Handré moet soos Morné maak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Springbok-losskakel Handré Pollard se skopstewel en ervaring kan in die pylvak van Sondagaand se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk goud werd wees. Foto: Getty Images
Die Springbok-losskakel Handré Pollard se skopstewel en ervaring kan in die pylvak van Sondagaand se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk goud werd wees. Foto: Getty Images

Handré Pollard moet die sakkie toeknoop soos Morné Steyn teen die Britse en Ierse Leeus gedoen het as die Springbokke dit van hom verwag in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk in die Paryse voorstad Saint-Denis.

Die 39-jarige Steyn was op 7 Augustus 2021 deel van 'n 5/3-plaasvervangersbank in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus in die Kaap. Hy het twee strafdoele oorgeskop, waarvan sy laaste een die beslissende een in die oorwinning van 19-16 was.

"Ons het met 'n 5/3-bank in daardie toets gespeel waarin Morné vir ons die belangrike strafdoel behaal het om die reeks (2-1) vir ons te wen," het Jacques Nienaber, die Springbok-hoofafrigter, Vrydag by die spanaankondiging gesê.

"Ons het dus al voorheen in groot wedstryde 'n 5/3-bank gekies. Mense sien dit (die 5/3-bank) dalk as vreemd omdat ons dit nie gereeld doen nie.

"Baie mense fokus seker op ons bank aangesien ons soms daarmee rondspeel om 'n 7/1-, 6/2- of 'n 5/3-verdeling te kies.

"Ons het gekyk na wie die beste 23-tal is om teen Frankryk te speel en dít het bepaal watter verdeling ons op die bank kies.

"Ons voel teen Frankryk is die 5/3-bank die beste vir ons. Ons verloor nie ons identiteit deur 'n 5/3-bank te kies nie."

Morné Steyn het in 2021 'n reekssege vir die Bokke oor die Britse en Ierse Leeus beklink met sy akkurate skopwerk. Foto: Gallo Images
Morné Steyn het in 2021 'n reekssege vir die Bokke oor die Britse en Ierse Leeus beklink met sy akkurate skopwerk. Foto: Gallo Images

Nienaber het op die nuuskonferensie by Roland Garros ook verduidelik waarom hulle Manie Libbok as die eerstekeuse-losskakel gekies het en Pollard op die bank.

"As Handré nie so lank beseer was nie, sou die span waarskynlik anders gelyk het. Hy is 'n speler van gehalte," sê die Bok-hoofafrigter.

"Sy besering is die belangrikste rede waarom ons nie die skakelpaar (Pollard en Faf de Klerk) in die beginspan gekies het wat vir ons die Wêreldbeker-eindstryd in 2019 gewen het nie.

"Die punteverskil vir ons wanneer Manie op losskakel begin, is iets soos vier drieë teenoor een (in SA se guns). Ons behaal dus punte met Manie op tien.

"Ons het 'n spesifieke span gekies wat ons meen teen Frankryk moet speel."

Die Bokke het met die 26-jarige Libbok op losskakel in die beginspan sover ses uit sewe toetse gewen. Hy speel Sondag in sy 13de toets.

Hy en Cobus Reinach vorm in die Stade de France, wat aan 80 023 toeskouers sitplek bied, vir 'n derde keer die Bok-skakelpaar.

Die 29-jarige Pollard speel in sy 67ste toets. Hy en De Klerk het al 24 toetse se ervaring as 'n skakelpaar.

"As jy na 'n ou soos Cobus kyk, speel hy uitsonderlike rugby en Faf ook," sê Nienaber.

"Dis dieselfde met Manie.

Die Bok-afrigtingspan het Vrydag verras met Cobus Reinach se insluiting in die beginspan vir die stryd teen Frankryk. Foto: Gallo Images
Die Bok-afrigtingspan het Vrydag verras met Cobus Reinach se insluiting in die beginspan vir die stryd teen Frankryk. Foto: Gallo Images

"Manie is seker ons losskakel met die voorste peil. Ons het vanjaar net een wedstryd, teen Ierland, verloor toe hy op nr. 10 begin het."

Nienaber-hulle se besluit om Pollard, Duane Vermeulen en Willie le Roux in die 23-tal te kies beklemtoon hoeveel waarde Suid-Afrika aan ervaring heg in 'n kwarteindronde waar minstens 60 000 van die verwagte 80 000 toeskouers in die Stade de France fanatiese Franse ondersteuners sal wees.

