KYK | Kaapse leerlinge spring van blydskap, vier matriekuitslae

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit was 'n dag vol blydskap en trane by Wes-Kaapse skole toe 2024 se matrikulante hul uitslae gaan haal het. Leerlinge het mekaar omhels en gespring van blydskap, maar sommige het met fronse na hul sertifikaat gestaar.

Daar was opgewondenheid in oorvloed by die Pinelands High School in Kaapstad, waar die topleerling in die land én die een wat tweede beste gevaar het, matriek geskryf het.

Rayyan Ebrahim is eerste in SA en Matthew Wise tweede. Hulle was klasmaats en het hul prestasies Dinsdag saam gevier by die skool, omring deur hul klasmaats wat net so opgewonde en verras was oor hul sukses.

Hul gemiddelde punte word later vandeesmaand op die seremonie vir die toppresteerders by die premierswoning bekend gemaak.

"Ek het dit glad nie verwag nie," sê Rayyan Dinsdag aan Netwerk24. "Ek het net my kop laag gehou en my bes probeer.

"Dit was lekker om al die ander topleerlinge in Gauteng te ontmoet vir die minister se seremonie. Ons het dieselfde mentaliteit en hulle het my geïnspireer.

"Ons het gesels oor ons toekomsplanne. Baie van hulle wil aktuariële wetenskap of statistiek en datawetenskap doen. Ek beplan om datawetenskap aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te studeer."

Matthew gaan ook studeer vir dié graad by die UK. Die studierigting fokus op kunsmatige intelligensie (KI), robotika, onbemande voertuie, nano- en biotegnologie, 3D-drukwerk, energieberging en kwantumrekenaarkunde.

Rayyan sê hy en Matthew het 'n gesonde wedywering gehad. "Ek dink dit is wat ons bo laat eindig het," sê Rayyan, wat in Thornton woon.

Matthew se pa, Chris, het by die skool aan Netwerk24 gesê dit het hulle as ouers 'n tydjie geneem om te verwerk dat hulle kind tweede beste in SA gevaar het.

"Ons is bly hy word raakgesien en beloon," sê Chris.

Dié jaargroep het met hoërskool begin net toe die Covid-19-pandemie die wêreld getref het. "Dit het ons almal negatief geraak, maar ons onderwysers het verseker ons het al die hulpbronne wat ons nodig het," sê Matthew.

"As jy hardwerkend was, het dit die uitwerking van die pandemie versag."

Die topkandidaat in die land kom nou sewe uit die afgelope agt jaar uit die Wes-Kaap. Net in 2020 was die topleerling van die Oos-Kaap.

Heelparty skole spog ook met 'n 100%-slaagsyfer.

Dit sluit onder meer in die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl, die Hoër Meisieskool Paarl, die Hoërskool Punt in Mosselbaai, die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres, die Hoërskool Overberg in Caledon, die Hoërskool Montana in Worcester, die Hugenote Hoërskool in Wellington, die Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, die Hoërskool Lutzville, die Hoërskool Albertinia, die Hoërskool Hopefield, die Hoërskool Durbanville en die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

Elize von Versen, onderwyser in besigheidstudies by die Hoërskool Jan van Riebeeck, sê sy bars van trots oor haar toppresteerder, Toby de Ruiter, wat 99% vir dié vak behaal het.

Daarbenewens het hy ses A's gekry vir sy ander vakke. "Sy het die klas vir ons baie lekker gemaak," sê Toby, wat in 2025 regte aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan studeer, oor Von Versen.

Dié skool se toppresteerder, Mari Swanepoel, het 'n gemiddelde van 95,3% behaal en was verbaas dat sy 'n A gekry het vir Engels huistaal - 'n vak waarvoor sy nog glad nie vanjaar 'n onderskeiding gekry het nie.

"My gunstelingvak is wiskunde, en ek het 99% daarvoor gekry," sê sy. Haar ouers, Izak en Sarine, sê hulle is opgewonde vir haar om haar studie aan die US te begin.

