Gras groei nie onder my voete nie.
Só het Carlos Alcaraz, die tweede gekeurde, blykbaar Dinsdagaand gesê toe hy Cameron Norrie in 'n blitsstryd in die kwarteindronde op Wimbledon van die tennisbaan gevee het.
Die verdedigende kampioen was in 1 uur en 39 minute met 6-2, 6-3, 6-3 baas.
Dit was sy beste vertoning nóg in vanjaar se toernooi en staan in teenstelling met Sondagaand se kragmeting met 'n witwarm Andrey Rublev, toe hy die eerste stel verloor het en moes terugveg.
Alcaraz sal Vrydag in die halfeindronde teen die Amerikaner Taylor Fritz te staan kom.
Dié vyfde gekeurde het Dinsdag 'n terugvegpoging deur die Rus Karen Khachanov afgeweer om met 6-3, 6-4, 1-6, 7-6(7/4) te seëvier. Die wedstryd het 2 uur en 36 minute geduur.
Dit sal Fritz se eerste verskyning in die halfeindronde op Wimbledon wees.
Die 22-jarige Spanjaard mik na sy derde Wimbledon-titel in 'n ry.
Die eerste stel teen Norrie was 'n blitzkrieg wat in 28 minute verbygeflits het voordat die Brit homself kon ingrawe.
Alcaraz was ewe haastig in die tweede stel. In die derde stel het Norrie ietwat weerstand gebied en een wedstrydpunt afgeweer, maar die Spaanse superster het gou daarna die uitklophou geplant.
Alcaraz het gesê hy gaan voor sy halfeindstryd 'n blaaskans neem en saam met sy span gholf speel.
Hy is op 'n goue lopie van 23 seges in 'n ry sedert hy in April vanjaar in die eindstryd van die Barcelona-Ope teen Holger Rune verloor het.
Hy het daarna die titels in die Franse Ope, die Italiaanse Ope en die Monte Carlo-meesterstoernooi gewen.
Jannik Sinner, die eerste gekeurde, sal Woensdag in die kwarteindronde teen die 10de gekeurde Ben Shelton van Amerika te staan kom.
Novak Djokovic, die sesde gekeurde, smeer hom vet vir 'n stryd teen die Italianer Flavio Cobolli, die 22ste gekeurde.
Die 38-jarige Serwiër is 'n sewemalige kampioen in die Grand Slam-toernooi op gras. Hy het in die laaste twee Wimbledon-eindstryde teen Alcaraz vasgeval.
• Dinsdag in die eerste ronde van die rolstoel-afdeling het Suid-Afrika se Kgothatso Montjane met 7-6(7/2), 6-2 met die Brit Cornelia Oosthuizen afgereken. Oosthuizen is 'n voormalige Suid-Afrikaner.




















