Ervare Rose ‘doen wat nodig was’ in Meesterstoernooi

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Justin Rose is steeds die voorloper in die Meesterstoernooi op die Augusta-baan in Georgia. Foto: Getty Images
Justin Rose is steeds die voorloper in die Meesterstoernooi op die Augusta-baan in Georgia. Foto: Getty Images

Rory McIlroy, Scottie Scheffler en Bryson DeChambeau het almal vergeefs probeer om hom Vrydag in te katrol, maar die 44-jarige Justin Rose is by die halfpadmerk van die Meesterstoernooi steeds voor.

Rose het in die tweede ronde op Augusta National sy manjifieke telling van 65 die vorige dag met 'n bestendige 71 (-1) opgevolg om steeds voor te loop.

DeChambeau (69, 68) is een hou agter Rose, terwyl McIlroy met mening terug is in die wedloop ná 'n beste rondte van die dag - 66.

Die verdedigende kampioen, Scottie Scheffler (68, 71) is self net drie houe agter Rose.

Maar Saterdag sal die kollig op die Engelsman wees wat as een van die beste spelers gereken word wat nie die Meesterstoernooi se heilige graal - die groen baadjie - in sy gevierde loopbaan kon verower nie.

Hy het immers al 20 keer sedert 2003 probeer om by Augusta sukses te behaal.

Die naaste wat hy daaraan gekom het, was toe die Spanjaard Sergio García hom in 2017 in 'n uitspeelstryd geklop het.

"Dit voel vir my of ek goed genoeg speel om die toernooi te kan wen. Ek het nie vandag (Vrydag) soveel beloning gehad soos op die eerste dag nie, maar ek het gedoen wat nodig was om steeds voor te loop.

"Dit is soms moeilik om 'n goeie rondte met nog een op te volg.

"Ek speel goeie gholf en my fokus is daar. Om 'n bietjie meer ervare te wees is natuurlik ook 'n voordeel," het Rose gesê.

Twee houe agter. Die Noord-Ier Rory McIlroy blaas in Rose se nek op Augusta. Foto: Getty Images
Twee houe agter. Die Noord-Ier Rory McIlroy blaas in Rose se nek op Augusta. Foto: Getty Images

Sou hy Sondag die spel se Everest uitklim, sal dit Rose se tweede major-triomf wees.

Hy het in 2013 die eerste Engelsman sedert Tony Jacklin in 1970 geword wat die Amerikaanse Ope kon wen.

Die Suid-Afrikaner Charl Schwartzel het Vrydag met 'n gelyk-aan-baansyfer-rondte van 72 net-net by die agterdeur ingeglip toe die afsnypunt bepaal is.

Hy is egter op twee houe swakker as baansyfer vir die toernooi 'n hele tien houe agter Rose.

Sy landgenote Christiaan Bezuidenhout (76, 75) en Thriston Lawrence (79, 76) is egter albei op pad huis toe.

Dít was ook die lot van groot name soos García, Dustin Johnson, Phil Mickelson, Tony Finau, Brooks Koepka, Adam Scott en Cameron Smith. - pgatour.com

• TELKAART

SPELETJIES VANDAG

CTA