Laetitia Pople, kunsredakteur van Netwerk24, het Dinsdag haar dogter, Isabel Mascher, se ses onderskeidings by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gevier.

Isabel is ook die toppresteerder in ontwerp in dié skool met 'n punt van 91%.

Studeer hard, TikTok is nie die moeite werd nie.

Sarah Haveman, wat die duxprys van die Hoërskool Durbanville ontvang het, het 'n gemiddelde van 93,83% behaal. "Ek het 99% vir wiskunde behaal, dis crazy. Ek is gelukkig, maar geskok. Dit was vir my 'n moeilike eksamen."

Caylen Krause en Gabrielle De Faria (regs) het albei die tweede beste punte by die Fairmont High School. Foto: Stefani Terblanche
Caylen Krause en Gabrielle De Faria (regs) het albei die tweede beste punte by die Fairmont High School. Foto: Stefani Terblanche

Wat vir Sarah vreemd is, is dat haar geskiedenispunt met byna 10% gedaal het. "Klink maar asof dit met almal gebeur het. Maar ek is gelukkig."

Sarah gaan vanjaar met haar BSc-graad in chemiese wetenskappe aan die US begin.

Sowel Halle Jozephs (18) as Kylie Hayward (19) van die Table View High School was Dinsdag verlig dat hulle klaar is met hoërskool. Hulle beplan om 'n brugjaar te neem en dan in 2026 te studeer.

"Ek hoop om lewenswetenskappe nooit weer in my lewe teë te kom nie," sê Kylie.

Hul advies aan die matriekklas van 2025 is om nie verlief te raak nie en eerder op hul skoolwerk te fokus.

"Liefde kom later," meen Halle.

Kylie beaam dit en sê haar raad is om nie na vriende te luister wat gedurende eksamens sê hulle het nie geleer nie, want op die ou einde is hulle die leerlinge wat 80% kry.

"Studeer hard, TikTok is nie die moeite werd nie," sê Kylie.

Caylen Krause en Gabrielle De Faria het albei die tweede beste punte by die Fairmont High School behaal. Caylen sê sy het 100% vir besigheidstudies behaal. Sy gaan vanjaar medies aan die US se Tygerberg-kampus studeer.

Die tweeling Maariya (tweede van links) en Hanaa Khan (tweede van regs) het albei die Pinelands High School se top-20 gehaal. Hul ouers, ma Sumaya Mahomody en pa Anwar Khan, sê die tweeling het aanvanklik gesukkel toe hulle in gr. 8 van Durban na Kaapstad verhuis het, maar het uiteindelik uitstekend gevaar. Foto: Faghrie Salie

Die 2024-matrieks van die Hoër Meisieskool Paarl spog met 'n 100%-slaagsyfer. Foto: Verskaf
Die 2024-matrieks van die Hoër Meisieskool Paarl spog met 'n 100%-slaagsyfer. Foto: Verskaf
Elize von Versen, onderwyser in besigheidstudies by Hoërskool Jan van Riebeeck, saam met Toby de Ruiter, toppresteerder in dié vak by die skool met 99%. Foto: Ané van Zyl
Elize von Versen, onderwyser in besigheidstudies by Hoërskool Jan van Riebeeck, saam met Toby de Ruiter, toppresteerder in dié vak by die skool met 99%. Foto: Ané van Zyl
Die Hoërskool Montagu se top-10-leerlinge glimlag oor hul uitslae. Die skool het 'n 98,3%-slaagsyfer behaal en drie leerlinge het 'n gemiddelde A-simbool. Van links (agter) is Arno Wright, Franco Stemmet (toppresteerder met 'n gemiddelde van 86%), en Johan Benadie, skoolhoof. In die middel van links is Nicholas Brunnigs, Petri Fourie, André van Deventer en Lyall Kleinhans. Voor van links is Jana Strydom (83,7%-gemiddelde), Nina Beukes (83,9%), Stefanie Burger en Chriszaan Conradie. Foto: Verskaf

