Geoffrey Boycott betreur ’n gebrek aan aanspreeklikheid in Engelse krieket nadat die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB) besluit het om Brendon McCullum, hoofafrigter, en Rob Key, besturende direkteur, te behou ná ’n hersiening van die span se vernederende As-nederlaag met 1-4 in Australië.
Boycott, ’n voormalige Engeland-aanvangskolwer, bevraagteken Richard Gould, uitvoerende hoof van die ECB, se bekwaamheid en sê die “onbevoegde” Key en McCullum het Engeland se veldtog in die reeks om die As “gesaboteer”.
“Soos ek, sal krieketondersteuners vra hoe McCullum en Key soveel slegte besluite op die Australiese toer kon neem, maar tog besluit die uitvoerende hoof van Engelse krieket daar is geen behoefte om enige veranderinge aan te bring nie. Waar is die aanspreeklikheid?” skryf Boycott in The Telegraph.
“Ek is seker hulle het hom belowe hulle sou beter vaar, maar ’n jakkals verander van hare, maar nie van streke nie, so dit lyk asof ons dieselfde tipe toetskrieket gaan kry.”
Boycott sê hy bewonder McCullum omdat hy die span aggressiewe en opwindende krieket laat speel het, maar hy meen die spelers het onder die voormalige Nieu-Seelandse kaptein selftevrede geraak.
“Met sy poging om ’n vrygesinde span te skep, het hy hulle te gemaklik en selftevrede gemaak. Hulle weet hulle sal nie uit die span weggelaat word nie, maak nie saak wat hul vertonings of gedrag op of van die veld af is nie.
“Dit lyk soos ’n eksklusiewe klub waar, sodra jy in die span is, dit moeilik is om uit te kom. Mededinging om plekke is die lewensbloed van sport. Selftevredenheid in ’n span kweek nie ’n gesonde drang om uit te blink nie.”
‘Gelukkig om te oorleef’
Die voormalige Engeland-kapteins Michael Vaughan en Mike Atherton sê Key en McCullum is gelukkig om hul poste te behou.
“Daar is nie baie bestuursgroepe wat iets so swak weg van die huis in ’n reeks om die As lewer en dan die kans kry om aan te hou nie,” sê Vaughan.
“Hulle het opwindende tye gehad, maar hulle het nie genoeg gewen nie. Waarna Engeland-aanhangers nou soek, is watter verandering (gaan plaasvind).”
Atherton sê Engelse ondersteuners sal “die gebrek aan aanspreeklikheid moeilik vind om te glo”.
“In die meeste lewenswandelings sou so ’n litanie van foute tot ’n beduidende verandering lei,” skryf hy in The Times.
“Daar sal beperkte geduld wees as die algemene publiek nie hierdie Engelse somer ’n verskuiwing in gesindheid bespeur by spelers wat, volgens hulle, te slordig was in die As-nederlaag met 1-4 nie.”
3878
















