
Johan Ackermann gaan die voormalige Springbok-slot Andries Bekker as een van sy hulpafrigters behou.
Die Bulle se nuwe hoofafrigter het die afgelope twee weke gesprekke met sy hulpafrigters gevoer om oor hul rolle te praat en te besluit oor die pad vorentoe.
Aangesien Ackermann self moue wil oprol en tot die afrigting wil bydra, het 'n moeilike besluit op hom gewag om veral oor die toekoms van Bekker, voorspelerafrigter onder Jake White, te besluit.
"Ackers het besluit dat hy gaan hou by die afrigtingspan," sê 'n bron by navraag.
Bekker sal verheug wees dat hy sy kontrak tot minstens Junie 2026 sal uitsien.
Bekker het saam met Chris Rossouw (hulpafrigter), Werner Kruger (hulpafrigter), Jean Tiedt (hulpafrigter), Kennedy Tsimba (hulpafrigter), Phiwe Nomlomo (hulpafrigter), John-William Meyer (tegniese ontleder), dr. Herman Rossouw (spandokter), Lance Lemmetjies, Darryn Berry (fisioterapeute), André Volsteedt (krag en kondisionering), Yusuf Vahed (sportwetenskaplike), dr. Eugene Hare (spanbestuurder) en Simon Dyidi (logistieke bestuurder) in White se bestuurspan gedien.


• Die Haaie is intussen een van die spanne wat in Thomas du Toit se handtekening belangstel.
Die 30-jarige Bok-stut moet binne 'n paar maande besluit of hy sy kontrak met Bath wil verleng. Hy het hom ná die Wêreldbeker-toernooi in 2023 by dié Engelse klubspan aangesluit.

Bath wil Du Toit uiteraard behou, maar sal bekommerd wees oor die belangstelling wat hy van die Haaie en die Franse klubspan Bordeaux geniet.
Du Toit, 'n boorling van die Kaap en oudleerling aan Boishaai, het sy rugby van 2014 tot 2023 by die Haaie gespeel voordat hy na Engeland is. Hy het wel tussendeur korttermynkontrakte met spanne soos Munster en Toulouse gesluit.
"Dis tans als net bespiegeling oor die Haaie se belangstelling in Du Toit," sê 'n bron wat langs die Haaie se vuur sit.
"Enige span ter wêreld sal in Thomas belangstel, aangesien hy van wêreldgehalte is."
RAPPORT PRAAT SPORT