Sarah Haveman, wat die duxprys van die Hoërskool Durbanville ontvang het, het 'n gemiddelde van 93,83% behaal. Foto: Stefani Terblanche
Sarah Haveman, wat die duxprys van die Hoërskool Durbanville ontvang het, het 'n gemiddelde van 93,83% behaal. Foto: Stefani Terblanche
Die twee toppresteerders in Suid-Afrika, albei van die Pinelands High School. Rayyan Ebrahim (links) is eerste in SA en Matthew Wise tweede. Foto: Faghrie Salie
Die twee toppresteerders in Suid-Afrika, albei van die Pinelands High School. Rayyan Ebrahim (links) is eerste in SA en Matthew Wise tweede. Foto: Faghrie Salie
Dié 2024-matrieks van die Hoërskool Strand is opgewonde oor hul uitslae. Van links is Tyrone Nicholas, Elwee Coetzee, Danushca Snyders, Graham Smal, Leoné Smith, Ben Potgieter, Shadé Moodie, Christo Thiart en Greg Meyer. Danie Malan, die skoolhoof, het aangekondig dat 212 van die 213 matrieks geslaag het. Foto: Jaco Marais

Die tweeling Jade (links) en Jessica Alexander van die Hoërskool Bloubergrant wys hul uitslae. Foto: Theo Jeptha
Die tweeling Jade (links) en Jessica Alexander van die Hoërskool Bloubergrant wys hul uitslae. Foto: Theo Jeptha
2024-matrikulante van die Table View High School vier hul uitslae. Van links is Ovayo Mxalisa, Paul Phiri, Qhama Poswa en Hlomla Matutu. Foto: Theo Jephta
2024-matrikulante van die Table View High School vier hul uitslae. Van links is Ovayo Mxalisa, Paul Phiri, Qhama Poswa en Hlomla Matutu. Foto: Theo Jephta
Keanu Meyer, topleerling van die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, word opgelig deur Gerrit de Vos (links), Thomas Swart en Ivan Radley. Hulle is die skool se topvier. Foto: Emma Wiehman
Keanu Meyer, topleerling van die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, word opgelig deur Gerrit de Vos (links), Thomas Swart en Ivan Radley. Hulle is die skool se topvier. Foto: Emma Wiehman

Gabriella sê sy is in ongeloof oor haar uitslae. Haar beste punt is 99%, ook vir besigheidstudies. Sy gaan vanjaar bemarking by die Red and Yellow School in Kaapstad studeer.

Hulle stem nie saam met die mening dat die standaarde van onderrig gedaal het nie. "Ons het goeie onderwysers by Fairmont. En die wiskunde- en fisika-vraestelle was beslis moeiliker as die September-eksamen s'n," het Caylen gesê.

In die onderwysdistrik vir Eden en die Sentraal Karoo (wat volgens David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir onderwys die toppresterende distrik is met 'n slaagsyfer van 89,28%) het skole soos die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal 'n 100%-slaagsyfer en die Hoërskool Outeniqua in George 'n 99,7%-slaagsyfer behaal.

Volgens die Hoër Landbouskool Oakdale het nege leerlinge 'n A-gemiddelde behaal. Die skool se toppresteerder is die 18-jarige Kéan Enslin (90%) met agt onderskeidings.

By Outeniqua was daar 50 A-gemiddeldes en ses leerlinge met agt onderskeidings. Die toppresteerder is die 18-jarige Hannes de Lange (94,4%), met agt onderskeidings.

Reaza Wesso, 'n leerkrag en lid van die bestuur by die Hoërskool George, het ook haar tevredenheid uitgespreek met hul 84%-slaagsyfer.

-ane.vanzyl@24.com

Ané van Zyl, Stefani Terblanche, Keziah Bailey, Jackie Kruger

SPELETJIES VANDAG

CTA