Liewe jong mens, daar’s geen haas!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Man, tjom. Ek weet nie meer nie, jong. Dinge gebeur nou net te vinnig. Die een oomblik was ek nog vars en reg vir die lewe en nou?"

Dit was die presiese woorde van my vriendin toe ek haar vra hoe dit regtig met haar gaan. En die alewige "hoe gaan dit nog met jou?" het nie gevolg nie.

Pleks daarvan het sy my heelwat mismoedigheid aangekyk met die hoop dat ek sal saamstem.

En ek het met haar saamgestem.

Daar kom 'n punt in elke jong mens se lewe waar jy die tyd neem om te besin om seker te maak of jy nou eintlik op die regte pad is.

Ek wil jou terugvat na jou 18-jarige self. As jy enigsins soos ek was, was jou lewe haarfyn beplan.

Keliah Daniels Foto: Verskaf
Keliah Daniels Foto: Verskaf

Vanaf jou laaste dag van skool tot en met jou eerste dag op universiteit, met jou droomberoep wat wink.

As dit egter nie jou realiteit is nie, wil ek vir jou sê dis oukei.

Jou pad van hoërskool na universiteit het dalk glad verloop, maar niemand vertel jou ooit van wat tussenin gebeur nie.

Dis op en af, glibberig en niks moois nie. Niks in jou tienerlewe kon jou ooit voorberei vir wat voorlê nie.

Om dinge te vererger, lewe ons in so 'n vinnige wêreld sonder dat iemand regtig weet waarheen ons op pad is.

Sosiale media, die ouer garde en selfs jou klasmaats wil jou laat glo dat jy die agteros is.

Wel, jy is nie!

Ek is seker dat jy al, nes ek, by mense gehoor het dat jy geen rede het om jou sukses met ander te vergelyk nie.

Die gevaarlikste speletjie wat jy nou kan speel, is om jou vordering in die lewe met ander te vergelyk.

Ek het daarby ge-stick en ten spyte van die feit dat die samelewing my laat voel het dat ek agter is, het ek steeds teen my eie pas voortgegaan. En die vrugte daarvan gepluk.

Die gevaarlikste speletjie wat jy nou kan speel, is om jou vordering in die lewe met ander te vergelyk.

Onthou, almal het verskillende doelwitte en net die blote feit dat jy voel asof jy iets verkeerd doen, is 'n skelrooi vlag. Jou doelwitte is haalbaar en die wag is die moeite werd.

Kom ons sê jy is 'n jong onderwyser en het nog altyd daarvan gedroom om 'n onderwyser te word. Hoe kry jy jouself by die punt om jouself met jou jong rekenmeester-vriend te vergelyk? Of die mees algemene deesdae: Om jou sukses te vergelyk met iemand op Instagram.

Ek gebruik onderwys as 'n voorbeeld, want ek het onlangs 'n artikel gelees deur Adriaan Dekker met die opskrif "Ek hoor dit daagliks - jy is ‘net' 'n onderwyser".

Kyk, ek probeer nie om onderwys te beklemtoon nie, nee, my fokus is op die tweede deel - "net" 'n onderwyser.

Wanneer het ons by die punt gekom om mekaar te oordeel op beroepskeuses?

Dis so 'n algemene onderwerp deesdae - jong mense wat voel asof hulle nie die regte beroepskeuse gemaak het nie.

Onderwys, skryf, kóók vir 'n lewe? Hel, is jy seker?

En dit kom nie net van hulle self af nie. Ouers, ooms en tannies, en selfs vriende maak 'n punt daarvan om jou daaraan te herinner dat jou studiekeuse of beroepskeuse dalk nie so great is nie.

Onderwys, skryf, kóók vir 'n lewe? Hel, is jy seker?

Wel, ek sê te hel met dit. Ons het dan net die een lewe, hoekom nie doen waarvoor jy lief is nie? Ek weet dis makliker gesê as gedaan, veral in die ekonomie waarin ons ons tans bevind, maar hei, niks is jou geluk werd nie. Veral nie 'n rigting wat jou ouers of die internet vir jou gekies het nie.

Die realiteit is dat nie almal jou keuses in die lewe gaan ondersteun nie, en die belangrikste om te onthou, is dat jy nie almal se goedkeuring nodig het nie.

Onthou, dis jou lewe, jóú keuses en op die ou end maak jou geluk die meeste saak. Noem my cheesy, maar ek het geen plek vir enige negatiwiteit in my lewe nie en selfs dit het my 'n lang tyd geneem om te besef, want daar was 'n punt waar ek na al die "geraas van ander" in die agtergrond geluister het.

Dit het alles gestop toe ek 'n paar jaar terug besef het dat daar geen haas is nie.

Ja, ons het 'n lewe om te lei en almal wil suksesvol wees en 'n gemaklike lewe lei, maar dis nie 'n resies nie. Sien dit só: Jy is jou enigste kompetisie.

Probeer elke dag om jou vermoë uit te daag, jy sal jouself verbaas - miskien jou idee van sukses vroeër behaal ook.

Vergeet van die influencers, die hustle-kultuur en fokus op jouself.

Jou lewe en al sy suksesse lê uitgestrek voor jou. Maak gebruik van elke geleentheid wat jou pad kruis, verbeter jou vaardighede en stap teen jou eie pas.

En jinne, onthou net, daar is geen haas nie!

  • Keliah studeer BA (internasionale studies) aan die Universiteit Stellenbosch (US).
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

Keliah Daniels, US

SPELETJIES VANDAG

CTA