Koos van die Waterberge skryf:
Prof. Jonathan Jansen se onlangse uitlatings in ’n toespraak by die Hoërskool Stellenberg (“Prof. Jansen gekap ná matriekpraatjie”, 24.01) getuig allesbehalwe van opmerkings komende van ’n deurleefde en gesoute opvoedkundige akademikus.
Inteendeel, sy opmerkings was disrespekvol, onsensitief en getuig van ’n kleinlike bitsigheid.
Dit is ’n soortgelyke bitsigheid wat Jansen openbaar het by die Protea-boekwinkel op Stellenbosch in 2019 toe hy Louise Swanepoel op ’n sarkastiese wyse probeer verneder het.
Daaropvolgend het hy sy optrede met ’n flou “verduideliking” as ’n voorbeeld van “taalonverdraagsaamheid” verdedig.
’n Mens kan nie anders nie as om vrae om Jansen se ingesteldheid te vra nie. Is hier dalk tekens van boeliegedrag en persoonlike “onsekerhede” wat nooit te bowe gekom is nie?
Ons is tog so geneig om die hoë bome in die akademiese wêreld op trone te plaas sonder om in ag te neem dat sulke mense ook deur persoonlike tekortkominge begrens word.
Jansen se uitsprake is werklik tragies in die lig van sy akademiese statuur in die opvoedkunde en dat hy selfs as rektor van die Universiteit van die Vrystaat diens gedoen het.
Die bewys van ware menslike grootsheid lê in volgehoue innerlike groei en die oorbrugging van inherente persoonlike beperkings, tekortkominge en kompleksiteite.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
















