgelê en word nog oorweeg.
Maxime Saada, uitvoerende hoof van Canal+, beskryf dit as 'n geleentheid om 'n unieke, wêreldwye mediamaatskappy te skep met 'n sterk teenwoordigheid oor die hele Afrika heen, "met die skaal, kundigheid en kreatiwiteit om met die grootste spelers in die mediasektor en breër mee te ding en saam te werk".
"Ons bly daartoe verbind om ons ambisie te realiseer om MultiChoice en Canal+ byeen te bring, met vandag se aankondiging wat nog 'n tree vorentoe verteenwoordig."
Calvo Mawela, uitvoerende hoof van die MultiChoice-groep, sê die maatskappy het 'n "lang en trotse tradisie om goeie waarde vir die aandeelhouers van Phuthuma Nathi, een van die suksesvolste bemagtigingskemas in Suid-Afrika, te skep".
Hy sê om die reis met Phuthuma Nathi voort te sit én bemagtiging uit te brei, is 'n "inspirerende vooruitsig".





















