2 ‘eindstryde’ wag nou op Banyana

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Banyana Banyans se Bongeka Gamede word gestuit deur Kosovare Asllani van Swede. Foto: Getty Images
Banyana Banyans se Bongeka Gamede word gestuit deur Kosovare Asllani van Swede. Foto: Getty Images

Suid-Afrika sal sy volgende twee Groep B-wedstryde - teen Argentinië (28 Julie) en Italië (2 Augustus) - as "eindstryde" benader in 'n poging om die uitklopronde op die Wêreldbeker-toernooi vir vroue in Nieu-Seeland en Australië te haal.

Desiree Ellis, afrigter van Banyana Banyana, het reeds voor die eerste stryd, wat Suid-Afrika Sondag in Wellington met 1-2 teen Swede verloor het, gesê dié kragmeting sal bepaal hoe die res van die toernooi benader word.

"Enige span wat sy eerste wedstryd verloor, sal onder geweldige druk wees. Die volgende twee kragmetings word dan eindstryde, wat eenvoudig gewen moet word. Ons was al voorheen in sulke posisies en weet wat verwag word," het Ellis gesê.

Die SA afrigter was tevrede met die veggees en verdedigingsvermoëns van haar span in die verloorstryd teen Swede, maar sal nou moet seker maak dat Banyana Banyana se aanvalswapens ten volle benut word.

Hildah Magaia, wat Suid-Afrika se doel teen Swede aangeteken het, maar die veld met 'n besering verlaat het, behoort gereed te wees vir Vrydag se stryd teen Argentinië.

Selfs voor die toernooi was daar uit die Banyana-kamp geluide dat hulle Argentinië gaan teiken vir 'n moontlike drie punte. Waar Swede en Italië onderskeidelik derde en 16de op die wêreldranglys is, is Argentinië in die 28ste plek en Suid-Afrika is 54ste.

En nadat al die spanne reeds een wedstryd gespeel het, is dit duidelik dat dié Suid-Amerikaanse span Banyana Banyana se beste hoop op maksimum punte gaan wees.

Argentinië het in sy eerste groepwedstryd teen Italië vasgeval en is soos Suid-Afrika nog sonder punte op die groeptabel.

Banyana Banyana se kaptein, Refiloe Jane. Foto: Gallo Images
Banyana Banyana se kaptein, Refiloe Jane. Foto: Gallo Images

Die Argentyne hou daarvan om aan te val en is nie so georganiseerd soos die twee Europese spanne wat in die groep is nie. Hulle het ook nie sulke groot, fisieke spelers soos Swede en Italië nie en dit sal ook in die SA span se guns tel.

Teen Swede het Suid-Afrika gesukkel om die lenige aanvallers in toom te hou. Daar kan met sekerheid gesê word dat Italië dieselfde taktiek gaan gebruik in 'n poging om Ellis se span baas te raak.

Intussen het Suid-Afrika se kaptein, Refiloe Jane, gesê die span is gereed om ná die nederlaag teen Swede weer op te staan teen Argentinië.

"Daar is altyd kans om dinge reg te stel en dit is wat ons in ons volgende wedstryd wil doen."

Swede moet as gunsteling beskou word om die topposisie in Groep G in te neem, so daar sal uit 'n Suid-Afrikaanse oogpunt met groot belangstelling dopgehou word wat Saterdag in dié span se stryd teen Italië gebeur.

Maar, eenvoudig gestel, moet Suid-Afrika sy oorblywende wedstryde wen om in die prentjie te bly.

Woensdag se wedstryde is: 07:00: Dunedin: GroepC: Japan t. Costa Rica; 09:30: Auckland: Spanje t. Zambië; 14:00: Perth: GroepB: Kanada t. Ierland.

SPELETJIES VANDAG

CTA