Pollie ons gaan eindstryd toe . . .

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Handré Pollard korrel pale toe in die WB-halfeindstryd teen Engeland in die Stade de France. Foto: Reuters
Handré Pollard korrel pale toe in die WB-halfeindstryd teen Engeland in die Stade de France. Foto: Reuters

"Al van kleintyd af droom jy oor hierdie oomblikke."

So beskryf Handré Pollard sy beslissende strafdoel wat die Springbokke se oorwinning van 16-15 oor Engeland beklink het in Saterdagaand se Wêreldbeker-halfeindronde in die Stade de France.

"Nee, ek het nie ys in my are nie," skerts die 29-jarige plaasvervanger-losskakel.

"Ek geniet sulke oomblikke. Dis 'n voorreg om dit op 'n groot verhoog te doen. Dit sal nie altyd uitwerk nie, maar jy probeer altyd jou bes."

Hy het goed gevoel met die strafdoel.

"Ek het vooraf gedink dit kan op 'n strafskop neerkom. Die skrum was massief vir ons waarin ons 'n strafskop gewen het.

"Ons skrum het ons gered, ja, beslis die skrum.

"Die wind was met my strafdoel van agter na die linkerhoek van die veld wat so 'n bietjie gehelp het.

"Die wind het nie soveel gedoen nie. Omdat dit die hele aand gereën het, het die speeloppervlak glad geraak wat dit soms bemoeilik om die bal perfek te tref."

Vier jaar gelede in Jokohama moes die einste Pollard ook die bepalende strafdoel in die WB-halfeindronde teen Wallis waarneem om 'n oorwinning van 19-16 te beklink. Pollard het teen Wallis vier strafdoele en 'n doelskop behaal.

"Ek het nie Saterdag teen Engeland aan daardie skop van vier jaar gelede gedink nie," sê hy.

"Jy is so in die oomblik met die beslissende strafdoel, jy dink nie daaraan nie.

"Dis presies wat jy dan probeer doen om in die oomblik te bly. Min het deur my kop geflits.

"Ek het geweet dit is my werk. Gelukkig het ek dit oorgeskop."

Handré Pollard het reeds in die eerste helfte vir Manie Libbok vervang. Foto: Gallo Images
Handré Pollard het reeds in die eerste helfte vir Manie Libbok vervang. Foto: Gallo Images

Pollard is weens die nat speeltoestande wat nie hardlooprugby bevorder het nie, al in die 31ste minuut as plaasvervanger vir Manie Libbok opgestuur.

"Ek het glad nie verwag om toe al op te kom nie. Ek het nog gesit en ontspan, toe moes ek opgaan. Dit gebeur. Ek was reg."

Voor die beslissende strafdoel het Pollard 'n belangrike kantlynskop vanaf 'n strafskop ingekry wat tot RG Snyman se drie gelei het.

"Ek het die strafdoel uiteraard meer geniet," sê Pollard met 'n breë glimlag.

"Die skop na die kantlyn het ons natuurlik gehelp om nader te kom.

"Ons het werklik gesukkel om in hul kwartgebied te kom aangesien Engeland so goed en klinies was.

"Hulle was regtig baie goed in die lug. Ons moes iets anders probeer. Gelukkig kon ons met tye druk op hulle plaas met die bal in die hand, maar dit was verskriklik moeilik in die speeltoestande."

Kwagga Smith en RG Snyman ná die Springbokke se oorwinning oor die Rose. Foto: Getty Images
Kwagga Smith en RG Snyman ná die Springbokke se oorwinning oor die Rose. Foto: Getty Images

Pollard sal in Saterdag se eindronde teen die All Blacks in die Stade de France in sy 68ste toets speel sedert hy op 28 Junie 2014 sy toetsbuiging teen Skotland in die Baai gemaak het.

Speeltoestande in die eindstryd kan bepaal of hy of Libbok in die beginspan is.

"Ons en die All Blacks ken mekaar goed," sê Pollard.

"Daar is positiewe en negatiewe aspekte daaraan om mekaar goed te ken. Dit gaan 'n baie interessante eindstryd wees.

"Ons sal met goeie planne moet kom, want die All Blacks is aan die brand op die oomblik.

"Hulle het 'n plofbare speelstyl en straf spanne van enige plek op die veld. Ons sal ons huiswerk goed moet doen."

Die 26-jarige Libbok het agterna die oorwinning as 'n uitmuntende spanpoging beskryf.

"Ek is net verheug oor wat die ouens Saterdagaand gedoen het," sê Libbok.

"Dit was iets besonders. Ek is net trots op die ouens om tot die einde daarin te bly.

"Ek is verheug vir die ouens wat van die bank af kom en die tempo van die spel lig."

Die speeltoestande was moeilik aangesien dit voor die afskoptyd gereën het en tydens die halfeindronde self.

"Die bal was daarom baie glad," sê Libbok.

"Ons sal nou na die halfeind kyk en besluit waarop ons kan verbeter."

• Hendrik Cronjé doen uit Frankryk vir Netwerk24 verslag oor die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog.

Hendrik Cronjé in Parys

SPELETJIES VANDAG

CTA