Maties ontevrede met Matt

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Matt Proudfoot moet heraansoek doen vir sy pos as hoofafrigter van Maties se Varsitybeker-span.

Pieter Bergh, Kabamba Floors, André Tredoux en Alan Zondagh is die ander name op Maties se wenslys vir dié pos, verneem Rapport by drie bronne.

Matt Proudfoot
Matt Proudfoot

Proudfoot het Maties die afgelope seisoen in die Varsitybeker afgerig nadat hy van 2020 tot einde verlede jaar een van Eddie Jones se hulpafrigters van die Engelse rugbyspan was.

Onder Proudfoot het Maties vier van hul sewe ligawedstryde gewen om vierde op die Varsitybeker-puntelys te eindig en in die proses tot die halfeindstryd deur te dring.

Die Maties het egter nooit soos 'n span gespeel wat die Varsitybeker kan wen nie. Proudfoot is daarom deur die Maties se besluitnemers aangesê om weer aansoek te doen vir die pos.

Die een afrigter wat nie vir 'n onderhoud by Maties was het nie, is die Griekwas-breier Bergh.

Sy goeie rekord by Griekwas, wat verlede jaar onder sy afrigting tot die Curriebeker-eindstryd deurgedring het, maak van hom 'n sterk aanspraakmaker.

Al was hy nie vir 'n onderhoud nie, verneem Rapport hy is steeds in berekening. Bergh kan betrek word as die Maties nie tevrede is met hoe die ander vier aanspraakmakers se onderhoude verloop het nie.

Bergh is gelukkig by Griekwas en sal moeilik uit Kimberley trek.

Pieter Bergh, Griekwas-afrigter.
Pieter Bergh, Griekwas-afrigter.

Fourie se kontrak met die Cheetahs maak in Oktober klaar. Hy het destyds uitstekende werk as Maties se hoofafrigter verrig. Hy wou nie die afgelope week iets oor sy toekomsplanne sê nie.

Die Maties se belangstelling in Tredoux verbaas nie.

Hy het met die hulp van afrigters soos Swys de Bruin en Tiaan Liebenberg verseker dat die Shimlas vanjaar tweede op die Varsitybeker-puntelys klaarmaak.

Tredoux doen uitstekende talentwerwing. Hy maak seker dat hy 'n klub of span altyd van onder af bou. Daar is nog 'n jaar van sy kontrak by die Shimlas oor.

Die gewese Springbok-losvoorspeler Floors was al verlede jaar 'n hulpafrigter vir Norman Jordaan, wat destyds by Fourie as die Maties se hoofafrigter oorgeneem het.

Floors is dus vertroud met Maties se strukture.

Hy was ook by die afrigting van die Westelike Provinsie se junior spanne betrokke.

Hawies Fourie, Cheetah-breier.
Hawies Fourie, Cheetah-breier.

Zondagh, die vierde afrigter wat 'n onderhoud met die Maties gehad het, het 'n lang en indrukwekkende rugby-CV.

Hy was tot 2020 nog die Bulle se direkteur van rugby. Voordat hy in 2018 in die posisie by die Bulle aangestel is, was hy ook by spanne soos die WP, OP, Saracens en London Scottish betrokke.

• Nog 'n Varsitybeker-span, die Ixias, wag intussen om van hul hoofafrigter, Melusi Mthethwa, te hoor oor of hy wil aanbly of nie.

Mthethwa het die opsie om De Bruin by die Shimlas te vervang. De Bruin se termyn by die Shimlas het klaargemaak.

Mthethwa was in die Curriebeker-reeks ook een van Bergh se hulpafrigters. Rapport verneem Griekwas is nou eerder op soek na 'n heeltydse hulpafrigter om hulle op die aanval te help.

• Ook die Universiteit van Johannesburg wag om te sien of hul hoofafrigter, Jonathan Mokuena, weer vir volgende seisoen beskikbaar sal wees.

Hy is een van die wat 'n onderhoud met die Leeus gevoer het om Albert van den Berg se opvolger as voorspeler-afrigter te word. Proudfoot is saam met Mokuena op die Leeus se kortlys.

Proudfoot was ook op die Japanse klubspan, Kubota Spears, se kortlys om Frans Ludeke se hulpafrigter te word.

Russell Winter, hulpafrigter van die Bulle, het glo daardie pos gekry. Winter maak dus klaar by die Bulle.

SPELETJIES VANDAG

CTA