McIlroy klop Rose in spannende uitspeelstryd en beklink Meesters

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die oomblik wat Rory McIlroy vir elf jaar gewag het: Die Meesterstoernooi se gesogte groen baadjie. Foto: Getty Images
Die oomblik wat Rory McIlroy vir elf jaar gewag het: Die Meesterstoernooi se gesogte groen baadjie. Foto: Getty Images

Uiteindelik, Rory!

Sondag se vierde ronde van die Meesterstoernooi op die Augusta-baan het 'n boeiende dag se gholf beloof.

Niemand het egter dié louter kykgenot verwag nie, wat aanvanlik begin het as 'n tweestryd tussen Rory McIlroy en Bryson DeChambeau.

McIlroy, wat in 2014 laas 'n major kon wen, het Augusta se groen baadjie nodig gehad om slegs die sesde man in die geskiedenis van die spel te word wat met die Grand Slam van al vier grotes (majors) kan pronk.

Dit het nogmaals gelyk of die gholfgode 'n afkeer van McIlroy het toe hy sommer op die eerste putjie twee houe aan syfer verlore laat gaan het.

Jy het al gehoor hoe mense - soos so dikwels wanneer hy 'n aanspraak in 'n groot toernooi gehad het die afgelope 11 jaar - uitwei oor McIlroy wat eenvoudig nie die druk in die pylvak kan baasraak nie.

Sy sielkundige letsels is nét te groot, word daar gewoonlik verkondig.

DeChambeau het vol ondernemingsgees begin en was met sy voëltjie op die tweede tydelik die voorloper, maar hy het die kluts mettertyd kwytgeraak oor die agterste nege en moes met 'n telling van 75 (+3) tevrede wees waarmee hy saam vyfde geëindig het.

McIlroy het goed herstel van sy blaps op die eerste en het 'n voorsprong van vier houe geniet - danksy agtereenvolgende voëltjies op die negende en tiende putjie.

Dit was die Noord-Ier se toernooi om te verloor en hy het sy bes probeer op die syfer-5 13de.

McIlroy het die veilige benadering gevolg toe hy nie met sy tweede hou setperk toe gemik het nie.

Hy het egter sy derde hou, wat hom die kans gegee het om die pen aan te val, in Rae's Creek, wat die setperk beskerm, geslaan.

Asof dié dubbele brouhou nie genoeg was nie, het McIlroy op die 14de 'n verdere hou laat verlore gaan. Sy betroubare setyster het ewe skielik ook nie meer sy samewerking gegee nie.

Die Engelsman Justin Rose het hom in daardie stadium met 'n bitzkrieg van voëltjies oor die agterste nege onder die voorlopers tuisgemaak.

Sy voëltjie op die 18de, wat sy sesde een in die bestek van agt putjies was, het meegebring dat hy 'n briljante 66 - ses houe minder as baansyfer - op sy telkaart aangebring het.

McIlroy (73) het later 'n brouhou op die 18de gehad, wat beteken het dat hy Rose in 'n uitspeelstryd moes aandurf.

McIlroy het 'n dag van hoogdrama beëindig deur Rose met 'n voëltjie op die eerste uitspeelputjie te uitoorlê.

• TELKAART

SPELETJIES VANDAG

CTA