BRIEF | Dié kaptein geweeg en te wit bevind

Izak Smalman, Bailliepark, skryf:

Die diskriminasie in die polisie onder die dekmantel van transformasie, duur steeds voort.

Daar word gereeld geskuil agter die term “gelyke indiensneming”, wat eintlik maar net ’n sagter woord is vir raskwotas, met wit lede wat gewoonlik aan die korste ent trek.

In die jongste geval het kapt. Natasha Steyn van die Valke in Secunda haar tot die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gewend omdat sy vir bevordering oor die hoof gesien is (“Valke-kaptein kry nie bevordering ‘weens velkleur’, nou moet polisie opdok”, Netwerk24, 26.08).

Toe Steyn in 2024 vir die pos as luitenant-kolonel by die Valke in Mpumalanga aansoek gedoen het, was sy die topkandidaat.

Tydens die onderhoudsproses het sy met 82,66% die hoogste punt van al die kandidate behaal, waarna die provinsiale paneel vir die Valke haar eenparig vir die pos aanbeveel het.

Haar naaste mededinger, lt.kol. M. Hlalele, het 71% behaal, maar is in die pos aangestel, ongeag die aanbeveling dat Steyn aangestel moes word. Die rede wat die polisie hiervoor aangevoer het, was luidens die berig oorwegings wat met nasionale vereistes vir gelyke indiensneming verband hou.

Hierdie onbillike behandeling van Steyn in haar strewe na bevordering, bewys weer eens dat ras en velkleur in die polisie hoër aangeslaan word as doeltreffendheid en verdienste.

Ons kan legio redes aanvoer waarom die polisie as ondoeltreffend beskou en deur die publiek wantrou word, maar diskriminasie op grond van ras en kleur is een van die vernaamste redes vir die lae moraal van die lede.

Daar is lede in die polisiediens wat al meer as 20 jaar in dieselfde groef moet voortploeter sonder die vooruitsig op bevordering. Wat is daar vir hulle om na uit te sien wanneer hulle vir diens aanmeld? Die enigste ligpunt vir hulle is wanneer die einde van hul skof aanbreek.

Ek moet meld dat in die geval van Steyn, sy met ’n jaar se salaris deur die KBVA vergoed is, maar steeds nie bevorder is nie. Sy moet dus met die troosprys tevrede wees.

En ja, die Valke het 1 500 vakante ondersoekposte, maar ondersoekers van Steyn se kaliber word nie goed genoeg geag om van hierdie poste te vul nie.

Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA