Lionel Messi, kaptein van die sokkerspan Inter Miami, sal onbepaald op die kantlyn wees met wat dié MLS-span in 'n verklaring Sondag as 'n "ligte spierbesering in sy regterbeen" beskryf het.
Die 38-jarige Argentynse legende het vroeg in Miami se tuisoorwinning met strafskoppe oor Mexiko se Necaxa in 'n Ligabeker-wedstryd 'n besering aan sy regterbobeen opgedoen.
Hy het in die 11de minuut van die veld af gestap, reguit kleedkamer toe.
Messi het "mediese toetse ondergaan om die omvang van die spierongemak wat hy verduur het, te evalueer" wat hom uit die wedstryd gedwing het, het Inter Miami in sy verklaring gesê.
"Die uitslae het 'n ligte spierbesering in sy regterbeen bevestig. Sy mediese klaring sal afhang van sy kliniese vordering en reaksie op behandeling."
Dit beteken daar is geen aanduiding wanneer die Miami-talisman, wat met 18 doele en 'n rol in nege ander doele in 18 wedstryde die voorste doelskieter in die MLS is, sal terugkeer nie.
Jordi Alba, wat 'n gelykmaker vir Miami in die tweede helfte se beseringstyd aangeteken het om die strafdoelstryd af te dwing wat die gashere met 5-4 gewen het, het gesê Messi se besering vroeg in die wedstryd was " 'n groot hartseer vir die hele span".
Inter Miami het sover 12 oorwinnings, vier nederlae en ses gelykop uitslae behaal vir 42 punte, en lê vyfde in die Oostelike Konferensie, agt punte agter die voorlopers, Philadelphia, met drie wedstryde oor.
Enige langdurige afwesigheid deur Messi sal 'n groot slag vir Miami in die Ligabeker wees, wat Inter in 2023 gewen het net nadat Messi in Suid-Florida aangekom het.
Miami, wat Woensdag gasheer speel vir die Unam Pumas, is met vyf punte tweede op die MLS-punteleer in die Ligabeker-uitklopfase en sal vir 'n kwarteindstryd kwalifiseer as hulle die wedstryd wen.





















