Tegnuus

Vergoeding van $250 m.: Só dok Silicon Valley op vir KI-slimkoppe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n 24-jarige navorser op die gebied van kunsmatige intelligensie (KI) sal binnekort sowat 327 keer meer verdien as wat J. Robert Oppenheimer gekry het toe hy die atoombom ontwikkel het.

So lui 'n onlangse verslag deur die tegnologie-publikasie Ars Technica.

Matt Deitke, KI-navorser, is onlangs $250 miljoen (sowat R4,46 miljard) oor vier jaar aangebied om sy kundigheid na Meta, moedermaatskappy van Facebook, Instagram en WhatsApp, te bring. Hy sal $100 miljoen in sy eerste jaar verdien.

Sy kennis van stelsels wat beelde, klanke en teks hanteer, is presies die soort tegnologie waarmee Meta tans werk.

Mark Zuckerberg, Meta se uitvoerende hoof, het glo nog 'n KI-ingenieur $1 miljard oor 'n paar jaar aangebied.

Daar is vele soortgelyke gevalle waar KI-navorsers met enorme kontrakte gewerf word, lui die verslag.

Die aanbod aan Deitke verpletter elke historiese presedent vir wetenskaplike en tegniese vergoeding wat Ars Technica kon vind - insluitend salarisse vir diegene wat by die ontwikkeling van belangrike wetenskaplike mylpale van die 20ste eeu betrokke was.

Oppenheimer het in 1943 sowat $10 000 (R178 525) per jaar verdien vir sy werk aan die Manhattan-projek. Deesdae sal dit sowat $190 865 (R3,4 miljoen) beloop, wat volgens die verslag omtrent soveel is as wat 'n senior sagteware-ingenieur vandag verdien.

Mark Zuckerberg, Meta se uitvoerende hoof. Foto: Getty Images
Mark Zuckerberg, Meta se uitvoerende hoof. Foto: Getty Images

"Dié astronomiese salarisse weerspieël wat volgens tegnologiemaatskappye op die spel is - 'n wedloop om eerste kunsmatige superintelligensie, oftewel masjiene wat intellektuele take op of bo die menslike vlak kan verrig, te skep," lui die verslag.

"Tegnologiemaatskappye meen hulle is betrokke in 'n wapenwedloop waar die wenner die beskawing kan hervorm. Anders as die Manhattan-projek of Apollo-ruimteprogram, wat spesifieke, beperkte doelwitte gehad het, het die wedloop vir kunsmatige algemene intelligensie oënskynlik geen plafon nie."

Zuckerberg het onlangs in 'n ope brief geskryf hy is optimisties dat superintelligensie die mensdom sal help om sy tempo van vooruitgang te versnel en "die potensiaal het om 'n nuwe era van persoonlike bemagtiging in te lui waar mense groter agentskap sal hê om die wêreld te verbeter in die rigtings wat hulle kies".

"Ons (by Meta) het die hulpbronne en die kundigheid om die nodige massiewe infrastruktuur te bou en die vermoë en wil om nuwe tegnologie aan miljarde mense oor ons produkte heen te lewer."

Die tegnologienuusdiens PYMNTS berig egter navorsing toon hoewel die meeste finansiële hoofde sê hulle verstaan die konsep van agentiese KI - oftewel stelsels wat kan beplan, redeneer en kan optree met minimale of geen menslike insette nie - is min gereed om dit wel in werking te stel.

"Baie maatskappye is opgewonde oor wat agentiese KI kan doen, maar dink nie genoeg wat dit verg om dit veilig te gebruik nie," het James Prolizo, inligtingsveiligheidshoof van Sovos, aan PYMNTS gesê.

"Dié gereedskap begin werklike besluite neem, nie net take outomatiseer nie, en dit verander die spel."

- karla.vandermerwe@media24.com

• Karla van der Merwe is 'n Netwerk24-beursjoernalis.

Saamgestel Deur Karla Van Der Merwe

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM