Ná meer as 54 jaar het die laaste gedrukte uitgawe van Rapport op 22 Desember verskyn. Al is die era van Rapport op papier nou verby, is dit ons hoop om die essensie van jou geliefde Sondagkoerant te behou in ons nuwe, volledig digitale formaat op Netwerk24.
Ons sal op 12 Januarie terug wees op ons pos hier op Netwerk24, waar Sondae soos altyd Rapport-dag bly.
Rapport was nog altyd 'n koerant met 'n groot hart, en dít bly onveranderd. Ons wil toonaangewend bly, altyd dapper en bereid om grense oor te steek wanneer dit nodig is, maar nooit nét ernstig nie.
Rapport staan in die eerste plek in diens van jou, ons leser. Ons is dankbaar dat ons langer as vyf dekades deel kon bly van jou gemeenskap en ons wil nooit ongeërg raak oor dié voorreg nie.
Daar is iets vir almal op Netwerk24, en op Rapport se eie tuisblad sal jy steeds jou koerant rustig deur die loop van die week kan deurlees. Wat ons inhoud betref, gaan ons hou by die waarmerk van 'n koerant: artikels fyn gekuur en geskaaf vir 'n genoeglike leeservaring.
Klik op "Vind alles" op Netwerk se app en dan op Rapport se blokkie, of gaan na www.netwerk24.com/rapport om Rapport se tuisblad te kry.
Benewens nuus- en sportberigte en ondersoeke deur dieselfde redaksie wie se werk jy ken, sal ons ook toenemend multimedia gebruik om stories ten beste te vertel. Ons werk aan nuwe podsendings om te voeg by die reeds gewilde Rapport Praat Sport en Politieke Rapport, en ook aan nuwe videostories. Die gebruiklike debat- en meningstukke, rubrieke en ook Rapport se brieweblad sal steeds daar wees.
Gaan kyk solank na ons jongste video-dokkie, 'n agter-die-skerms-kyk na hoe Rapport se redaksie hierdie laaste uitgawe van die papierkoerant die afgelope week saamgestel het.
Vergeleke met die koerantwese is die digitalenuus-omgewing nog in sy kinderskoene, maar dinge ontwikkel vinnig - en Rapport se redaksie spits ons daarop toe om ons lesers ten beste op digitale platforms te dien. Laat weet ons gerus waar jy reken ons iets nóg beter kan doen.
Die verlies is groot. Daar sal waarskynlik nooit weer 'n Afrikaanse koerant vir die hele land in Suid-Afrika gedruk word nie. Maar Rapport bly verbind daartoe om die gesprek voor te sit, net soos ons stigters gehoop het.
En daarmee groet ons en wens jou seën en vrede toe in die feestyd.
- inge@media24.com




















