Lesers sê

Bankbedrog: Hulp, bystand ook weg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
x
x (x)

Riaan du Plessis, Strand, skryf:

Ek wil graag aansluit by Ronnie Grace (“Banke dra nie klant-belange op hart”, 30.09) en ander.

’n Paar weke gelede ontvang ek ’n faktuur vir R60 000 van my bouer. Ek betaal te goeder trou per EFT en stuur ’n betalings­advies per selfoon aan hom.

Die bouer bel my die volgende dag en lig my in dat die bankbesonderhede op die betalingsadvies nie korrek is nie. Dit blyk toe dis ’n ander bank en rekeningnommer op die faktuur.

Dieselfde dag ontvang ek nog twee fakture vir nog groter bedrae van ander verskaffers. Ek bel hulle toe om die bankbesonderhede te bevestig. Nodeloos om te sê, is die bankbesonderhede ook verander.

Die fakture is absoluut oorspronklik, met logo’s en al, maar net die bankbesonderhede verskil. Daar was drie banke met verskillende rekeningnommers.

Ek het die saak by die polisie aangemeld en die nodige saaknommer en al die fiktiewe fakture aan my bank se bedrogafdeling gestuur met ’n verduideliking van wat gebeur het.

Die bank het ’n outomatiese erkenning van ontvangs gestuur en aangedui dat ’n deskundige my binnekort sou kontak.

Ná talle telefoonoproepe, boodskappe en e-pos het ek ná drie weke nog geen terugvoering gekry nie, behalwe ’n nuwe saaknommer elke keer wanneer ek dit opvolg of nog inligting stuur.

Ek het intussen van verskeie ander mense gehoor wat dieselfde ondervinding gehad het – en soos ek ook geen bystand van hul banke ontvang het nie.

Ek het ook vergeefs probeer om my e-posadres by Telkom, my diensverskaffer, te verander, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. Waar is die ou dae toe dienslewering nog bestaan het?

lesersbrief

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM