Simmonds kasty Dolphins met kolf en bal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kyle Simmonds, draaibalbouler van die Westelike Provinsie, het Maandag met die kolf en bal teen die Dolphins in Durban uitgeblink.  Foto: Gallo Images
Kyle Simmonds, draaibalbouler van die Westelike Provinsie, het Maandag met die kolf en bal teen die Dolphins in Durban uitgeblink. Foto: Gallo Images

Die draaibalbouler van die Westelike Provinsie Kyle Simmonds was met die kolf en bal tot dusver 'n doring in die vlees van die Dolphins in hul meerdagwedstryd in Durban.

Die draaiers het Maandag op die tweede dag op Kingsmead behoorlik gebaljaar met 14 van die 16 paaltjies wat gekantel het.

Die Kapenaars het toe spel in die laaste skof deur die weer onderbreek is, 161/9 in hul tweede beurt gehad - 'n voorsprong van 242 lopies.

Die linkerhandse draaier Simmonds het ná die Dolphins se eerste beurt van 129 met boulsyfers van 6/42 gespog.

Die tuisspan het in antwoord op die Kapenaars se 210 op die eerste dag Maandag op 89/3 voortgekolf.

Simmonds het die ineenstorting op 103/3 ingelui. Die tuisspan was 26 lopies later almal uit.

Ná die skade wat Simmonds aangerig het, was die Dolphins se eerste drie boulers in die WP se tweede beurt almal draaiers.

Die Protea-draaier Keshav Maharaj het toe met 6/65 amok gemaak.

Simmonds het egter op nommer nege weer met die kolf tot die redding van die besoekers gekom.

Hy het sy 47 lopies van die eerste beurt met 'n onoorwonne 48 opgevolg.

Simmonds kan op die derde dag 'n groot faktor wees as die blad weer soveel hulp aan die draaiers bied.

• In Potchefstroom het die Dragons die Boland Rocks vir 234 lopies uitgehaal nadat hulle hul eerste beurt op 120/5 voortgesit het.

Lesego Senokwane (74) en Shaylen Pillay (59*) het vyftigtalle vir die tuisspan aangeteken voordat spel op 149/2 gestaak is.

• In Bloemfontein was daar vir die tweede agtereenvolgende dag weens 'n nat buiteveld geen spel tussen die Knights en Lions moontlik nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA