
Asenathi Ntlabakanye kan moontlik vir hoogstens twee jaar - 2026 én 2027 - uit rugby geskors word.
Dit staan die 26-jarige voorryman intussen vry om nog tot Desember vir die Leeus en die Springbokke te speel, aangesien sy verhoor deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) volgens Rapport se inligting eers dán sal plaasvind.
Ntlabakanye het die keuse gehad om homself nou reeds aan skorsing te onderwerp. Die tyd wat hy dan langs die kantlyn sou deurbring, sou dan afgetrek word van die skorsingstydperk wat in Desember opgelê word. Kundiges het hom afgeraai om dit te doen.
“Hy het tot die einde van die maand om aan te dui of hy ’n verhoor sal aanvra,” sê Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids.
Die Bok-stut en sy verteenwoordigers beplan wel om ’n verhoor aan te vra, anders sal Saids hom kan straf sonder sy en sy span se insette.
Ntlabakanye het middels gebruik wat deur ’n mediese dokter goedgekeur en deur ’n endokrinoloog voorgeskryf is, desondanks sal hy beslis geskors word, verneem Rapport. Dat die middels deur ’n sportdokter goedgekeur is, is versagtende omstandighede en maak ’n vierjaar-skorsing hoogs onwaarskynlik, word verneem.
Die dokter het hom na die endokrinoloog verwys wat bevind het hy het ’n mediese toestand wat verhinder dat hy sy stryd teen die skaal kan wen.
Die verwagting is dat hy net vir ’n jaar of maksimum twee jaar geskors sal word, maar nie vir vier jaar nie, is uit ’n onberispelike bron verneem.

“Hy het niks gedoen wat verkeerd is nie. Die enigste fout wat hy gemaak het, is dat hy nie vooraf die nodige goedkeuring by Saids gekry het om die middels te gebruik nie wat goed gewerk het vir sy mediese toestand wat verhinder dat hy gewig verloor. As hy die nodige goedkeuring gehad het, sou hy nie geskors geword het nie.”
Galant het aan Rapport bevestig sportlui kan om ’n “uitsondering vir terapeutiese gebruik aansoek doen”, maar dat streng voorwaardes geld.
Ntlabakanye was met sy Saids-toetsing so eerlik oor die middels wat hy gebruik het dat hy die hele voorskrif daarvan ingedien het.
Dinsdag het Saids Ntlabakanye formeel aangekla van die gebruik van die sogenaamde niegespesifiseerde middel dehidroëpiandrosteroon (DHEA), wat hy self op ’n mediese vorm verklaar het. Saids het egter geen teken daarvan in sy monster opgespoor nie, verneem Rapport.
Dit is ’n ander middel as die een wat Saids vroeër in sy monster opgespoor het. Daardie middel was ’n sogenaamde gespesifiseerde middel, waarvoor die straf ligter is as wanneer ’n sogenaamde niegespesifiseerde middel gebruik word.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het op 24 Augustus in ’n nuusverklaring na die gespesifiseerde middel verwys. Die beheerliggaam het toe die positiewe toets bevestig van ’n middel wat in Ntlabakanye se stelsel gevind is terwyl hy in Julie in die Bok-kamp was.
Die middels wat deur die endokrinoloog voorgeskryf is, het volgens Rapport se bron goed gewerk. Rassie Erasmus het aangedui dat sy vaskop sowat 20 kg afgeskud het nadat hy 160 kg geweeg het.
Saru het ook vroeër in sy nuusverklaring geskryf die Bok-vaskop het die middels geneem met die goedkeuring en die toesig van ’n mediese dokter wat spesifiek aangestel is om die mediese sake van professionele rugbyspelers te bestuur, en dat hy deursigtig was in sy verklarings.
“Hy het die professionele mediese advies vertrou en het nooit probeer om ’n onregverdig voordeel te verkry nie, en het ook nie enige mediese middel sonder goedkeuring geneem nie.”
Rapport Praat Sport:
100002



















