Rilee, Eathan blink toe Capitals eindstryd haal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Pretoria Capitals se Rilee Rossouw jag Woensdagaand die lopies in die SA20-halfeindstryd teen die Paarl Royals in Johannesburg. Hy het 56 lopies van 41 aflewerings aangeteken en vroeër ook in sy een boulbeurt 1/3 geneem om sy span na ’n oorwinnin
Die Pretoria Capitals se Rilee Rossouw jag Woensdagaand die lopies in die SA20-halfeindstryd teen die Paarl Royals in Johannesburg. Hy het 56 lopies van 41 aflewerings aangeteken en vroeër ook in sy een boulbeurt 1/3 geneem om sy span na ’n oorwinnin

Rilee Rossouw het die Pretoria Capitals Woensdagaand met die kolf en bal teen die Paarl Royals gehelp om die eerste SA20-eindstryd op die Wanderers te haal.

Die wedstryd kon weens reën eers om 18:15 begin en dit was nie maklik om op die blad te kolf nie.

Die Capitals moes, nadat hulle weer ingestuur is om te kolf, met 158/8 tevrede wees ná die 226/5 wat hulle Dinsdag in Centurion teen die Royals opgestapel het.

Dit was egter genoeg. Die Royals is vir net 124 in 19 beurte uitgeboul met Eathan Bosch, Anrich Nortjé, Jimmy Neesham en Adil Rashid wat elk twee paaltjies laat kantel het.

Rossouw (56, 41b) het die Capitals vroeër met sy eerste vyftigtal van die reeks uit die greep van die Royals se draaiers gekolf.

Bjorn Fortuin en Tabraiz Shamsi het buitengewone draai gekry en sewe van die eerste tien boulbeurte is deur draaiers afgestuur. Fortuin (1/24) het in die derde beurt 'n slag geslaan met die paaltjie van Kusal Mendis (7), wat 80 in Dinsdag se wedstryd teen hulle aangeteken het.

Shamsi (2/19) het in sy eerste twee beurte met die paaltjies van Theunis de Bruyn (9) en Phil Salt (22) dit 51/3 in die negende beurt gemaak.

Die Capitals se 100 vir die verlies van vyf paaltjies het eers in die 16de beurt op die telbord verskyn.

Rossouw het in die 18de beurt, waarin hy vier viere van die boulwerk van Lungi Ngidi gemoker het, sy vyftigtal gekry. Bosch (22, 10b) het ook gehelp dat die laaste drie beurte 38 opgelewer het.

Eathan Bosch van die Capitals. Foto: Gallo Images
Eathan Bosch van die Capitals. Foto: Gallo Images

Die einste Bosch (2/22) het die Royals in sy eerste twee boulbeurte met die paaltjies van twee groot kanonne, Jason Roy (0) en Jos Buttler (13), geskud.

Die Royals het tot op 49/2 in hul kragspel gevorder toe die draaier Rashid (2/15) ook twee paaltjies in sy eerste twee beurte gekry het. Hy het Paul Stirling (21) been voor paaltjies betrap en toe vir Dane Vilas (18) geboul.

Die Capitals het gewaag deur Rossouw (1/3) 'n boulbeurt te gee waarmee hy 'n slag geslaan het met Eoin Morgan (17) se paaltjie.

Die Royals was daarna, met sifreën wat uitgesak het, ook onder druk om by te hou by die Duckworth-Lewis-stelsel.

David Miller (31) het in die 17de beurt op 18 oorleef toe Mendis 'n hoë vangskoot verbrou het.

Dit het die Capitals vir 'n rukkie benoud gehad voor Nortjé (2/29) die kolfbeurt kortgeknip het.

Rossouw is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

TELKAART

• Die Joburg Super Kings speel Donderdag op SuperSport-park in Centurion in die tweede halfeindstryd teen die Sunrisers Eastern Cape.

Die halfeindstryd en eindstryd het reserwedae sou dit reën. Indien daar Vrydag 'n reserwedag nodig is en daar steeds nie 'n uitslag is nie, sal die span met die beste posisie vooraf op die punteleer - die Super Kings - na die eindstryd deurdring. Die eindstryd is vir Saterdag op die Wanderers geskeduleer.

Die trofee sal gedeel word as daar ná twee dae geen uitslag in die eindstryd is nie.

• Intussen is daar kommer oor die 33-jarige Protea Wayne Parnell, die Capitals se kaptein, wat Saterdag 'n liesbesering opgedoen het.

SPELETJIES VANDAG

CTA