Die Westelike Provinsie sal Donderdag op die Wanderers in die eindstryd van die plaaslike eendagreeks teen die Lions speel.
Die WP het goed herstel in sy kolfbeurt om die Rocks Vrydag in die Paarl met 74 lopies te klop, wat hom tweede ná die Lions laat eindig het.
Die WP het 246/8 aangeteken danksy Mihlali Mpongwana (96) en Wayne Parnell (44) wat met 94 om die sewende paaltjie tot sy redding gekom het nadat hy op 84/5 in die knyp was.
Mpongwana is as die Speler van die Wedstryd aangewys.
Die Rocks van die Boland is in hul kolfbeurt tot 172 beperk in dié wedstryd waarin die wenner sy plek in die eindstryd sou bespreek het.
• Die Lions, die huidige kampioene, het vroeër met nog twee wedstryde oor reeds hul plek in die eindstryd bespreek.
Hulle het hul laaste wedstryd teen die Dolphins Vrydag in Durban met sewe paaltjies gewen.
Die tuisspan is vir net 170 uitgehaal, waarna die Lions met 175/3 in 43 beurte geantwoord het.
Die aanvangskolwer Joshua Richards, Speler van die Wedstryd, was onoorwonne op 95 toe die Lions die wenlopies aangeteken het.
Sisanda Magala (3/46) en Wiaan Mulder (3/19) het die Dolphins vroeër vroeg in die knyp gehad.
Eathan Bosch (48) en Prenelan Subrayen (30) het op 67/6 effense aansien saam met Odirile Modimokoane (20) aan die tuisspan se kolfbeurt gegee.
• Die wedstryd tussen die Knights en Titans in Bloemfontein is weens oggendreën sonder 'n enkele aflewering afgelas.





















