Spelers van oor die wêreld heen: 'n Ierse hutspot

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n "Tuisgebakte" Springbok-span het gister in die Stade de France 'n Ierse kombinasie, met 'n bykans 20%-konkoksie van Australiese en Nieu-Seelandse geure, aangedurf. Albert Heenop het die pot se deksel gaan lig om die Ierse bredie van nader te bekyk. En van die spelers het ongelooflike rugbyverhale.

James Lowe stamp Tonga se Solomone Kata af. Foto: Getty Images
James Lowe stamp Tonga se Solomone Kata af. Foto: Getty Images

Aussie-‘voetbôller' speel uit sy broek uit vir Iere

Mack Hansen is 'n tipiese voorbeeld van 'n flambojante Aussie.

So, byvoorbeeld, het die 25-jarige boorling van die Australiese hoofstad, Canberra, twee weke gelede, ná die Iere se wegholsege van 82-0 oor Roemenië, die veld in net sy onderbroek verlaat.

Hansen het sy rugbyklere ná die wedstryd aan ondersteuners uitgedeel, soveel so dat hy later niks meer oorgehad het nie.

Daarna het hy skertsend opgemerk: "Ons is aangesê om voort­aan ons broeke aan te hou, so ek sal my bes probeer. Sal maar sien hoe ek voel."

Ongeag sy manewales ná die eindfluitjie, is Hansen 'n ongelooflik talentvolle "voetbôller", en het hy, volgens Seán Connochie, sy o. 15-breier by Daramalan College in Canberra, van die staanspoor ongelooflike rugbyvaardighede tentoongestel.

"Ek het vir 'n vriend wat na 'n oefening kom kyk het, gesê: ‘Hou hierdie outjie dop; kyk net wat hy doen'," het Connochie aan The Daily Mail vertel.

"Dit was miskien nie so ooglopend nie, maar hy het daardie Stephen Larkham-manier van dwaal oor die veld gehad, om net die volgende oomblik 'n handvol verdedigers met gemak te klop. Sy besluitneming met die bal in die hand was uitstekend."

In daardie stadium het Hansen, Ierland se regtervleuel, losskakel gespeel, "bloot omdat hy soveel as moontlik die bal in sy hande wou hê".

"Hy het oor daardie uitsonderlike vermoë beskik, soos die meeste spesiale spelers, dat hy homself altyd in die pad van die bal bevind het. Hulle weet presies hoe om betrokke te raak."

Van bankkassier in Auckland tot Ierse drieëvraat

In teenstelling met Hansen is die Auckland-gebore Samoaan Bundee Aki iemand wat verkies om sy praatwerk op die veld te doen. Die frisgeboude binnesenter het voor gisteraand se Bok-toets reeds vier drieë gedruk, 39 keer die bal gedra, 270 m gevorder, sewe keer die lyn oopgekloof en 13 verdedigers geklop.

Aki se naam op sigself bied 'n fassinerende storie.

Sy volle name is Fua Leiofi Bundellu Aki. Die "Bundellu" is 'n eerbetoon aan die dokter wat sy geboorte op 7 April 1990 waargeneem het, en dié is later deur 'n afrigter op skool verkort na "Bundee".

Aki het skoolgegaan aan die Manurewa High School in die suide van Auckland, waar hy boesemvriende was, en steeds is, met die voormalige Chiefs-ster Tim Nanai-Williams.

Aki het egter nie onmiddellik ná skool beroepsrugby begin speel nie. As die tweede oudste van ses kinders, moes hy aanvanklik as 'n kassier in die bank gaan werk om geld vir die familie te verdien.

Hy het plaaslike rugby vir Counties Manukau begin speel, voordat hy in 2013 'n Superrugby-kontrak by die Chiefs aangebied is. Die daaropvolgende jaar het die Samoaanse legende Pat Lam hom betrek by Connacht, wat die daaropvolgende seisoen die Pro12 gewen het.

Drie jaar later het Aki gekwalifiseer om vir Ierland te speel, en sy buiging gevier in die Ierse wegholsege van 38-3 oor die Bokke op 11 November 2017.

