ONTHUL: Dis hoekom Wayde nie aflos hardloop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Ou rugbesering wat weer op die Olimpiese Spele opgevlam het, het Wayde van Niekerk daarvan weerhou om 'n rol in Suid-Afrika se aflos-aanslae in Parys te speel.

Wayde van Niekerk Foto: Getty Images
Wayde van Niekerk Foto: Getty Images

Van Niekerk, die wêreldrekordhouer in die 400 m, is met groot fanfare deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) aan dié item op die Spele onttrek en in Luxolo Adams se plek vir die 200 m ingeskryf, met die doel om hom vir die 4x400- én 4x100-aflosse beskikbaar te hê.

Maar toe tree hy nie vir 'n enkele aflos aan nie. "Hy het 'n rugprobleem gehad," sê Paul Gorries, die nasionale aflosafrigter, aan Rapport. "Al die dokters was 50/50 - dalk, dalk nie . . . jy kan nie 'n atleet laat hardloop wat nie seker is dat hy dit gaan maak nie.

"Hy wou hardloop, dit kan ek vir jou definitief sê. Veral die 4x400. In die 4x100 m sou ek hom nie gebruik nie. Toe Benji (Richardson in die 200-uitdunne) seerkry, toe dink ek dalk . . . maar nee, dit het meer gegaan oor die 4x400 vir hom."

Suid-Afrika het hom egter nie veel gemis nie. Die 4x100-span van Bayanda Walaza, Shaun Maswanganyi, Bradley Nkoana en Akani Simbine het silwer gewen in 'n nuwe Afrika-rekordtyd van 37.57. Die 4x400-span (Gardeo Isaacs, Zakithi Nene, Lythe Pillay en Antonie Nortjé) was vyfde in 'n nuwe nasionale rekordtyd van 2:58.12. Dit was 'n beter tyd as die 3:00.75 wat aan hulle silwer besorg het op die Wêreld-afloskampioenskap in die Bahamas in Mei.

Gorries sê hy kan nie vir meer as dít vra nie, veral nie in so 'n vinnige wedloop soos wat die Olimpiese eindronde was nie. "Daardie eerste drie plekke was vinnig: 2:54, 2:54; 2:55 is crazy vinnig."

Volgens Gorries is Van Niekerk (32), wie se Spele met 'n teleurstellende 20.72 in die 200-halfeind geëindig het, altyd gretig om aflosse te hardloop, maar die tyd sal leer of hy weer vir die land sal aantree. Dis onduidelik wanneer hy tot die baan sal terugkeer.

"Dit was nog altyd sy idee, hy wil met aflosse klaarmaak. 'n Mens moet net kyk of sy liggaam hom gaan toelaat. Wayde op 85%, 90% kan steeds vir jou 44 sekondes gee. En wie wil nie dit hê in 'n aflos nie?"

Ons het eindelik die medalje gekry nadat dit so lank so naby maar tog so ver was.

Gorries is ook nog nie seker oor sy eie toekoms nie.

"Ek wag nog vir ASA om te sê wat hul planne met my is. Dit was my visie amper 10 jaar terug om die aflosse weer na die voorgrond te bring. Ek het gebitch en gemoan en vir hulle gesê: Hoor hier, dís waar ons medaljes gaan wen. Die ouens was altyd naby, en dan is dit hier 'n fout, daar 'n fout . . . maar nou kan almal sien hoe daardie aflos-visie gevorder het. Nou is dit 'n vraag, soek jy bestendigheid, of wat soek jy? Dit is ASA se besluit.

"Ek is tevrede. Ons het eindelik die medalje gekry nadat dit so lank so naby maar tog so ver was. Daar is nog báie ruimte vir verbetering. So kom ons kyk maar wat is die planne van die ander ouens."

En wat presies ís "die planne van die ander ouens"?

"Paul se kontrak eindig einde Desember 2024 en die raad sal in November vergader oor sy toekoms," sê James Moloi, ASA-president, aan Rapport.

"Ek is tevrede, maar ek weet nie van die ander raadslede nie. Ons is gelukkig met die vertonings, en ons moet verder in die aflosse belê."

SPELETJIES VANDAG

CTA