T20-uitdaagreeks: Lekker, Lions!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Lions se Sisanda Magala het met kolf en bal teen die Dolphins uitgeblink. Foto: Gallo Images
Die Lions se Sisanda Magala het met kolf en bal teen die Dolphins uitgeblink. Foto: Gallo Images

Die Lions het Donderdag hul eerste oorwinning in die seisoen se T20-uitdaagreeks in Gqeberha behaal toe hulle die Dolphins met 8 lopies getroef het.

Die Johannesburgers het 156/8 in hul 20 beurte aangeteken en het toe die span van Durban tot 148/8 beperk.

Die Lions het vroeër die week sy eerste wedstryd teen die Dragons verloor.

Die draaibalbouler Bjorn Fortuin (2/16) het die Dolphins van die begin van hul kolfbeurt op die agtervoet geplaas. Hy het in die derde boulbeurt (sy tweede) van die kolfbeurt van twee Proteas - Keegan Petersen (3) en Andile Phehlukwayo (2) - ontslae geraak.

Op 50/4 was die Dolphins diep in die moeilikheid, maar Khaya Zondo (35) en Jason Smith (39) het 60 lopies om die vyfde paaltjie aangeteken om die KwaZulu-Natallers 'n buitekans te gee. Die Lions se eindboulers Sisanda Magala (2/26) en Malusi Sibotu (2/23) het die krane teen die einde toegedraai.

Die Lions het vroeër 'n mededingende 156/8 aangeteken. Hoewel die Gautengers met reëlmaat paaltjies verloor het, het die inkomende kolwers regdeur hul aggressie behou. Die Lions het so 'n goeie lopietempo gehandhaaf, wat hulle in staat gestel het om 'n goeie totaal daar te stel.

Shane Dadswell (43) en Magala (37) het die hoogste tellings aangeteken, maar vyf ander Lions-kolwers het dubbelsyfers behaal.

Jason Smith (3/16) en Ruan de Swardt (3/32) het die meeste paaltjies vir die Dolphins geneem.

TELKAART

• Die Dragons het hul onoorwonne status behou toe hulle die Knights se krieketspan Donderdag verneder het.

Die span van Noordwes het onderweg na sy klinkende oorwinning met agt paaltjies 'n bonuspunt ingesamel. Die Knights kon net 94/9 - die laagste telling so ver dié week in Gqeberha - aanteken, waarna die Dragons die wenlopies in net 10.1 boulbeurte geslaan het.

Die Dragons het met dié sege ook wraak geneem nadat reën hulle verlede Oktober teen die einste Vrystaters van 'n moontlike plek in die eindstryd van die provinsiale T20-uitklopreeks beroof het.

Die Dragons se drie linkshandige boulers, die snelbouler Duan Jansen (1/16) en twee draaiers, Senuran Muthusamy (2/8) en Johannes Diseko (2/19), was uitstekend nadat die Knights gevra is om eerste te kolf.

Die veteraan Heino Kuhn (37) was soos 'n jong Jonty Rhodes in die veld. Veral sy trefgooi om van Farhaan Behardien ontslae te raak was 'n knap stukkie veldwerk.

Behardien was een van drie kolwers wat uitgehardloop is, terwyl van die ander ook hul paaltjies weggesmyt het.

Die Knights het nie bloot 'n afdag beleef nie - hulle was in hul eerste wedstryd teen die Dolphins ook ver benede peil.

Die aanvangskolwer Patrick Kruger se 20 lopies was die beste poging deur 'n Knights-kolwer.

In die Dragons se kolfbeurt het Wesley Marshall (43, 29 balle) oudergewoonte onmiddellik losgetrek en 16 lopies van die eerste boulbeurt van Migael Pretorius gemoker.

Marshall en Kuhn (30*, 20 b) het 66/0 in die kragspel opgestapel.

Dit was die eerste wedstryd in sewe vandeesweek op St. Georgepark waarin die span wat die loot gewen het, ook die wedstryd gewen het.

TELKAART

Altus Momberg en Johann de Jager

SPELETJIES VANDAG

CTA