Jeugdige artritis kon Lowe nie onderkry

James Lowe, die Iere se ewe kranige linkervleuel, is 31 jaar gelede gebore in Nelson, op die Suid-Eiland van Nieu-Seeland, en het aan Nelson College, die oudste staatshoërskool in All Black-land, skoolgegaan.

Lowe het ook uitgeblink in atletiek en Nieu-Seeland op o. 15-vlak in basketbal verteenwoordig.

Rumatoïede artritis het egter op 14-jarige ouderdom byna 'n einde gebring aan sy sportloopbaan.

James Lowesing saam met Jamison Gibson- Park, Mack Hansen en Bundee Aki Ierse volkslied. Foto: Getty Images
James Lowesing saam met Jamison Gibson- Park, Mack Hansen en Bundee Aki Ierse volkslied. Foto: Getty Images

"Daar was dae dat ek wakker geword het en beswaarlik kon loop, so geswel was my enkels," het hy aan The Irish Times gesê.

Dit het so erg geraak dat hy soms nie 'n mes en vurk kon optel om te eet nie.

"My ouma het artritis in haar hande gehad, maar ek het nooit besef dat dit 'n kind kon oorkom nie. My vriende het nie geweet wat aangaan nie, en bloot gedog ek sit aan. Dit het my geleer dat die lewe dikwels onregverdig is, dat slegte dinge met goeie mense gebeur en dat die belangrikste is hoe 'n mens dit hanteer.

"Fisiek het die artritis my ontsettend geaffekteer, maar ek het geweier dat dit my onderkry."

Ná vele mediese toetse om die oorsaak van sy simptome vas te stel, het dokters uiteindelik op die korrekte medikasie afgekom.

"En, ek het taamlik goed aan die anderkant uitgekom!"

Soveel so dat Lowe, wat voorheen ook vir die Chiefs gespeel het, reeds met 31 toetse en 15 drieë vir Ierland spog.

Die drie wat uitstaan was sy sogenaamde "spookdrie" teen Frankryk in Februarie vanjaar, toe hy op die hoekvlaggie deur die lug geduik het om te druk.

Hy het ook die eerste drie gedruk in Ierland se sege van 29-20 oor die All Blacks in 2021.

"Dit was 'n vreemde ervaring om teen Nieu-Seeland te speel, met soveel vriende van my in die All Black-span wat die dinges uit my wou skop," sê Lowe aan RugbyPass.

Van 'n eiland na Ierland

Die bebaarde skrumskakel Jamison Gibson-Park het van kleins af daarvan gedroom om vir die magtige Crusaders uit te draf.

Hy was skaars agt jaar oud toe die Saders-masjien in 2000 reeds 'n driekuns Superrugby-titels behaal het. Die droom is egter in 2011 verydel met die massiewe aardbewing wat Christchurch getref het. Gibson-Park het uiteindelik die Blues en Hurricanes verteenwoordig voordat hy in 2016 koers gekies het Ierland toe en vir Leinster begin speel het.

Hy het idilliese grootwordjare beleef op Nieu-Seeland se Grootrifeiland, met 800 inwoners.

"Almal ken mekaar op die eiland," het Gibson-Park aan sportsjoe.ie vertel.

"Dit was 'n uiters ontspanne milieu om in groot te word, maar sport het toe reeds 'n vername rol gespeel. Ná skool het ek ure lank buite met 'n bal deurgebring. Daar was natuurlik ook heelwat ander ontspanningsaktiwiteite op die eiland, soos branderplankry, visvang en jag. En ek en my broers het van jongs af geleer skubaduik."

Groot stut met die klein hart speel vir sy ouma

Finlay Bealham is, nes Hansen, in Canberra gebore, op 9 Oktober 1991.

Hy het Ierland toe uitgewyk voordat hy 20 jaar oud was, toe hy nie die Brumbies se akademiespan gehaal het nie.

Die groot langhaar-voorryman kwalifiseer vir Ierland op grond van sy oorlede ouma, wat van die Noord-Ierse dorpie Enniskillen gekom het.

"Ek was baie na aan my ouma, Sadie, en dus is dit 'n enorme eer om haar, asook die res van haar familie, in die WB-arena te verteenwoordig," het Bealham aan The Irish Times gesê.

Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

CTA