
Met die winter eindelik in volle gang is dit die perfekte tyd om snoesig tuis 'n nuwe reeks of 'n fliek te kyk. Maar daarvoor moet jy weet watter stromingsdienste teen watter pryse beskikbaar is.
Netflix, 'n gewilde stromingsdiens, gaan vir die eerste keer sedert 2021 sy pryse in Suid-Afrika opstoot.
Netflix het vroeër in Mei op sy webwerf aangekondig dat van die planne se pryse met ingang 7 Junie met 20% gaan styg.
Die styging lyk soos volg:
• Netflix se selfoonplan: van R49 tot R59 - 20%-styging;
• Die standaardplan: van R159 tot R179 - 13%-styging;
• Die premiumplan: van R199 tot R229 - 15%-styging.
Die basiese plan bly R99, maar slegs een persoon kan op 'n slag op die rekening kyk. Die gehalte kan ook net tot 720p (HD) gestel word.
Op die standaardplan kan twee profiele op 'n slag op die rekening kyk, en die gehalte kan tot 1080p (volle HD) gestel word.
Op die premiumplan kan vier profiele op 'n slag kyk, en die gehalte kan tot 4K gestel word.
Showmax
Suid-Afrika se plaaslike stromingsdiens Showmax se pryse is ook op 1 Mei verhoog.
Showmax het 'n mobiele plan van R50 waarop een profiel kan kyk, en op sy standaardplan van R99 kan twee profiele op een rekening kyk.
Showmax het ook bykomende planne vir sokkerliefhebbers, maar dit is slegs op mobiele toestelle beskikbaar.
Vir R99 kan 'n mens 'n mobiele Showmax Premier League-plan kry wat die Engelse Premierliga (EPL) en die Premier-sokkerliga (PSL) se wedstryde toon.
Vir R120 kry 'n mens Showmax Entertainment en Showmax Premier League vir mobiele toestelle.
Vir R150 kan 'n mens Showmax Entertainment vir alle toestelle kry en Showmax Premier League vir mobiele toestelle.
Apple TV
Apple TV se standaardplan kos R124,99 en ses profiele kan op dieselfde tyd kyk. Dit het nie tans 'n mobiele plan nie.
Disney+
Disney+ se subskripsie is R159 per maand, maar indien jy jaarliks wil betaal, kos dit R1 590 - dan kry jy 12 maande vir die prys van 10.
Vier profiele kan op dieselfde tyd na iets op die rekening kyk.
Disney+ het ook 'n opsie vir 'n mobiele kontrak vir R49 per persoon.
Amazon Prime
Verreweg die goedkoopste vir toestelle buiten fone is Amazon Prime se standaardopsie, wat jou R79 uit die sak sal jaag.
Drie mense kan op 'n slag op die rekening kyk, maar slegs twee kan dieselfde program of fliek kyk.
Amazon se selfoonplan is ook die goedkoopste, teen R29 per persoon.
DStv Stream
• EasyView: R29 per maand. Ongeveer 30 kanale beskikbaar, beperkte sport. 45% afslag op Showmax.
• Access: R99 per maand. Ongeveer 75 kanale, basiese sportkanale. Een profiel op enige toestel en een op 'n selfoon kan op dieselfde tyd kyk. 45% afslag op Showmax.
• Family: R299 per maand. Meer as 95 kanale, steeds beperkte sport, maar meer as die ander planne. Een profiel op enige toestel en een op 'n selfoon kan op dieselfde tyd kyk. Vermaak vir die hele familie. 45% afslag op Showmax.
• Compact: R399 per maand of R299 per maand vir 12 maande gebondel. Meer as 120 kanale. Plaaslike reekse en werklikheidstelevisie, asook 'n fokus op sokker en stoei. Twee profiele kan op dieselfde tyd kyk plus 'n profiel op 'n selfoon. 45% afslag op Showmax.
• Compact Plus: R549 per maand. Twee profiele plus 'n profiel op 'n selfoon kan op dieselfde tyd kyk. Plaaslike en internasionale sokker, asook sommige stoeigevegte, rugby, krieket en meer. Flieks en ander vermaak ingesluit. 45% afslag op Showmax.
• Premium: R699 per maand vir 12 maande gebondel, of R799 per maand. Twee profiele plus 'n profiel op 'n selfoon kan op dieselfde tyd kyk. Alle sport, reekse en flieks. Showmax ingesluit.
- stefani.terblanche@media24.com






