Nienaber en Rassie Erasmus het die mees ervare begin-agttal nog vir die Bokke gekies. Die agt voorspelers in die opdrafspan het gesamentlik al in 623 toetse gespeel.

• Klik hier vir al die bepalings en uitslae van die WB-toernooi

Suid-Afrika se beginspan met sy gesamentlike 880 toetse, is die een met die tweede meeste ervaring in sy geskiedenis.

Die mees ervare Bok-beginspan met 891 toetse was 2015 s'n wat teen Samoa in 'n WB-groepwedstryd in Engeland gespeel het. Le Roux, Damian de Allende, Pollard, Vermeulen en Eben Etzebeth was destyds in die beginspan teen Samoa, terwyl Frans Malherbe, Siya Kolisi en Jesse Kriel op die bank was.

Aangesien ervaring gaan tel in 'n drukkoker soos Sondag s'n, is Vermeulen, Le Roux en Pollard in die 23-tal ingesluit nadat nie een van hulle in die groepwedstryd teen Ierland betrokke was nie.

"Vir hierdie spesifieke wedstryd voel ons Duane is die ou wat ons nodig gaan hê, maar dit beteken nie Jasper Wiese sal nie in die halfeindronde speel nie. Dit (spankeuse) is gebaseer op wat ons voel ons nodig het om Sondag 'n oorwinning te behaal," sê Nienaber.

"Lukhanyo Am het weens sy kniebesering lanklaas gespeel, maar hy lyk goed in die oefeninge. Dit is dieselfde as met Jasper, daar is geen rede waarom hulle dalk nie vir 'n halfeindstryd gekies sal word nie."

Die Bokke glo hulle het 'n span gekies wat Suid-Afrika se sterkpunte kan beklemtoon en die enkele swakpunte van Frankryk kan blootlê.

• LUISTER | Rapport Praat Sport: Franse verrassings en Protea-perfeksie

Een ding wat 'n bietjie anders is van die Franse, is hul skopspel.

"Hulle maak geen geheim daarvan nie dat hulle verkies om nie met die bal te speel nie," sê Nienaber.

"Hulle plaas jou onder druk, probeer jou smoor en dwing jou om foute te maak, wat 'n baie goeie verdedigingstelsel van Shaun (Edwards) is.

"Jy moet dus strategieë daaroor vind en ons moes dit aanspreek met ons spankeuse. Frankryk is 'n afgeronde span wat spanne onder druk plaas en nie opgee nie, hulle speel vir 80 minute."

Frankryk: Thomas Ramos, Damian Penaud, Gaël Fickou, Jonathan Danty, Louis Bielle-Biarrey, Matthieu Jalibert, Antoine Dupont (k), Grégory Alldritt, Charles Ollivon, Anthony Jelonch, Thibaud Flament, Cameron Woki, Uini Atonio, Peato Mauvaka, Cyril Baille.PLAASVERVANGERS: Pierre Bourgarit, Reda Wardi, Dorian Aldegheri, Romain Taofifénua, Francois Cros, Sekou Macalou, Maxime Lucu, Yoram Moefana.

Suid-Afrika: Damian Willemse (36 toetse), Kurt-Lee Arendse (12), Jesse Kriel (65), Damian de Allende (75), Cheslin Kolbe (28), Manie Libbok (12), Cobus Reinach (29), Duane Vermeulen (73), Pieter-Steph du Toit (73), Siya Kolisi (80, k), Franco Mostert (70), Eben Etzebeth (116), Frans Malherbe (66), Bongi Mbonambi (65), Steven Kitshoff (80). PLAASVERVANGERS: Deon Fourie (10), Ox Nche (25), Vincent Koch (47), RG Snyman (31), Kwagga Smith (37), Faf de Klerk (52), Handré Pollard (67), Willie le Roux (90).

Skeidsregter: Ben O'Keeffe (Nieu-Seeland).

Assistent-skeidsregters: Paul Williams (Nieu-Seeland), James Doleman (Nieu-Seeland).

TV-skeidsregter: Brendon Pickerill (Nieu-Seeland).

Afskop: Sondag 21:00; regstreeks op SS 201, 211 en SABC3.

SPELETJIES VANDAG

CTA