Die gevoel van hopeloosheid wat hy in verlede jaar se T20-Wêreldbeker-toernooi ervaar het, het hom aangespoor, sê Aiden Markram.
Die 30-jarige aanvangskolwer van die Proteas is Saterdag as Speler van die Wedstryd aangewys vir sy 136 (207 balle, 383 minute, 14x4) in hul tweede beurt in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskapsreeks teen Australië op Lord's. Die Proteas het nadat hulle op 213/2 op die vierde dag voortgekolf het met 282/5 'n geskiedkundige sege behaal - hul eerste sege in 'n toernooi van die Internasionale Krieketraad in 27 jaar.
"Ek het baie aan die T20-Wêreldbeker gedink gisteraand (Vrydagaand) en hoe hopeloos ek gevoel het toe ek daar langs die kant gesit het. Ek was soos, ek wil nie weer daar sit nie. Dit het my 'n bietjie motivering gegee om seker te maak ek bly voor die paaltjies," sê Markram.
Die Proteas het Saterdag nog net 69 lopies benodig om te wen.
Markram het op 102 voortgekolf saam met Temba Bavuma, wat 65 gehad het.
Markram sê hy het Vrydagaand verskriklik sleg geslaap.
"Ek het 'n slaappil geneem, wat nie gewerk het nie. Ek kon net nie my gedagtes omskakel nie."
Markram is Saterdag uit toe Suid-Afrika nog net ses lopies benodig het. Hy is in die eerste boulbeurt met die nuwe bal van Josh Hazlewood se boulwerk aan die bykant gevang.
Dit was sy agtste honderdtal en derde teen die Aussies in 46 toetse. Hy het in 2018 in Suid-Afrika beurte van 143 en 157 teen hulle aangeteken.
Markram was vol lof vir Bavuma (66) wat saam met hom 'n deurslaggewende 147 om die derde paaltjie in die tweede beurt aangeteken het.

Bavuma het dit gedoen met 'n beseerde dyspier wat sy hardloopwerk tussen die paaltjies belemmer het.
Markram sê hy was bekommerd toe Bavuma Vrydag kort voor die teepouse beseer is.
"Hy het met die teepouse gesê hy voel hy kan steeds aangaan. Hy wou by my geweet het of dit my gaan affekteer as die twees ene gaan word.
"Hy het toe steeds twee en drie lopies gehardloop. Ek dink daar was baie adrenalien daar, maar hy het ook baie leierskap en karakter getoon."
Die seëvierende Proteas sal Woensdag om 09:25 in Johannesburg aankom, waarna 'n mediakonferensie om 12:30 by Krieket Suid-Afrika se kantore gehou sal word.
• TELKAART





















