Gwarube tevrede met eindeksamen, maar bekommerd oor veiligheid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die matriekeindeksamen verloop sover vlot, maar daar is groot kommer oor die veiligheid van leerlinge, het Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, Woensdag in die parlement gesê waar sy terugvoering oor die eksamen gegee het.

Sy het onder meer na die aanval op vyf matriekleerlinge van 'n skool in die Mqhekezweni-nedersetting verwys wat verlede week in hul losiesplek verkrag en beroof is.

Dit is " 'n afgryslike daad", sê Gwarube.

Die departement het berading en traumadienste aan die betrokke leerlinge beskikbaar gestel.

"Ons prioriteit is om hulle te ondersteun. (Die gebeure) werp opnuut lig op hoe belangrik dit is om ons vroue en kinders teen geslagsgeweld te beskerm."

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto: Gallo Images
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto: Gallo Images

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die dood van leerlinge nadat hulle gifstowwe ingekry het.

"Die plaagdoders wat in ons gemeenskappe gebruik word, is ongelooflik giftig en wanneer kinders dit inneem, kan dit hulle baie siek of selfs dood maak. As minister is skoliere se veiligheid my hoogste prioriteit. Ouers, gemeenskappe en smouse moet versigtig wees wanneer hulle met plaagdoders werk."

Volgens Gwarube werk die departement aan riglyne om gemeenskappe in te lig oor die gevaar van plaagdoders en sodoende die risiko's daaraan verbonde te verminder.

"Dít sal eersdaags saam met my kollega die minister van gesondheid (dr. Aaron Motsoaledi) afgehandel word. Boonop beplan ons om hierdie plaagdoders op skoolterreine te verbied. Skole hoef dit nie te gebruik nie."

Desondanks is Gwarube tevrede met hoe die eindeksamen verloop.

Ons stelsels vaar tot dusver goed, hoewel dit onder geweldige druk is.

—  Siviwe Gwarube

Teen Woensdag was 104 van die 181 vraestelle (byna 58%) reeds afgehandel. Hoewel die departement uitdagings soos betogings en gure weer die hoof moes bied, is sy tevrede met hoe haar departement dit hanteer het.

"Ons stelsels vaar tot dusver goed, hoewel dit onder geweldige druk is. Ons het reeds verskeie uitdagings gehad, maar ons kon planne beraam om die onvoorsiene situasies te oorkom."

Volgens Gwarube is daar een leerling wat nie sy vraestel kon voltooi nie omdat hy in hegtenis geneem is.

"Hy is in die eksamenlokaal in hegtenis geneem. Hy is 'n verdagte in 'n saak van gewapende roof."

Daar is ook verskeie selfone en kulnotas gekonfiskeer en dié sake word ondersoek.

"Daar was boonop twee bedrieërs wat vraestelle wou aflê, maar hulle is in hegtenis geneem."

Gwarube sê daar sal nooit 'n volmaakte eksamentydperk kan wees nie omdat mense betrokke is, maar dis belangriker om te sien hoe die bedryfstelsel op druk reageer.

"Ons is tevrede met hoe die eksamen sover afgeloop het en ons is behoedsaam vir faktore wat buite ons beheer is, soos vloede. Ons bly daaraan toegewy om te verseker dat matrikulante hul eksamen sonder onderbrekings kan aflê."

Ander belanghebbendes in die onderwys stem saam dat die eksamen goed verloop.

'n Mens sal altyd mense kry wat probeer kul, maar ek het werklik nie bekommernisse nie.

—  Basil Manuel van Naptosa

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, betreur ook die verkragtings, maar sê daar is verder niks wat hom pla nie.

" 'n Mens sal altyd mense kry wat probeer kul, maar ek het werklik nie bekommernisse nie. Ons en die onderwysdepartement kom elke Saterdag bymekaar en ruil verslae uit. Ons is almal tevrede en op dieselfde bladsy."

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole, sê hy is beïndruk met die manier waarop gemeenskappe hande neem om seker te maak die matrikulante skryf hul eksamen ononderbroke.

"As daar byvoorbeeld ontwrigtinge soos oorstromings is, spring almal onmiddellik in met opruimingswerk of help hulle om nuwe lokale te identifiseer waar die eksamen verder afgelê kan word. Dis amper asof hulle sê: ‘Enigiets kan gebeur, solank die kinders net nie ontwrig word nie.' "

Dit lyk asof die eksamen goed afloop en die vraestelle blyk ook in orde te wees.

—  Paul Sauer van die SAOU

Paul Sauer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hy is "gemaklik" met die terugvoering wat hy van sy lede ontvang.

"Die merkers is 'n bietjie laat gefinaliseer na ons sin, maar ons is bly dis afgehandel. Sommige moet nog hul aanstellingsbriewe kry, maar ons is gemaklik," sê hy.

"Dit lyk asof die eksamen goed afloop en die vraestelle blyk ook in orde te wees."

SPELETJIES VANDAG

CTA