Minstens drie noterings lê voor einde Maart 2026 vir die Prosus-groep se filiale voor, het Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, Maandag gesê.
Die groot vraag is tans wanneer die betalingsfirma PayU gaan noteer, maar Bloisi wou nie sê watter van sy filiale gaan noteer of wanneer nie.
Dis wel voorheen gesê die kans is goed dat PayU gaan noteer, om te volg in die spore van die notering vroeër vanjaar van die Indiese kosafleweringsfirma Swiggy.
Notering is 'n manier om te kapitaliseer op beleggings, met Swiggy se notering wat Prosus $500 miljoen in die sak gebring het.
Naspers en Prosus het 'n sterk stel resultate vir die boekjaar tot einde Maart uitgereik. Naspers se kernwesensverdienste het met 46% tot $3,1 miljard gegroei en Prosus s'n was 47% hoër op $7,4 miljard.
Kernwesensverdienste word beskou as die mees akkurate weerspieëling van wins uit voortgaande bedrywighede omdat dit die wins en verlies uit die verkoop van bates, herstrukturering of eenmalige gebeure uitsluit.
Naspers en Prosus se resultate is grootliks dieselfde, maar Naspers se syfers sluit ook die Suid-Afrikaanse ondernemings, die Takealot-groep en Media24, in. Media24 is nie genoteer nie en reik dus nie sy resultate afsonderlik uit nie.
Naspers se dividend is nog nie bekend gemaak nie, maar Prosus se dividend is verdubbel tot 20 eurosent per aandeel. Naspers se dividend sal bepaal word nadat Prosus-aandeelhouers die dividend goedgekeur het, uit die bedrag wat Naspers van Prosus ontvang.
Dis die eerste stel voljaarresultate waarvoor Bloisi verantwoordelik is sedert hy in Mei verlede jaar as uitvoerende hoof aangestel is. Hy was voorheen hoof van die Brasiliaanse kosafleweraar iFood.

Naspers in syfers
Naspers en Prosus gee hul resultate in dollar aan. Om dit in rand om te skakel, veroorsaak verwringing omdat daar reeds omskakelings was van die geldeenhede waarin dit verdien is. Die syfers vergelyk die boekjaar tot einde Maart 2025 met die vorige boekjaar.
• Inkomste het met 20% tot $7,2 miljard toegeneem.
• Aangepaste verdienste voor rente en belasting (ebit) het van 'n verlies van $154 miljoen tot 'n wins van $130 miljoen gestyg.
• Kernwesensverdienste het met 46% tot $3,1 miljard gegroei.
Prosus in syfers
Vir Prosus lyk die syfers soos volg:
• Inkomste het met 21% tot $6,2 miljard gestyg.
• Aangepaste ebit het van 'n verlies van $118 miljoen tot 'n wins van $169 miljoen gestyg.
• Kernwesensverdienste was 47% hoër op $7,4 miljard.
E-handel
Naspers se inkomste uit e-handel het met 21% tot $7 miljard toegeneem. Die aangepaste ebit het 18-voudig toegeneem, tot $430 miljoen.

Kosaflewering
Naspers se inkomste uit kosaflewering het met 30% tot $1,3 miljard toegeneem. Die aangepaste ebit het meer as verdriedubbel tot $218 miljoen.
Die Brasiliaanse reus iFood het sy aangepaste ebit met 178% tot 'n rekord van $226 miljoen laat groei. Bestellings het met 29% gegroei en inkomste met 30%. Die bruto handelswaarde (GMV) van aflewerings, 'n kernmaatstaf vir afleweringsdienste, was 32% hoër.
In Europa en Suidoos-Asië was Delivery Hero se GMV-groei meer gedemp op 8%, maar sy inkomste het met 24% gegroei danksy groter winsgewendheid.
Die Indiese kosafleweraar Swiggy het in die 2024-kalenderjaar sy GMV met 29% gegroei en sy verlies verminder. In die eerste kwartaal van 2025, ook die eerste kwartaal van Swiggy se boekjaar, het die waarde van bestellings met 40% gegroei.
Geklassifiseerde advertensies
Die afdeling vir geklassifiseerde advertensies, wat elders OLX insluit en in Suid-Afrika ook AutoTrader en Property24, het sy aangepaste ebit met 61% tot $273 miljoen verhoog en die winsgrens tot 35%.
Die inkomste het met 18% tot $788 miljoen gegroei, met veral motor- en huisverkope wat puik gevaar het, met groei van onderskeidelik 24% en 23%.
Betalings en finansiële dienste
Die inkomste uit betalings en finansiële dienste, wat PayU insluit, het met 34% tot $1,3 miljard gegroei. Die aangepaste ebit is steeds 'n verlies van $11 miljoen, maar aansienlik minder as verlede jaar se verlies van $31 miljoen.
Betalings in Indië het gelyk gebreek in die tweede helfte van die boekjaar.
E-kleinhandel
Aanlyn kleinhandel het sy inkomste met 13% tot $3,3 miljard verhoog.
Die Roemeense e-kleinhandelaar eMag is nou winsgewend.
In Suid-Afrika het die Takealot-groep se GMV met 13% gegroei en sy inkomste met 15%, onder meer danksy die TakealotMore-intekendiens.
Die webwerf Takealot.com het sy inkomste met 17% verhoog en sy GMV met 13%.
Mr D se inkomste was 8% hoër. Die groei in aflewering van kruideniersware - 'n vennootskap met Pick n Pay - het met 81% opgeskiet.
Ondanks "moeilike handelsomgewing" het Mr D se aangepaste ebit tot $4 miljoen toegeneem.
Media
Naspers se media-afdeling, wat nuus, tydskrifte, boeke en televisie insluit, het 'n aangepaste ebit-verlies van $15 miljoen gely, teenoor die aangepaste ebit-wins van $1 miljoen verlede jaar.
Die gekonsolideerde bedryfsverlies was $23 miljoen, ook teenoor 'n wins van $1 miljoen verlede jaar. (Die syfers word ook in dollar aangedui en nie omgeskakel nie omdat die gemiddelde wisselkoers vir die boekjaar nie aangedui word nie.)
Die afdeling se inkomste was $141 miljoen, wat 19,4% minder is as in die vorige boekjaar.
Kapitaaltoewysing
Bloisi beklemtoon twee groot transaksies wat die afgelope jaar aangekondig is wat ná die einde van die boekjaar voltrek is of nog nie voltooi is nie.
Die een is die verkryging van die Brasiliaanse aanlyn reisagentskap Despegar in Mei 2025. Die ander is die verkryging van die Britse en Europese kosafleweringsdiens Just Eat Takeaway.com, waarmee gevorder word.
Ná die verkryging van Just Eat Takeway sal Naspers nagenoeg $11 miljard kapitaal beskikbaar hê en Bloisi sê hulle gaan voort met die ambisie om die grootste tegnologiefirma buite die VSA te bou.
Aandeleterugkoopprogram
Naspers se langdurige en onbepaalde aandeleterugkoopprogram het die netto batewaarde per aandeel met 15% laat toeneem en $50 miljard waarde vir aandeelhouers ontsluit.
Dit word beskryf as die grootste projek van sy soort onder tegnologiemaatskappye wêreldwyd, met 29% van Prosus se aandele en 27% van Naspers s'n wat sedert 2022 teruggekoop is.
• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n filiaal van Naspers.
- hanlie.stadler@24.com
• Die berig is ná publikasie met bykomende syfers bygewerk.





















