BRIEF | Eindstreep by Comrades stel teleur

Gerda Steyn.
Gerda Steyn. (Foto: Gallo Images )

Elmaree van der Merwe, Kleinbron

Die grootste teleurstelling van die Comrades-marathon was by die eindstreep. Baie min mense kon hul geliefdes sien klaarmaak, want daar is bykans geen voorsiening vir ondersteuners gemaak nie, net een klein paviljoen, wat oorvol was.

Daar was groot spasies vir BBP’s, maar die ironie was dat die BBP’s vroeg al klaarmaak en die BBP-spasies heeltemal leeg was toe die groter groepe begin inkom. Maar wagte het gekeer dat die spasie benut kon word.

By die eindstreep was slegs mense wat gewerk het, en dan het hul nog die eindstreep toegestaan. Die baan was ook toegepak met skeepshouers. Waarvoor dit gebruik is, weet ek nie.

’n Groot biertent was lekker, maar daar was geen kosstalletjies. Dit is baie sleg beplan.

Ons kon ook eers die atlete sien nadat hul hul medaljes ontvang het en hul pad moes oop beur tussen duisende toeskouers deur by drie uitgangspunte.

Om ná 85,7 km so verwelkom te word was voorwaar ’n groot teleurstelling. My hart wou breek toe duisende atlete gedaan en voetseer hul geliefdes moes probeer vind, want selfoonseine was baie swak en die Comrades-app het by tye nie gewerk nie.

Ek het my dogter belowe ek sien haar by die eindstreep. Nadat ons haar in 2016, op 16-jarige ouderdom, amper aan die dood afgestaan het as gevolg van ’n baie rare bloedsiekte, het sy ’n besluit geneem dat as sy ooit weer kan loop, sal sy die Comrades hardloop tot eer van God.

En sy het dit gedoen, 10 jaar nadat sy weke in die hoësorg was en dokters haar aan die lewe gehou het met bloedoortappings, plasmaruilings en bloedplaatjies tot ’n wonderwerk van God haar lewe gered het.

Soveel groter was die teleurstelling dus dat ek nie my kind kon sien klaarmaak nie.

Ná die wedloop moes die atlete ook kilometers loop om net by hul motors te kom. Seker kan daar bussies gereël word. Mag die 100ste Comrades beter wees.

Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA