Só ontvou Babelse verwarring oor Bavuma-besering

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jono Leaf-Wright, uitvoerende hoof van die Lions. Foto: Gallo Images
Jono Leaf-Wright, uitvoerende hoof van die Lions. Foto: Gallo Images

Temba Bavuma se jongste elmboogskeet het die afgelope week tot groot verwarring, irritasie en bontpratery in die spankamers by die Wanderers gelei.

Die Lions het verwag die Protea-kaptein sou beskikbaar wees om hulle in die meerdageindstryd teen die Titans in Johannesburg te verteenwoordig, maar dié kolwer het hom toe op die nippertjie aan die span onttrek. Trouens, nadat hy sy linkerelmboog in die gimnasium seergemaak het, was Bavuma nie eens op die vliegtuig van Kaapstad na Johannesburg nie.

Bronne in die Lions-kamp het die afgelope week aan Rapport gesê die afrigter, Russell Domingo, en sy bestuurspan was die josie in oor die situasie.

Hulle het Bavuma Dinsdag terug in Johannesburg verwag nadat die kolwer die vorige week saam met die span in Bloemfontein was vir hul kragmeting met die Knights. Dié wedstryd is verlede Sondag afgelas nadat reën geen spel moontlik gemaak het nie, en Bavuma is daarna Kaapstad toe om tyd saam met sy familie deur te bring.

Woensdagoggend het Dominic Hendricks, die Lions se kaptein, op 'n mediakonferensie gesê hoeveel hy daarna uitsien om Bavuma saam met hom op die veld te hê in die eindstryd, wat Donderdag sou begin.

Maar kort ná die nuuskonferensie het die Lions onderaan 'n mediaverklaring gesê: "Ongelukkig word Temba Bavuma blykbaar nog deur 'n fiksheidsituasie in die gesig gestaar en dit is hoogs onwaarskynlik dat hy sal speel."

Temba Bavuma lig die bal oor die bouler se kop tydens die Kampioenetrofee-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Maart in Pakistan. Foto: AFP
Temba Bavuma lig die bal oor die bouler se kop tydens die Kampioenetrofee-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Maart in Pakistan. Foto: AFP

Jono Leaf-Wright, die Lions se uitvoerende hoof, sê aan Rapport Bavuma het inderwaarheid reeds Dinsdag telefonies vir Domingo gesê hy het sy elmboog in die gimnasium in Kaapstad beseer, en sal nie beskikbaar wees nie. Maar dié boodskap het nooit by die res van die span uitgekom nie.

"Russell het eers Woensdagmiddag by die oefening verduidelik dat Temba nie soos ooreengekom by die oefening kan wees nie, omdat hy beseer is en dus nie beskikbaar is nie," verduidelik Leaf-Wright, wat Woensdag uit Indië teruggekeer het ná 'n besoek aan die Chennai Super Kings.

Leaf-Wright ontken ook dat die bestuurspan vies was vir Bavuma.

"Alles is in orde, ons het hoegenaamd geen probleme met Temba nie," sê hy.

Domingo het Woensdagaand vertrek na Pakistan, waar hy die Lahore Qalandars in die Pakistanse Superliga afrig. Dié reëling is reeds vooraf getref, en Jimmy Kgamadi, hulpafrigter, hou die leisels in sy afwesigheid.

Russell Domingo, Lions-hoofafrigter, en Allan Donald, boulafrigter. Foto: Gallo Images
Russell Domingo, Lions-hoofafrigter, en Allan Donald, boulafrigter. Foto: Gallo Images

Domingo kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Bavuma, wat reeds sedert 2008 vir die Gautengers speel, het verlede jaar in die meerdageindstryd teen die Westelike Provinsie gespeel. Hy het 45 in die tweede beurt geslaan. Die Lions het daardie eindstryd met 99 lopies beklink.

Die Protea-kaptein het al voorheen las gehad van die linkerelmboog, wat hy nou weer beseer het. Hy het dit seergemaak in 'n eendagreeks teen Ierland verlede jaar, en sedertdien deurlopend las gehad daarvan.

Die 34-jarige Bavuma het daarna die toetsreeks teen Bangladesj misgeloop, maar tot sy krediet in die daaropvolgende toetsreeks teen Sri Lanka 327 lopies behaal teen 'n gemiddeld van 81.75, waaronder 'n 113 en drie 50-talle.

Temba Bavuma hou sy lastige linkerelmboog vas tydens die Kampioenetrofee-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Maart in Pakistan. Foto: Getty Images
Temba Bavuma hou sy lastige linkerelmboog vas tydens die Kampioenetrofee-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Maart in Pakistan. Foto: Getty Images

Bavuma was verlede jaar 'n lopiemasjien in toetskrieket, en het 503 toetslopies geslaan teen 'n gemiddeld van 55.88.

Sy afwesigheid in die meerdageindstryd ontneem hom egter 'n geleentheid om te slyp vir die Toetskampioenskap-eindstryd op 11 Junie vanjaar op Lord's teen Australië. Krieket Suid-Afrika glo egter nie sy besering sal hom uit daardie wedstryd hou nie.

Tans het Suid-Afrika net drie spelers in die graafskapsreeks in Engeland: David Bedingham, Kyle Verreynne en Dane Paterson.

Die meeste SA toetskolwers speel tans in die IPL, onder wie Aiden Markram (Lucknow Super Giants), Ryan Rickelton (Mumbai Indians), Tristan Stubbs (Delhi Capitals), Marco Jansen (Punjab Kings) en Wiaan Mulder (Sunrisers Hyderabad).

Tony de Zorzi het tuis vir die Westelike Provinsie diens gedoen en het in sy afgelope twee wedstryde 273 lopies behaal teen 'n gemiddeld van 91.

Bavuma het glad nie meerdagkrieket gespeel sedert die Nuweland-toets teen Pakistan in Januarie nie.

• Die Lions staan tans baie sterk in die eindstryd.

Hulle het hul eerste beurt gister op die derde dag op 413/7 gesluit verklaar. Zubayr Hamza (103) was die uitblinker met die kolf.

Die Titans het uitskeityd in 'n benarde posisie op 17/3 gehaal.

sport@rapport.co.za

RAPPORT PRAAT SPORT

SPELETJIES VANDAG

CTA