Soos ek hierdie tik, voel dit regtig na 'n "full circle moment''.
Sowat twee jaar gelede het ek my laaste stuk as student vir Die Student gestuur. Ek was vol angs en onsekerheid oor my toekoms omdat ek amper klaar was met my Nagraadse Onderwyssertifikaat en nog geen vooruitsigte vir die volgende jaar gehad het nie.
Ek was 22 en besig met my laaste eksamens. Ek het hier en daar aansoek gedoen vir poste, maar die vereiste van "minstens twee of drie jaar ondervinding'' het bo my kop gehang soos 'n donker wolk.

Hoe moes ek ondervinding opdoen as ek nie iewers kon begin as gevolg van daardie vereiste nie? So, glo my as ek sê ek ken die "struggle'', maar glo my ook as ek sê daar is hoop en buitendien het Jesus al lankal jou paadjie vooruit beplan!
Met my eindeksamen het ek my heel eerste onderhoud gekry en ek kon dit skaars glo! Vier van my vriendinne het toe almal reeds poste vir die volgende jaar gehad.
Ek was maar net te bly om 'n onderhoud te kry, want almal weet hoe skaars werk is, veral vir 'n student met geen ondervinding.
Ná my onderhoud het ek besluit om dit as 'n leerstuk te gebruik vir die volgende moontlike een. Nietemin, 'n week of twee later het ek uitgevind dat ek die pos gekry het en ek sou die komende jaar vanaf Paarl verhuis Mosselbaai!

Ek dink nie ek het al ooit so baie gehuil of so alleen gevoel toe my ouers my moes groet en met die ou wit bakkie om die draai wegry nie. Daar staan ek in my deur, alleen in 'n vreemde dorp waar ek niemand of niks ken in my nuwe plekkie wat oorkant die skool geleë is nie.
'n Paar dae later moes ek by die nuwe skool begin. Sewe nuwe onderwysers saam met my waarvan dit drie ander onderwysers se eerste jaar en werk ook was! Ek herken toe vir Fritz, saam met wie ek skaars 'n paar maande tevore 'n Engelse les moes aanbied in Stellenbosch.
Ek is nou 23 en amper klaar met my eerste jaar van onderwys en al wat ek kan sê, is wow, what a journey. Dit was seker een van die moeilikste en lekkerste jare van my lewe.
Die punt wat ek wil maak, is: Moet asseblief nie opgee nie, nie met werk soek of onderwys nie, want jy gaan opeindig waar jy moet! Hou net aan met aansoek doen, hou Facebook dop, stuur jou CV uit na skole, of hulle nou 'n pos aanbied of nie. Ek weet van so baie studente wat ná NOS dadelik by 'n werk ingestap het. Die vyf mense saam met wie ek geproef het, het ook almal 'n pos gekry! Ons het ook byvoorbeeld by die werk 'n maand gelede omtrent vyf nuwe poste geadverteer.
Onthou net, studente stap uit met die jongste kennis en idees.
Ek probeer nie wegvat van die feit dat werk skaars is en dat dit baie moeilik is om een te kry, veral vars uit universiteit uit nie, maar dit is nie onmoontlik nie. Moenie die "geen ondervinding'' as 'n negatief sien of dat dit maak dat jy nie aansoek doen of in sak en as gaan sit nie.
Onthou net, studente stap uit met die jongste kennis en idees. En omdat ons 'n tydjie tevore nog op skool was, maak dit dat ons as onderwysers "relatable'' is. Ons kan 'n verskil maak! Glo my as ek sê dat van die skole op soek is na jong onderwysers met nuwe idees en onderrigmetodes, want die harde werklikheid is dat skole, dissipline en die kinders verander het. En ek hou daarvan om te dink dat ons as jong mense baie aanpasbaar is en floreer op verandering.
- Rozanne Bester het onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Sy is van die Paarl.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!















