Ian Oertel, Alberton, skryf:
Ek verwys na etlike onlangse briewe oor mense wat geld verloor het deur bankslenters.
Ek is tot my spyt en skaamte met so ’n slenter gevang deur iemand wat my afslagkaartjies op Qatar Airways aangebied het as ek net ’n app aflaai. In dié tyd het ek meer as R300 000 verloor.
Ek besef ek het myself laat beroof. My bank het my laat weet dat nadat hulle die saak ondersoek het, hulle bevind het dat ek aandadig was aan die proses en dat hulle nie vir my die gesteelde geld sal terugbetaal nie.
Ek het hulle geantwoord dat dit duidelik is hulle het net ondersoek hoe hulle hulself kan verontskuldig, maar nie hoe dit gebeur het dat hul bedrogafdeling geen poging aangewend het om die proses te stop nie.
Die rede waarom ek dit gesê het, is omdat ek ’n week tevore ’n EFT van R47 000 aan ’n motorhandelaar gemaak het.
Die bedrogafdeling het die betaling gestop (en in die proses al my rekeninge, ook my kredietkaart gevries), want hulle het toe bedrog vermoed.
Wonderlik! Maar dieselfde bedrogafdeling kon nie agterkom dat toe ek van R300 000 beroof is en betalings van R25 000 wat in minder as ’n uur inbetaal word in ’n rekening van ’n ander bank, bedrog is nie?
Ek vermoed die bankamptenare wat aan diens was, was kop in een mus met die swendelaars. Ek is bereid om by my standpunt te staan al sou die bank my vir laster dagvaar.




















