Die 36-jarige Lebogang Khonkhobe (Nedbank) het Saterdag met die Om die Dam-wedloop oor 50 km by die Hartbeespoortdam in Noordwes sy hand opgesteek as 'n moontlike gouemedaljewenner in vanjaar se Comrades-wedloop op 8 Junie tussen Pietermaritzburg en Durban.
Khonkhobe het in 2 uur, 55 min. en 10 sek. oor die wenstreep gehardloop. Dit is die eerste ultrawedloop-titel van sy loopbaan.
Mthembeni Mahlobo (Bella's) het 19 sekondes ná Khonkhobe oor die eindstreep gehardloop. Sifiso Nqamakwe (Nedbank) was derde in 2:58:00.
Roné Steenkamp (Run Walk for Life) het die afdeling vir vroue gewen in 3:40:32, met Arouchelle Nieuwenhuis (Nedbank, 3:47:11) tweede en Melinda Jansen van Vuuren (Hollywood) derde in 3:50:24.
Die moeilike Om die Dam-wedloop is een van die gewildste Comrades-voorbereidingswedlope in die land en staan bekend as Gauteng se weergawe van die Twee Oseane-wedloop.
Die meerderheid deelnemers kom uit Gauteng.
Khonkhobe is die oom van die 29-jarige Onalenna Khonkhobe, verlede jaar se Twee Oseane-kampioen.
Edward Mothibi, 'n voormalige Comrades-wenner, en sy oefenmaat Tete Dijana, wat die laaste twee Comrades gewen het, het die wedloop soos gewoonlik Saterdag saam gehardloop en in 3:32:321 voltooi.
Dié twee Nedbank-atlete gebruik die Om die Dam-wedloop jaarliks as deel van hul Comrades-voorbereiding.
Steenkamp het in die afwesigheid van die Olimpiese marathon-atleet Gerda Steyn, wat die wedloop verlede jaar in 'n rekordtyd van 3:16:16 beklink het, gewen.
Sy was algeheel 55ste.
Steyn, die kampioen en rekordhouer in sowel die Comrades as die Twee Oseane-wedloop, het Vrydag aan Netwerk24 gesê sy het besluit om nie vanjaar deel te neem nie omdat dit te na aan die Twee Oseane-wedloop (56 km) op 5 April is.
- svdwalt@24.com















