Prudence in eindronde van 800 m

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrika se Prudence Sekgodiso kyk na die telbord nadat sy Saterdag tweede in haar wedloop in die halfeindronde van die 800 m vir vroue geëindig en deurgedring het tot Sondag se eindronde. Foto: Getty Images
Suid-Afrika se Prudence Sekgodiso kyk na die telbord nadat sy Saterdag tweede in haar wedloop in die halfeindronde van die 800 m vir vroue geëindig en deurgedring het tot Sondag se eindronde. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet Prudence Sekgodiso is veilig deur na die eindronde van die 800 m vir vroue op die Wêreld- Binnenshuise Atletiek­kampioenskaps­byeenkoms in Nanjing, China.

Sekgodiso, wat verlede jaar op die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, die eindronde van dié nommer gehaal het, het gemaklik tweede in haar halfeindronde-wedloop geëindig. Haar tyd was 2:01.21.

Sekgodiso, wat by die Universiteit van Pretoria afgerig word deur Samuel Sepeng, 'n halfbroer van die voormalige Olimpiese silwer­medalje­wenner Hezekiel Sepeng, het deurentyd gemaklik gelyk en net seker gemaak dat sy vir die eindronde kwalifiseer.

Haar tyd was algeheel die naasbeste kwalifiseringstyd.

Die Switser Audrey Werro se wentyd van 2:01.11 in dieselfde wedloop as Sekgodiso, was die vinnigste.

Sekgodiso, wat haar eerste uitdun gewen het, hardloop takties baie goed en sy behoort Sondag 'n kans op 'n medalje te hê.

Geen Suid-Afrikaanse vrou het nog 'n medalje op die Wêreld- Binnenshuise Kampioenskap verower nie.

26 jaar gelede het Johan Botha, 'n oefenmaat van Hezekiel Sepeng, die goue medalje in die 800 m vir mans verower toe dié kampioenskap in Japan aangebied is.

Vrydag het die naelloper Akani Simbine Suid-Afrika se eerste medalje op die Nanjing-byeenkoms verower deur derde te eindig in die 60 m vir mans.

Dit was die 31-jarige Simbine, wat 'n medalje op verlede jaar se Spele in die 100 m vir mans met 'n honderdste van 'n sekonde misgeloop het, se eerste medalje op 'n groot internasionale byeenkoms.

- svdwalt@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA